Twaalf modelle nou in Kia Sportage-reeks.

Deur Daantjie Badenhorst

Toe die nuwe Kia Sportage-reeks in 2016 in Suid-Afrika bekendgestel is, het die reeks net uit vyf modelle bestaan.

Dit het egter nou verander met die toevoeging van nog sewe nuwe modelle, wat ‘n nuwe enjin-toevoeging insluit. Volgens David Sieff, die bemarkingsbestuurder van Kia Motors, bied die nuwe reeks nie net ‘n groter keuse nie, maar ook beter waarde vir geld.

Die intreemodel van die Sportage-reeks, die 2,0 Ignite, is ook nou met ‘n outomatiese ratkas met ses gange beskikbaar. Die Ignite het kenmerke soos dagryligte, outomatiese kopligte, Bluetooth-verbinding, ‘n veelfuksiestruurwiel en parkeersensors as standaardtoetusting. Die Ignite Plus-modelle is nuwe toevoegings tot die reeks, en is ook met die twee-literenjin en ‘n keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas beskikbaar. Die bykomende kenmerke van hierdie modelle is 17-duim-allooiwiele, pleks van die 16-duim wiele van die Ingnite, asook voorste misligte en ‘n elektro-chromatiese truspieël aan die binnekant. Daar is egter nog ‘n enjinkeuse vir die Ignite Plus beskikbaar.  Die nuwe turboaangejaagde 1, 7 liter Kia dieselenjin maak sy debuut in hierdie model. Hierdie enjin lewer 85 kw teen 4 000 omwentelinge en 280 Nm tussen 1 250 en 2 750 omwentelinge, en dié model, die Ignite Plus CRDI, is net met ‘n sesgang-handratkas beskikbaar.

Toe die reeks bekendgestel is, was daar net een EX-model in die reeks, naamlik ‘n 2,0 CDRI met ‘n outomatiese ratkas. Daar is egter ook nou ‘n 2,0 liter-petrolmodel beskikbaar. Die EX-modelle is nog beter toegerus en het standaaerdkenmerke soos onder meer sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, spoedbeheer, leerbekleedsel, wegvoubare truspieëls met ingeboude rigtingwysers en voorste parkeersensors. Daar is ook nou EX Plus-modelle, met ‘n keuse van petrol- of dieselenjins. Hierdie modelle het ook 19-duim wiele, ‘n trukamera, satellietnavigasie en elektries verstelbare voorsitplekke. Die res van die reeks, naamlik die 2,4 GDI en 2,0 CRDI SX AWD en die 1,6 T-GDI GT-Line bly onderanderd.

Die pryse van die Sportage-reeks wissel van R 369 995 vir die 2,0 Ignite tot R 599 995 vir die 1,6T-GDI GT-Line. Die hele reeks word gerugsteun deur Kia se waarborg en padbystand, elk geldig vir vyf jaar ongeag die voertuig se kilometre-afstand en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km.

Pryse

Sportage 2.0 Ignite Handrat                                R 369,995

Sportage 2.0 CRDI EX Automatic                     R 487,995

Sportage 2.4 GDI SX AWD Automaties               R 557,995

Sportage 2.0 CRDI SX AWD Automaties            R 567,995

Sportage 1.6 T-GDI GT Line AWD DCT            R 599,995

Nuwe toevoegings:

Sportage 2.0 CRDI EX PLUS Automaties        R 517,995

Sportage 2.0 Ignite PLUS Handrat                  R 376,995

Sportage 2.0 Ignite Automaties                        R 382,995

Sportage 2.0 Ignite PLUS Automaties             R 389,995

Sportage 1.7 Ignite PLUS Handrat                  R 406,995 

Sportage 2.0 EX Automaties                            R 429,995  

Sportage 2.0 EX PLUS Automaties               R 459,995