
Kia het pas sy mededinger in die snelgroeiende marksegment vir klein oorkruismotors in Suid-Afrika bekendgestel.
Die Sonet word in Kia se fabriek in Anatapur in Indië vervaardig en daarvandaan na Suid-Afrika ingevoer. Dit is ‘n splinternuwe model wat gesamentlik deur die moeder-maatskappy in Korea en sy Indiese filial ontwikkel is en deur ingenieurs van albei lande getoets is.
Aan die voorkant is die jongste weergawe van Kia se kenmerkende tierneus-sierrooster met ‘n silwer skermplaat aan die onderkant. Die afwerking van die C-pilaar is uniek terwyl die agterruit om die hoeke krul. Met ‘n algehele lengte van 4 120 mm en ‘n asafstand van 2 500 mm is die Sonet, volgens die vervaardiger, een van die ruimste voertuie in sy marksegment. Benenwens die sewe eenkleur-afwerkings kan voornemende kopers een van vier tweekleur-afwerkings kies; wit of rooi met ‘n swart dak , of grys of blou met ‘n wit dak.
Daar is ‘n splinternuwe 1,5 liter viersilinder onder die Sonet se enjinkap; hierdie enjin lewer 85 kW teen 6 300 opm en wringkrag van 144 Nm teen 4 500 opm. Daar is ‘n keuse tussen ‘n sesgang-handratkas en ‘n palwissel (CVT)-ratkas. Die reeks sal later uitgebrei word met die toevoeging van ‘n model met ‘n turbo-aangejaagde een-liter enjin met drie silinders.
Twee spesifikasievlakke is beskikbaar. Die LX is die intreemodel en spog met kenmerke soos staalwiele van 15 duim, ‘n agtduim-raakskerm met Bluetooth-, Android Auto – en Apple Car Play-verbinding, elektriese vensters en buitespieëls, ses luidsprekers, ‘n trukamera, outomatiese kopligte, hoogteverstelling vir die bestuudersitplek, sentrale sluiting met afstandbeheer, lugversorging en ‘n kombinasie van leer-en-materiaal-bekleedsel. Die EX is tot dusver die vlagskip van die reeks en voeg die volgende kenmerke by: agterste parkeersensors, ‘n stuurwiel en rathefboomknop wat in leer afgewerk is, 16 duim allooiwiele, silwer skermplate, dakspore en voorste misligte.
Die veiligheids-kenmerke wat standaard toerusting vir albei modelle is, sluit die volgende in: ABS-remme met elektroniese remkrag-verspreiding, stabiliteits-beheer, wegtrekhulp, twee lugsakke en ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke.
Só lyk die pryse van die Sonet-reeks, wat ‘n waarborg van vyf jaar ongeag die voertuig se kilometerlesing en ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 km insluit:
1,5 LX handrat: R 264 995
1,5 LX CVT: R 285 995
1,5 EX handrat: R 284 995
1,5 EX CVT: R 305 995