Kyalami se Nege-Uur terug

0 Comments

Na ‘n afwesigheid van 37 jaar gaan daar weer ‘n nege-uur uithou wedren op Kyalami aangebied word.

Dié geleentheid , wat meer as net die wedren self sal behels, vind op 23 November plaas, en vorm saam met die Liqui Moly Bathurst 12-uur wedren in Australië, die California 8 hours, die Total 24 Hours of Spa en die Suzuka 10 Hours deel van die skedule van die Intercontinental GT Challenge, wat deur Pirelli geborg word.

Benewens die renmotors kan besoekers ook uitsien na plate-joggies, kosstalletjies, lewendige musiek, asook ‘n kinderspeel-area. Dit alles sal maak daar iets vir die hele gesin sal wees.

Die stigter en uitvoerende hoof van die SRO-Motorsport-groep, Stéphane Ratel, beskou die toevoeging van die Kyalami-negeuur-wedren by die skedule as ‘n droom wat bewaarheid is. Volgens hom het dit jare geduur voordat hy die byeenkoms in Afrika ‘n werklikheid kon maak en hy beskou die feit dat hy dit reggekry het, as ‘n reuse prestasie. Dit beteken dat die reeks nou in vyf kontinente aangebied word, en daarom as ‘n werklik internasionale reeks beskou kan word. Hy sien uit daarna om die motors in November op Kyalami in aksie te sien.

Hoewel die Intercontinental GT Challenge net vir FIA GT 3-supermotors bedoel is, is daar baie byeenkomste, waaronder die Kyalami nege-uurwedren, waarin plaaslike motors en deelnemers ook meeding om kampioen-skappe in hul onderskeie klasse. Die plaaslike renjaers sal die baan deel met die agt vervaardigers wat voltyds aan die internasionale uitdaging deelneem, naamlik Audi, Bentley, BMW, Ferrari, Honda, Mercedes AMG, Nissan en Porsche, asook Suid-Afrika se internasionale GT-supersterre, Jordan Pepper en Kelvin van der Linde, wat gaan probeer om algeheel te wen. 

Die Kyalami nege-uurwedren is gereeld in die 1960’s, 1970’s en 1980’s aangebied en sommige klassieke Porsche-renmotors soos die 550 Spider, 917 en 956 het saam met onder meer die Ferrari 250 GTO en 512M deelgeneem. Onder die renjaers wat sake in daardie jare uitgespook het, was Jacky Ickx, Jochen Mass en David Piper. Vanjaar se byeenkoms beloof om daardie gloriejare te laat herleef.

Hierdie byeenkoms sou nie moontlik gewees het as dit nie vir die eienaar van die Kyalami-renbaan, Toby Venter, was nie.  Hy vertel dat hy nie twee keer gedink het toe Stephane Ratel hom oor die moontlikheid om dit op Kyalami aan te bied, genader het nie.  Volgens Ventertr was Kyalami nog altyd die regte plek vir groot motorsport-byeenkomste en hy beskou die nege-uurwedren as baie spesiaal, veral omdat dit ‘n internasionale geleentheid is wat die hele gesin kan geniet.

Kaartjies is reeds beskikbaar, en kan by www.kyalami9hour.com gekoop word. Die Facebook- en Instagram-profiele is onderskeidelik @Kyalami9hour en @kyalami9hour.

Categories:
%d bloggers like this: