Breaking News

Kia Seltos kry diesel-krag

Met die bekendstelling van die Kia Seltos in November verlede jaar het Kia Motors Suid-Afrika belowe dat ‘n diesel enjin mettertyd beskikbaar sou wees.

Die maatskappy het nou sy  belofte gestand gedoen, en drie diesel modelle, met ‘n keuse tussen twee spesifikasie vlakke en twee ratkaste, is pas bekendgestel.  Suid-Afrika was die eerste uitvoermark waar die Seltos bekendgestel is, en  binne agt maande het hy ‘n uiters gewilde deel van Kia se reeks geword.

Daar is drie modelle, naamlik die 1,5 EX CRDi met die keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas met ses gange elk en ‘n 1,5 EX+ CRDi met die  outomatiese ratkas as standaard toerusting. Al hierdie modelle word aangedryf deur ‘n turbo-diesel enjin van 1,5 liter wat 86 kW en wringkrag van 250 Nm teen tussen 1 500 en 2 750 opm. Hierdie drie modelle het ‘n CRDi-kenteken op die agterklap wat hulle van die res van die reeks onderskei, en dieselfde reeks kleure as vir die petrol modelle is beskikbaar. 

Die EX-modelle berskik oor standaard kenmerke soos outomatiese kopligte met ‘n volg-my-en-lei-my-funksie, elektries verstelbare buitespieëls met ingeboude rigting wysers, ‘n veelfunksie stuurwiel, spoed-beheer, ‘n klankstelsel met agt luidsprekers wat oor Apple Car Play en Android Auto beskik, asook Bluetooth met stem-herkenning, en USB-kragpunte vir voorste en agterste insittendes. Daar is altesaam ses lugsakke, ISOFIX-hegpunte vir die agter-sitplekke, ABS-remme met elektroniese remkrag-verspreiding en noodremhulp, agterste parkeer-sensors en ‘n trukamera. Daarby spog die EX+ met leerbekleedsel vir die sitplekke en deurpanele, ‘n armeluning tussen die voorsitplekke met plek vir los goedere, buite-spieëls wat met die druk van ‘n knoppie kan invou wanneer nodig, elektroniese stabiliteits-beheer en wegtrekhulp. 

Soos met die petrolmodelle word die CRDi-modelle gerugsteun deur Kia se toon-aangewende waarborg, tesame met padbystand, van vyf jaar ongeag die motor se kilometerafstand, en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km. Die volledige Seltos-reeks lyk só:

 

KIA Seltos 1.6 EX Handrat R 380,995

KIA Seltos 1.6 EX Outomaties R 398,995

KIA Seltos 1.5 CRDI EX Handrat   R 410,995

KIA Seltos 1.5 CRDI EX Outomaties R 428,995

KIA Seltos 1.6 EX+  Outomaties R 416,995

KIA Seltos 1.5 CRDI EX+  Outomaties R 446,995

KIA Seltos 1.4 T-GDi GT-Line R 471,995

%d bloggers like this: