Kia se Seltos nou in Suid-Afrika beskikbaar

0 Comments

Kia het pas sy jongste toevoeging tot sy reeks sportnuts-voertuie in Suid-Afrika bekendgestel.

Die Seltos vervang die Soul in Suid-Afrika, en sal met twee enjin- en drie verskillende ratkas-keuses beskikbaar wees. Dit is ‘n sportiewe dog praktiese sportnuts-voertuig en bied heelwat ruimte ondanks sy kompakte afmetings. Sy lengte van 4 135 mm,  breedte van 1 800 mm en hoogte van 1 620mm maak hom een van die grootste en ruimste voertuie in sy marksegment. 

Aan die voorkant is die jongste weergawe van Kia se kenmerkende “tierneus”-sierrooster met opvallende kopligte aan weerskante.  Die hele reeks is met ligdiode-dagryligte en voorste misligte toegerus. Die luukser modelle se kopligte en rigtingwysers bevat ligdiode-tegnologie.  Die middellyn bevat ‘n chroomstrook op sekere modelle en die C-pilaar skep die indruk van ‘n “swewende dak” met ‘n lyn wat na die dak toe loop. Die modderskerms se swart afwerking beklemtoon die Seltos se sportnuts-karakter. Die agterstamper bevat ‘n geïntegreerde skermplaat met ‘n metaal-voorkoms en chroom-uitlaatpyp-afwerking in sekere modelle. Die chroomstrook tussen die agterlig-samestellings beklemtoon die Seltos se breedte.  Daar is ses kleure beskikbaar, naamlik wit, grys, swart, rooi, blou en silwer, terwyl ‘n oranje kleur op spesiale bestelling beskikbaar is. Daarby is drie tweekleur-kombinasies beskikbaar; wit met ‘n swart dak,rooi met ‘n swart dak en oranje met ‘n wit dak, laasgenoemde op spesiale bestelling.

Daar is twee enjins beskikbaar; die 1,6 EX, EX Outmaties en EX+ Outomaties word aangedryf deur ‘n viersilinderenjin van 1,6 liter wat 91 kW en wringkrag van 151 Nm  teen 4 850 opm lewer. Hierdie enjin is beskikbaar met ‘n vyfgang-handratkas of ‘n outomatiese ratkas met ses gange. Die 1,4 T-GDI GT-Line word toegerus met ‘n splinternuwe turbo-aangejaagde vier-silinder enjin wat 103 kW en 242 Nm teen tussen 1 500 en 3 200 opm lewer en  aan ‘n dubbel-koppelaar-ratkas met sewe gange gekoppel word. 

Die Seltos is met een van drie spesifikasie-vlakke beskikbaar. Die 1,6 EX bied ‘n keuse van die hand- en outomatiese ratkas. Onder sy standaard-kenmerke is handbeheerde lugversorging, outomatiese kopligte met ‘n volg-my-en-lei-my-funksie, elektries verstelbare buitespieëls met geïntegreerde rigtingwysers, materiaal-bekleedsel, ‘n veelfunksie-stuurwiel, elektriese vensters, ‘n agtduim-raakskerm met ‘n radio wat oor ses luidsprekers beskik en Bluetooth-verbinding beskik, asook allooiwiele met 205/65R 16-bande en ‘n volgrootte noodwiel.

Die EX+ is net met die outomatiese ratkas beskikbaar en voeg onder meer die volgende kenmerke by: leerbekleesdel, Android Auto en Apple Car Play, spoedbeheer, USB-kragpunte voor en agter (die EX het net ‘n voorste een), invoubare buitespieëls, ‘n armleuning met ‘n paneelkissie tussen die voorsitplekke en allooiwiele met 215/60R 17-bande, weer eens met ‘n volgrootte noodwiel.

Die GT -Line is die sportiewe vlagskip van die reeks en beskik oor verskeie bykomende kenmerke wat hom van sy stalmaats onderskei.  Satynchroom en rooi afwerking en spesifieke 17 duim-allooi-wiele met rooi remknypers is uitstaande kenmerke terwyl die kopligte en misligte, asook die rigtingwysers en agterlig-samestellings ligdiode-tegnologie gebruik.  Aan die binnekant is daar spesifieke GT-Line-leerbekleedsel met bypassende borduurwerk, ‘n D-vormige stuurwiel en pedale van vlekvrye staal. 

Die groot meganiese verskil is egter dat die GT-Line oor die jongste weergawe van Kia se Drive Mode Select-stelsel beskik. Dit gee die bestuurder die keuse tussen Normal, Eco en Sport-modusse wat met behulp van ‘n beheerknop op die middelkonsole verstel word. Die Eco-modus is daarop gemik om brandstof-doeltreffendheid te verbeter terwyl die Sport-modus die stuurstelsel se reaksie verhoog om ‘n meer dinamiese bestuurservaring te verseker.  Daar is ook ‘n 2WD Terrain-verstelling met Snow, Sand en Mud-opsies wat vastrapvermoë op gladde paaie en in sand verbeter. Dit kan gekies word deur middel van ‘n skakelaar bokant die ratkieser. 

Die hele reeks word toegerus met veiligheidskenmerke soos ses lugsakke, ISOFIX-hegpunte op die agtersitplekke, ABS-remme met elektroniese remverspreiding en noodremhulp, agterste parkeersensors met dinamiese riglyne wat in die raakskerm geïntegreer word, terwyl die EX+ en GT-Line ook met elektroniese stabiliteitsbeheer en wegtrekhulp spog.

‘n Kia Seltos-model met ‘n 1,5 liter turbodieselenjin wat ‘n keuse tussen ‘n hand- of outomatiese ratkas sal bied, sal vroeg in 2020 beskikbaar gestel word.

Indrukke:

MotorPlus het die intreemodel, die 1,6 EX, vir ‘n kort toetsrit geneem. Die toetsmodel was met die sesgang-handratkas toegerus, maar dit het nie regtig saakgemaak nie. Die koppelaar is lekker lig, en ratwisseling was maklik. Die enigste omstandighede waaronder ‘n mens dalk ‘n outomatiese ratkas sal mis, is in swaar verkeer.  Die feit dat die enjin nie met ‘n turbo-aanjaer toegerus is nie, het nie regtig saak-gemaak nie aangesien daar oorgenoeg krag is. Dit is dalk nie die mees opwindende mededinger in sy prysklas nie, maar vir dié wat meer krag wil hê, en dit kan bekostig, is daar die GT-Line. Die gemiddelde brandstof-verbruik wat ons behaal het, was 8,2 liter per 100 km. Die veerstelsel is gemaklik en dit behoort ‘n baie lekker voertuig vir langer afstande te wees.  Die EX is goed toegerus, en die verskille tussen die EX en die EX+ is eintlik nie baie groot nie. 

Die pryse van die Seltos-reeks lyk só:

1,6 EX:  R 353 995

1,6 EX Outomaties: R 371 995

1,6 EX+ Outomaties: R 389 995

1,4 T-GDI GT-Line: R 444 995

Die hele reeks word deur ‘n waarborg en padbystand van vyf jaar ongeag die voertuig se kilometer lesing gerugsteun en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km.

 

Categories:
%d bloggers like this: