… en reeks is meer sakpas gemaak.

Kia maak besondere mooi voertuie. Dit is hoofsaaklik te danke aan ‘n sekere heer Peter Schreyer wat sedert 2006 Kia se hoof-ontwerper. Vanaf 2012 is hy hoof van beide Hyundai en Kia se ontwerpe is. Die man is ‘n fantastiese ontwerper. Hy het byvoorbeeld die Audi TT ontwerp voordat hy Kia toe gegaan het. Die Kia Sorento is Kia se grootse SNV-model en is sekerlik een van die mooiste SNV’s op die mark. In Junie 2015 is die derde geslag van Kia se Sorento-sportnutsvoertuig in Suid-Afrika bekendgestel en sedertdien het hy verskeie toekennings gewen as gevolg van sy uitsonderlike ontwerp en bougehalte.

Nou is ‘n aantal groot veranderinge vir Kia se vlagskip-sportnuts aangekondig, en die beskikbare spesifikasievlakke is van vyf na twee verminder. Die intreevlak- LS is aan die mark onttrek, asook die
luukse SX en SXL-modelle. Dit beteken dat net die LX en EX beskikbaar sal wees; elk met ‘n keuse tussen voor- en vierwiel-aandrywing.

Die nuwe reeks met detailveranderinge, wat in die middel van die huidige geslag se modellewe aangebring word, het ‘n meer opvallende voorkoms, met nuwe projektor-kopligte, LED-dagryligte vir die EX-modelle en ‘n herontwerpte sierrooster en stamper. Aan die agterkant is die stamper, die agterligte en die agterklap hersien. Die hele reeks het allooiwiele met 235/60 R 18-bande en ‘n volgrootte noodwiel as standaardtoerusting.

Die belangrikste veranderinge aan die binnekant is ‘n nuwe stuurwiel, ‘n nuwe ratkieser en ‘n instrumentepaneel met verbeterde grafika. Die luguitlate en middelkonsole is herontwerp vir ‘n meer moderne voorkoms. Die belangrikste verandering is egter dat die hele reeks nou sewe sitplekke met leerbekleedsel het. Die tweede ry sitplekke is in ‘n 40/20/40-verhouding verdeel en dié sitplekke kan deur middel van hefbome aan die kant van die bagasieruim platgevou word. Die derde ry sitplekke vou weg in die bakwerk om te sorg dat bagasieruimte nie in die slag bly wanneer dit nie gebruik word nie.

Daar is vier modelle in die reeks; naamlik die LX en EX, elk met ‘n keuse tussen voorwielaandrywing of Kia se Dynamax-vierwielaandrywingstelsel. Die LX spog met standaardkenmerke soos outomatiese lugversorging, outomatiese kopligbeheer, wat lei-my- en volg-my-funksies insluit, verhitbare buitespieëls wat outomaties invou en USB-kragpunte voor en agter.

Die EX se bykomende standaardkenmerke sluit die volgende in: ‘n koordlose selfoonlaaier, dakreëlings, elektries verstelbare voorsitplekke, en agterste sonblinders. Die hele reeks is toegerus
met ‘n klankstelsel wat satellietnavigasie, Bluetooth-, Android Auto en Apple Car Play-verbinding en ses luidsprekers bevat. Die raakskerm is agt duim groot.

Die Sorento is nou net met een enjin en ratkas beskikbaar. Die bekende turbodieselenjin van 2,2 liter uit die vorige reeks is behou en al die modelle het ‘n outomatiese ratkas met agt gange as
standaardtoerusting. Kia se vierdegeslag-brandstofinspuitingstelsel sorg vir kraglewering van 147 kW teen 3 800 opm en wringkrag van 440 Nm teen tussen 1 750 en 2 750 opm.

Die nuwe Sorento is die eerste Kia-sportnutsvoertuig wat met die nuwe outomatiese agtgangratkas wat drie bestuursopsies bied, naamlik Eco, Comfort en Sport. Daar kan meet behulp van die
Smart-modus tussen hierdie opsies gewissel word aangesien die bestuurder se behoeftes, asook die veranderende padtoestande vooraf bepaal kan word.

Onder die veiligheidskenmerke wat standaardtoerusting vir die Sorento is, is ABS-remme met elektroniese remverspreiding, ses lugsakke, elektroniese stabiliteitsbeheer, parkeersensors wat
saam met ‘n trukamera werk en wegtrekhulp. Die elektriese vensters hou dadelik op om te werk wanneer obstruksie, soos ‘n kind se hand, opgemerk word.

Die Sorento word gerugsteun deur Kia se waarborg van vyf jaar ongeag die voertuig se kilometerafstand, padbystand van drie jaar en ‘n diensplan van vyf jaar of 100 000km.

Die pryse van die verskillende modelle lyk soos volg:
2,2 CRDI LX: R 569 995
2,2 CRDI LX AWD: R 609 995
2,2 CRDI EX: R 599 995
2,2 CRDI EX AWD: R 639 995

Die nuwe Sorento is nou by handelaars landwyd beskikbaar.

 

Lees ook: Nuwe Kia Sorrento word by Frankfurt Motorskou gewys

 

%d bloggers like this: