Kia Sonet later vanjaar hier

0 Comments

Kia het pas sy jongste sportnuts voertuig internasionaal bekendgestel en die goeie nuus is dat hierdie nuweling op pad na Suid-Afrika is.

Die Sonet word, soos die Seltos, in Kia se Indiese fabriek vervaardig en hiermee tree dié vervaardiger tot die marksegment vir kompakte oorkruis-voertuie toe. Die bekendstelling van die produksie model volg op die konsep wat in Februarie 2020 by die Delhi Auto Expo vertoon is. Die Sonet sal eerste in Indië bekendgestel word en daarna sal dit gou in ander markte beskikbaar wees. Volgens die vervaardiger vervul die Sonet ‘n behoefte in die groeiende sportnuts-overtuigmark en behoort hy ‘n groter verskeidenheid klante na Kia te lok.

Aan die voorkant spog die Sonet met die jongste weergawe van Kia se tierneus-sierrooster met ligdiode-dagryligte wat soos die elektriese pols van ‘n hart lyk, asook ‘n stylvolle skermplaat onder in die voorste stamper. Die unieke ontwrerp en struktuur van die C-pilaar beklemtoon sy sportiewe silhoeët en die agterruit krul om na die kante toe.  Aan die agterkant is daar ligdiode-agterligte.

Die binnekant is ontwerp om die bestuurder se behoeftes eerste te stel met ‘n gebruikers-vriendelike inligting-en-vermaakstelsel, terwyl materiaal van hoogstaande gehalte deurgaans gebruik word. Ondanks sy kompakte buiteafmetings bied die Sonet oorgenoeg ruimte vir vier insittendes en hul bagasie. Die Sonet sal met agt kleure, asook drie twee-kleur afwerkings, beskikbaar wees. 

Daar is verskeie enjins en ratkaste om van te kies. Die enjin reeks bestaan uit ‘n 1,2 liter vier-silinder enjin, die turbo-aangejaagde 1,0 T-GDI met drie silinders en ‘n turbodieselenjin van 1,5 liter. Benewens konvensionele handratkaste met vyf of ses gange, en ‘n outomatiese ratkas met ses gfange, is daar ook ‘n DCT-ratkas met sewe gange beskikbaar. Die groot nuus is egter ‘n tegnologiese deurbraak: ‘n rewolusionêre Smartstream- intelligente handratkas met ses gange. Hierdie ratkas skakel ‘n koppelaar uit, maar bied bestuurders dieselfde tipe beheer as ‘n gewone handratkas. Die koppelaar word outomaties geaktiveer wanneer die bestuurder ratte wissel, en ‘n sensor bespeur beweging van die rathefboom, maar nie wanneer die bestuurder per abuis daarteen stamp nie.  Daarom kan die motor soos ‘n handrat bestuur word, maar sonder om ‘n koppelaar in te trap. Dit verleng ook die koppelaar se lewensduur aangesien die bestuurder nie daarop kan lê nie. Daarby is die stelsel só ontwikkel dat dit  by alle bestuurstoestande kan aanpas. Die turbodiesel is ook met die outomatiese sesgangratkas beskikbaar.

Die Sonet spog met verskeie baanbrekers-kenmerke in sy marksegment, onder meer die volgende: die grootste en beste raakskerm, naamlik 10,25 duim, met ingeboude navigasie en verkeersverslae, geventileerde sitplekke vir die bestuurder en die voorste passasier, ‘n afstandbeheerde enjin aansit-knoppie met UVO Connect en ‘n “slim sleutel”, bywerking van landkaarte oor die internet  en ‘n koordlose selfoonlaaier.  Die UVO Connect-stelsel werk onder meer met stembeheer wat op die opdrag “Hello Kia” reageer en kan gebruik word om die klank- en navigasiestelsel te beheer, die datum en tyd, asook weerstoestande te gee, die venster oop en toe te maak en die klimaat-beheerstelsel te beheer.

Onder die veiligheids-kenmerke waarmee die Sonet toegerus word, is ses lugsakke, ‘n band-drukmoitor, projektor-misligte, ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke, outomatiese kopligte, ABS-remme met elektroniese remkrag-verspreiding en noodremhulp, elektroniese stabiliteitsbeheer en wegtrekhulp.

Besonderhede oor die enjins en ratkaste wat in Suid-Afrika beskikbaar sal wees, asook die samestelling van die reeks en pryse sal bekendgemaak word wanneer die Sonet later vanjaar in Suid-Afrika bekendgestel word.

Categories:
%d bloggers like this: