Die Suid-Afrikaanse motormark is deesdae só mededingend dat kopers ‘n baie groter keuse van vervaardigers en modelle as ooit tevore het. Dit beteken egter dat sommige vervaardigers nie juis sukses behaal nie, en baie van hulle, onder meer Proton, Dacia, Citroën en MG aan Suid-Afrika weens swak plaaslike verkope onttrek het, terwyl Daihatsu, Chrysler, Dodge en Chevrolet gesneuwel het as gevolg van besluite deur hul oorsese moedermaatskappye was.

Daar is egter ‘n paar vervaardigers wie se produkte nooit regtig in groot getalle verkoop het nie, maar wat nog stilweg sake in Suid-Afrika doen. Baie van hulle het nuwe modelle vir die Suid-Afrika belowe, maar nie een daarvan is tot dusver bekendgestel nie. Daarom kan ‘n mens net bespiegel waarmee hierdie klein rolspelers tans besig is en wat die toekoms vir hulle in Suid-Afrika inhou? Daantjie Badenhorst bespreek of hierdie klein rolspelers wel nog ‘n rol in Suid-Afrika het.

Chery

In 2010 het Chery tot die Suid-Afrikaanse mark toegetree met die QQ3, wat op die eerste geslag van die Chevrolet Spark gebaseer was.  Daar is nooit gesê of Chery die regte by General Motors gekoop het om hierdie model te vervaardig nie, maar daar word gesê dat die QQ3 se deure presies dieselfde as dié van die Spark was.  Die QQ3 is egter met ‘n unieke reeks enjins van 800cc en 1 100cc toegerus, en daar was ook die keuse van ‘n outomatiese ratkas. Verdere modelle het gevolg, onder meer die Tiggo. ‘n sportnutsvoertuig wat ‘n bietjie na ‘n vorige geslag van die Toyota RAV 4 gelyk het en aanvanklik goed deur die motorpers ontvang is, asook die J1, J2, J3 en J5.  Die J5 het gou van die mark verdwyn, maar daar is ‘n poging aangewend om die ander drie hier te bemark.  Intussen is ‘n nuwe geslag van die QQ3 oorsee bekendgestel en alles dui daarop dat hy beter as sy voorganger is.  Daar is ook nuwe Tiggo 3 en Tiggo 5-modelle oorsee bekendgestel en die plan was dat hulle ook in Suid-Afrika bekengestel wou word. Niks het egter tot dusver gebeur nie.

FAW

Hoewel FAW se reeks vragmotors nogal gewild is, was hul toetrede tot die passasiermotormark minder suksesvol. Die Sirius S 80 was gebaseer op die oorspronklike Toyota Avanza, en die enjin het ook uit hierdie modelreeks gekom. Daarom sou ‘n mens dink dat dit dalk ‘n sukses sou wees, veral aangesien daar ook ‘n groot handelaarsnetwerk was.  Die ander model in die Suid-Afrikaanse reeks is die V2, ‘n intreevlak-luikrug met ‘n enjin van 1,3 liter. Hoewel dié motor oënskynlik goeie waarde vir geld bied en die enjin op dié van ‘n Toyota Yaris gebaseer is, het die Suid-Afrikaanse publiek nie juis belanggestel nie; nie eens toe die Like-model bygevoeg is om jonger kopers te lok nie. Tydens die Johannesburgse Internasionale Motorskou in 2013 is die X 80, ‘n groter sportnutsvoertuig wat baie na ‘n Infiniti QX 70 gelyk het, vertoon en daar is belowe dat hy ook hier bekendgestel sou word. Dit het egter nie gebeur nie.

Infiniti

Nissan se weelde-filiaal het twee keer probeer om ‘n indruk op die Suid-Afrikaanse mark te maak. In 1995 is die Q 45 hier bekendgestel maar hierdie motor het twee groot swak punte gehad; dit is deur dieselfde handelaarsnetwerk as Nissan bemark en daarby was die Suid-Afrikaanse publiek nie beïndruk met ‘n vreemde kenteken wat op die Amerikaanse mark gemik was nie. In 2012 het Nissan weer probeer om Infiniti te vestig; hierdie keer met ‘n groter reeks wat bestaan het uit die M-sedan, die G-koepee en afslaankap en twee sportnutsvoertuie, bekend as die EX en die FX.  Later is hul modelbenamings verander; die G en die M het onderskeidelik die Q 60 en Q 70 geword, en die EX en die FX onderskeidelik die QX 60 en QX 70. Daarby is ‘n intreemodel, die Q 50, by die reeks gevoeg, maar hy kon geen aftrek kry onder mense wat eerder ‘n Mercedes-Benz C-klas of ‘n BMW 3-reeks sou koop nie. Die laaste Infiniti-model wat in Suid-Afrika bekendgestel is, was die QX 80, ‘n baie groot sportnutsvoertuig met ‘n V8-petrolenjin. Hierdie model was op die Nissan Patrol gebaseer; die feit dat laasgenoemde model met dieselfde meganiese spesifikasies onlangs hier bekendgestel is, vertel sy eie storie.  Die Infiniti Q 30 en QX 30, wat op die onderstel van die Mercedes-Benz A-klas gebaseer is, is vir die Suid-Afrikaanse mark belowe, maar na twee jaar het nog niks daarvan gekom nie.  Daar word gesê dat geen nuwe Infiniti-motors weer na Suid-Afrika ingevoer sal word nie en dat die voorrade wat nog op die vertoonvloere is, verkoop sal word sonder om dit te vervang.

SsangYong

In 1995 het SsangYong die tweede Koreaanse vervaardiger geword wat tot die Suid-Afrikaanse mark toegetree het. Die Musso het aanvanklik sukses behaal danksy die Mercedes-Benz-gebaseerde enjins waarvan daar destyds ‘n groot bohaai oor gemaak is. Die motorpers het Ssang Yong egter as ‘n vermenging tussen uitnemendheid en middelmatigheid beskou.  Die Jeep-agtige Korando het later gevolg, asook die Actyon, met ‘n naam wat ‘n vermenging van die woorde Action en Young was. Al wat meer eienaardig as sy naam was, was sy bakvorm. Die Actyon was ‘n sportnutsvoertuig wat soos ‘n opgeblaasde luikrug gelyk het; in daardie opsig was hy sy tyd vooruit aangesien die BMW X6 eers ‘n paar jaar later gevolg het. Daarby was daar ook Sports-dubbelkajuitmodelle van die Musso en die Actyon, maar daar is nie veel van hulle verkoop nie. Die Kyron was tot ‘n sekere mate suksesvol, maar eers nadat hy ‘n nuwe enjin en ‘n paar detailveradneringe gekry het. Die Stavic was ‘n baie ruim veeldoelvoertuig, maar baie mense het hom as uiters lelik beskou en sy gewildheid onder begrafnisondernemers het ook nie gehelp nie. Die nuwe weergawe van die Actyon Sports was mooier as sy voorganger en is beter ontvang, maar sy laaibak was kleiner as dié van die meeste dubbelkajuite. Die laaste nuwe model wat tot dusver hier bekendgestel is, was die nuwe weergawe van die Korando; ‘n meer moderne sportnutsvoertuig as sy voorganger.  Intussen het Mahindra die maatskappy oorgeneem en daar is sekerlik ‘n botsing van modelle. Die jongste model wat oorsee bekendgestel is, was ‘n kleinerige sportnutsvoertuig bekend as die Tivoli, maar dit lyk nie asof hy na Suid-Afrika sal kom nie.

Tata

In 2004 het Tata sy toetrede tot die Suid-Afrikaanse mark aangekondig toe die Indica-reeks by die Auto Africa-motorskou bekendgestel is. Die reeks is later uitgebrei met die toevoeging van die stasiewa en die Indigo-sedan, terwyl die luikrug en die stasiewa ook met ‘n dieselenjin beskikbaar was en ‘n intreemodel, beeknd as die LE, ook later bygevoeg is. Die Indica was op ‘n stadium ‘n rukkie lank een van die tien gewildste motors in Suid-Afrika. Met die bekendstelling van die Indica Vista is die “ou” Indica egter nie aan die mark onttrek nie, en die LE en LSI-modelle het deel van die reeks gebly. Die stasiewa is wel onttrek en die Indigo is deur ‘n meer modern sedan, die Indigo Manza, vervang.  Selfs met die bekendstelling van die Bolt, wat beskikbaar was as ‘n sedan en ‘;n luikrug, het Tata voortgegaan om die Indica LE en die Vista te bemark.  Hoewel die Bolt in elke opsig beter as hierdie twee motors was, het hy ook nie veel aftrek gekry nie. Wat Tata se bakkies betref, kon dieTelcoline nie regtig met duurder bakkies van Japan meeding nie. Die Xenon-dubbelkajuit kon aanvanklik nie veel aftrek kry nie, maar hy is voortdurend verbeter. Nogtans is hy onlangs aan die Suid-Afrikaanse mark onttrek. Verskeie nuwe modelle, soos die Tiago-luikrug, die Tigor-sedan en twee sportnutsvoertuie bekend as die Nexon en die Hexa is ook reeds oorsee bekendgestel, maar daar is nog geen aanduiding van of hulle dalk hier bekendgestel gaan word nie.

Dit laat ‘n mens wonder of daar nie dalk te veel vervaardigers in Suid-Afrika is nie en of dié wat wel tot die mark wil toetree, nie dalk beter marknavorsing moet doen nie. Dis goed om ‘n wye keuse te hê, maar daar is altyd sekere vervaardigers wees wie se produkte sterk aanbeveel kan word en dié wat jy liewer moet vermy.

 

Deur Daantjie Badenhorst.

 

 

%d bloggers like this: