Klein Mahindra word paneelwa

0 Comments

Die feit dat die marksegment vir half- en-drie-qwart ton bakkies ‘n vinnige en onverwagse dood in Suid-Afrika gesterf het, het gemaak dat al hoe meer ondernemings van paneelwaens gebruik begin maak het vir kleiner aflewerings.

Die jongste vervaardiger wat hieruit voordeel getrek het is Mahindra, wat pas ‘n paneelwa-weergawe van sy KUV 100 NXT K2+ bekendgestel het.  Dié nuweling staan as die #XPrez bekend, en die ombuing word by Mahindra se spesiale pas-sentrum in Gauteng volgens paneelwa-spesifikasies uitgevoer. Die ombouing behels die verwydering van die agtersitplek, en die toevoeging van ‘n plat en duursame vloer en twee nette om die vrag te beskerm. Daar is ook ‘n veiligheidskerm tussen die voorsitplekke en die laairuim, en ‘n brandblusser is standaard toerusting. Die #Xprez behou die K2+ se veiligheids-kenmerke, onder meer twee lugsakke en ABS-remme, asook ‘n radio, kragstuur en lugversorging. Die kant- en agtervensters is toegemaak om nuuskieriges in toom te hou, en daar is bykomende stawe aan die agterdeure aangebring.

Volgens Rajesh Gupta, die uitvoerende hoof van Mahindra Suid-Afrika is daar ‘n toenemende vraag na aanlyn-bestellings, asook algemene aflewerings. Die staat van inperking het hierdie vraag nog verder laat toeneem, soos wat mense meer gemaklik raak met hul aanlyn-lewens. Daarby het baie entrepreneurs klein ondernemings begin om hul loopbane voor COVID-19 te vervang of aan te vul, en hulle is op soek na ruim, bekostigbare en betroubare voertuie.  Die #Xprez voldoen aan hul behoeftes deurdat hy 350kg kan dra, en oor ‘n laairuimte van 1350 liter beskik. Dit maak dat items van engie vorm en grootte in die laairuimte sal pas. Die grondvryhoogte van 170 mm maak dat enige pad-oppervlakte met gemak baasgeraak kan word.

Die #Xprez word aangedruf deur Mahindra se M Falcon 1,2 liter  petrol-enjin met drie-silinders, wat 61 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 115 Nm teen 3 500 opm lewer.  Volgens die vervaardiger is sy gemiddelde brandstof verbruik 5,9 liter per 100 km.

Die #Xprez se prys, wat ‘n waarborg van vier jaar of 120 000 km insluit, is R 174 999, terwyl ‘n diensplan van drie jaar of 50 000 km teen ekstra koste beskikbaar is.

Categories:
%d bloggers like this: