Die einde van ‘n era het aangebreek toe die laaste BMW 3-reeks model op 21 Februarie in dié vervaardiger se fabriek in Rosslyn buite Pretoria van die produksielyn af gekom het.

Sedert 1983 is vyf geslagte BMW 3-reekse en altesaam 1 191 604 eenhede van hierdie gewilde kompakte premium motor in die Rosslyn-fabriek vervaardig.  Die rede vir die staking van die vervaardiging van die BMW 3-reeks in Suid-Afrika, is omdat BMW SA eerder die fabriek wil aanwend om voortaan die nuwe BMW X3 te vervaardig.

Hierdie nuus beteken egter nie dat die 3-reeks aan die Suid-Afrikaanse mark onttrek word nie, maar egter dat BMW 3’s voortaan ingevoer sal word. Die 3-reeks-modelle wat hiernatoe ingevoer word, sal dieselfde wees as dié wat hier laaste vervaardig was, aangesien ‘n nuwe geslag eers oor ‘n paar jaar bekendgestel sal word.

Sekerlik die belangrikste prestasie wat die 3-reeks behaal het, was die vestiging van ‘n nuwe segment in die Suid-Afrikaanse mark. Die BMW 3 was die eerste kompakte sportsedan in Suid-Afrika. Die aanvanklike modelle wat hier vervaardig is, was eers net met twee deure beskikbaar. Vierdeurmodelle het egter gou gevolg en het die sukses van die 3-reeks verseker.

Daar was daar ook ‘n paar modelle wat uniek aan Suid-Afrika was en van die produksielyn in Rosslyn af gekom het, veral die 325i S en die 333i. Die eerste geslag van die 3-reeks is in 1975 internasionaal bekendgestel, maar is nie in Suid–Afrika vervaardig nie. Die tweede geslag was onmiddellik ‘n groot sukses, en 98 003 eenhede is tussen 1993 en 1992 in Rosslyn vervaardig .

Die “Dolphin shape” is in 1992 in Suid-Afrika bekendgestel en die 316i is as Suid-Afrika se “Motor-van-die-Jaar” aangewys.  Die meeste van hierdie modelle, wat van 1992 tot 1997 vervaardig is, het vier deure gehad en dit was ‘n topverkoper. As gevolg van ‘n groter bakwerk was hierdie reeks heelwat ruimer binne as sy voorganger.  Ondanks sy groter bakwerk het hierdie geslag meer sportief as sy voorganger vertoon.

Die volgende geslag is van 1997 tot 2004 vervaardig  en hoewel die 320d nie die eerste BMW met ‘n dieselenjin op die Suid-Afrikaanse mark was nie, was dit van die begin af ‘n uiters gewilde model in hierdie reeks.  Die kenmerkende BMW-niertjierooster was nou by die enjinkap geïntegreer en die ronde kopligte is agter helder skerms weggesteek. Die L-vormige agterligte was nog ‘n nuwe kenmerk.  Weereens was bakwerk groter as dié van sy voorganger en was sy binnekant ook heelwat ruimer.  Die paneelbord het ‘n baie meer moderne voorkoms gehad en satellietnavigasie, kantlugsakke en ‘n veelfunksiestuurwiel het nuwe standaarde in sy marksegment gestel.

In 2001 is die 320d as Suid-Afrika se “Motor-van-die-Jaar” aangewys. Altesaam 269 810 eenhede van hierdie modelreeks is in Suid-Afrika vervaardig.

Die vyfde geslag is van 2004 tot 2011 in Suid-Afrika vervaardig en die koepee- en afslaankapmodelle was die laastes wat die 3-reeks-modelbenaming gekry het. Weer eens was ‘n verskeidenheid modelle beskikbaar en die vierdeursedan was weer die eerste model wat bekendgestel is. Hoewel hy weer eens groter as sy voorganger was, was hy ligter met die gevolg dat sy werkverrigting ook beter was. Daar is altesaam 356 257 eenhede van hierdie reeks hier vervaardig.

Die hudige geslag is vroeg in 2012 bekendgestel, en behalwe die sedan is die 3-reeks Gran Turismo, ‘n luikrug met vyf deure, by die reeks gevoeg.

Die koepee- en afslaankapmodelle sou voortaan as die 4-reeks bekendstaan en ‘n nuwe model, die 4-reeks Gran Coupé, is ook by die reeks gevoeg. Dit was egter net die 3-reeks sedan wat hier vevaardig is. Hierdie modelreeks het verdere tegnologiese nuwighede ingesluit, waarvan die belangrikste ‘n Sport Steptronic-ratkas met agt gange was. Die 318i was ook die eerste BMW wat ‘n drie silinder enjin verkry het. Daar is 382 658 eenhede van hierdie reeks in Rosslyn vervaardig.

Die vervaardiging van BMW-motors het in 1968 begin met die bekendstelling van die 1800 SA, wat ‘n Glas-bakwerk maar ‘n BMW-onderstel gehad het. Die 2000 SA het byna twee jaar later gevolg.  In 1973 het die BMW-groep formeel tot die Suid-Afrikaanse mark toegetree en die 5-reeks is die volgende jaar in Suid-Afrika bekendgestel.

Die fabriek in Rosslyn was BMW se eerste vervaardigingsaanleg buite Duitsland.  Sedertdien het die aanleg gegoei tot ‘n reuse fabriek wat daartoe in staat is om doelgeboude voertuie vir verskeie markte  te vervaardig.

Die 3-reeks sal voortaan in aanlegte in Duitsland, Brasilië, Indië, Thailand en Mexiko vervaardig word.


  • After 35 years, the BMW 3 Series Sedan rolls off the production line at BMW Group Plant Rosslyn to make way for the new BMW X3.
  • A total of 1,191,604 BMW 3 Series vehicles were produced at BMW Group Plant Rosslyn since 1983.
    Current BMW 3 Series to be produced by other plants within the BMW Group production network.
  • BMW Group Plant Rosslyn gets ready for the start of production of the new BMW X3.

%d bloggers like this: