Breaking News

Kia se Picanto word ‘n paneelwa

Kia het pas sy Picanto-reeks uitgebrei met die toevoeging van die Runner, ‘n paneelwa wat op die 1,0 Start-gebaseer is.

Die Runner kombineer al die kenmerke wat die Picanto so gewild gemaak het, met ‘n groot laai-ruimte en ‘n net agter die voorsitplekke wat die vrag beskerm.  Die Runner is spesifiek ontwikkel vir ondernemings wat nie die laaivermoë van groter voertuie nodig het nie maar tog stedelike aflewerings op ‘n meer koste-doeltreffende manier moet uitvoer. 

Volgens Stephen Crosse, die verkoops-direkteur van Kia Suid-Afrika, is daar ‘n toenemende vraag na kompakte aflewerings-voertuie wat goedere op ‘n goedkoper en meer praktiese manier kan vervoer, veral nadat COVID 19 die vraag na e-handel laat toeneem het. Die Picanto is die perfekte grondslag vir so ‘n voertuig, as gevolg van sy brandstof-doeltreffendheid, lae onderhouds-kostes en veiligheids-kenmerke.

Die Runner doen weg met die agterste banksitplek waarmee die res van die reeks toegerus word. Daar is ‘n stewige net agter die sitplekke om die vrag te beskerm terwyl die agtervensters gelamineer is om te sorg dat die vrag wat vervoer word, veilig en buite sig is. Daar is oom ‘n keuse om die onderneming se logo op die motor aan te bring, of om die hele motor in die maatskappy se kleure te laat verf. Die Runner se kompakte afmetings beteken dat dit goedkoper gedoen kan word as met groter voertuie.

Dieselfde enjin en ratkas as dié van die Start word vir die Runner gebruik. Dit beteken dat daar  ‘n een-liter enjin met drie silinders onder die Runner se enjin kap is. Hierdie enjin lewer 49 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 95 Nm teen 3 750 opm. Die Runner het ‘n vyfgang-handratkas as standaard toerusting. 

Hoewel die Start die intreemodel in die Picanto-reeks is, is veiligheids kenmerke soos ‘n veelfunksie-stuurwiel, Bluetooth-verbinding en USB- en AUX-kragpunte, asook ‘n radio met RDS en ‘n MP 3-speler en lugversorging standaard toerusting.

Die Picanto Runner word nie net gerugsteun deur dieselfde vyf jaar waarborg, ongeag die motor se kilometer afstand, en diensplan van twee jaar of 30 000 km nie, maar omdat die Runner as ‘n voertuig wat vir werks-doeleindes gebruik word, word hy ook gedek deur Kia se korporatiewe vlootsorgpakket.  Dit gee die eienaar toegang tot Kia se eenuur-snelversiening, hoflikheids-motorverhuring, premium-padbystand, hulp met ‘n pap battery en ‘n pap band, noodaflewering van brandstof en meganiese bystand, om net ‘n paar voordele te noem. 

Die Kia Picanto Runner se prys is R 198 995 en is op bestelling by Kia-handelaars beskikbaar.

%d bloggers like this: