Kia se Rio opgeknap

0 Comments

Kia Motors het pas sy opgeknapte Rio-reeks vir die 2021-modeljaar in Suid-Afrika bekendgestel.

Die huidige geslag Rio is al sedert 2017 in Suid-Afrika op die mark, maar die nuwe reeks is nie net uitgebrei nie; daar is ook meer standaard kenmerke vir die meeste modelle. Die buitestilering van die nuwe reeks verskil nie veel nie, maar die kenmerkende rooster is kleiner as voorheen, terwyl die nuwe voorstamper laer en breër vertoon en die omhulsels vir die misligte herontwerp is. Nuwe metaal-skakerings van grys en blou is ook by die reeks kleure gevoeg.

Daar is ‘n paar veranderinge aan die binnekant, en die raakskerm is van sewe na agt duim vergroot, terwyl Android Auto en Apple Car Play bygevoeg is en USB, AUX en 12 volt-kragpunte maak dat alle mobiele toestelle gelaai kan word. Die hele reeks het ook ‘n veelfunksie-stuurwiel en Bluetooth-verbinding as standaard toerusting.

Kia het besluit om die enjin reeks onveranderd te hou. Die intreemodel, die 1,2 LS, word steeds toegerus met ‘n 1,2 liter-enjin met vier silinders wat 61 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 120 Nm teen 4 000 opm. Hierdie enjin is net met ‘n handratkas met vyf gange beskikbaar. Die res van die reeks word aangedryf deur ‘n 1,4 liter-enjin wat 74 kW teen 6 300 opm en wringkrag van 135 Nm teen 4 200 opm lewer en die keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas met ses gange bied. 

Daar is vier spesifikasievlakke om van te kies. Die 1,2 LS is steeds die intreemodel, maar ‘n 1,4 LS sluit hom nou by sy goedkoper stalmaat aan. Die LS-modelle spog onder meer met handbeheerde lugversorging, elektriese vensters en buitespieëls, sentrale sluiting met ‘n alarm en immobiliseerder, ses luidsprekers (twee meer as voorheen), ‘n veelfunksie-stuurwiel en ‘n stuurkolom wat op en af en in en uit verstel kan word. Die 1,4 LS bied ‘n keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas. Die staalwiele met wieldoppe wat voorheen standaardtoerusting vir die 1,2 LS was, word met allooiwiele van 15 duim vervang.

Die volgende spesifikasievlak is die LX, wat net met die 1,4 liter-enjin beskikbaar is, weer eens met ‘n hand- of outomatiese ratkas. Bo en behalwe die toerusting van die LS, spog die LX met voorste misligte, ‘n armleuning tussen die voorsitplekke, ‘n 4,2 duim vloeikristel- Supervision-instrumentepaneel, buitespieëls wat met die druk van ‘n knoppie ingevou kan word en ingeboude rigtingwysers bevat, ‘n stuurwiel en rathefboomknop wat met leer oorgetrek is en outomatiese kopligte met ‘n volg-my-en-lei-my-funksie.

Die EX is ook net met die 1,4 liter-enjin en die keuse van ‘n hand-of outomatiese ratkas beskikbaar en beskik oor die volgende bykomende kenmerke: projektor-kopligte met ligdiode-dagryligte, parkeersensors, ‘n trukamera en 17 duim-allooiwiele.

Die vlagskip van die reeks is die Tec, wat ook nog met leerbekleedsel, outomatiese lugversorging, outomatiese ruitveërs, ligdiode-kombinasie-agterligte, spoedbeheer, ‘n elektrochromatiese truspieël binne en allooi-pedale toegerus word. Die Tec is ook met ‘n elektriese sondak teen ‘n bykomende R 8 000 beskikbaar.

Die pryse van die Rio-reeks, wat ‘n diensplan van twee jaar of 30 000 km vir die 1,2 LS en vier jaar of 60 000 km vir die res van die reeks, asook ‘’n waarborg van vyf jaar ongeag die motor se kilometerafstand insluit, lyk só:

KIA Rio 1.2 LS handrat          R280,995

KIA Rio 1.4 LS handrat          R291,995

KIA Rio 1.4 LS outomaties     R308,995

KIA Rio 1.4 LX handrat           R306,995

KIA Rio 1.4 LX outomaties      R323,995

KIA Rio 1.4 EX handrat          R319,995

KIA Rio 1.4 EX outomaties     R336,995

KIA Rio 1.4 TEC handrat        R344,995

KIA Rio 1.4 TEC outomaties   R361,995