Deur Gerrie Smit

Die Huracàn is Lamborghini se inskrywing om met die McLaren Mp4-12C en Ferrari se 458 Italia in die super sportmotors se intreevlak mee te ding. Die Huracàn het die vorige Lamborgini intreevlak-model, die Gerlardo, in 2014 vervang. Die Gerlado was sedert 2003 die intree-model in die Lamborghini-reeks.

Tans is dit net die Huracàn teen ‘n prys van ongeveer R6 miljoen en die Aventador, wat ongeveer R7 miljoen plus kos, wat Lamborghini in Suid-Afrika verteenwoordig..

Die Huracàn se topsnelheid is 325 km/u terwyl die Aventador s’n 350 km/u is. Die res is akademies. Vir R3 miljoen minder as die Aventador kry jy die Huracàn.

Die Huracàn se 5,2 liter v10-enjin het ‘n kraglewering van 448 kw teen 8250 omwentelinge. Sy wringkrag is 460 Nm teen 6500 omwentelinge. Hierdie werkverrigting maak van die Huracàn ‘n tydmasjien. As jy die versneller trap, is jy oombliklik waar jy wou wees, daar vêr voor in die pad.

Met die loodsing van die Lamborghini Countach in 1974 het Lamborghini na die super sportmotor-mark beweeg. Met die Countach het ook die bestuurservaring van ‘n Lamborghini verander. Voortaan sou Lamborghini’s net soos die bulle na wie die verskillende modelle vernoem is, mee geveg moes word. Jy moes jou bestuur ken om al die perde te beheer en met die swaar stuur te worstel.

Die Huracàn laat jou steeds besef dit is ‘n Lamborghini en nie ‘n kat wat jy sonder handskoene kan aanpak nie, maar daar is meer van ‘n gevoel van kontrole en beheer as in die vorige modelle.

Natuurlik is die motor laag maar die sitplekke wat elektronies verstel is besonders gemaklik. Die hele binnekant van die motor self is besonders gebruiksvriendelik. Die Huracàn het ook nou ‘n rekenaarskerm bo die middelkonsole soos luukse weelde motos om die gerekaniseerde inligting en musieksentrum te beheer.

Met die Huracàn is hierdie Lamborghini nie net ‘n kragmonster nie, maar ook ‘n geriefsmotor. Dit het ‘n 7-spoed outomatiese ratkus met pedale aan die kante van die stuurwiel om dit in handrat-formaat te gebruik. Daar is dus die geriefsvoordeel van ‘n outomatiese ratkas, maar ook die werkverrigting- en beheervoordeel om na handrat te skuif as daar vining en rats beweeg moet word.

Padbeheer is absoluut. Nie net danksy die lae aerodinamiese profiel nie, maar ook omdat die Huracàn heeltyd in permanente vier-wiel aandrywing is. Dit is nie net blitsig nie, maar klou ook.

Die Huracàn het ook ‘n uiters aanvaarsbare gemiddelde brandstof verbruik van 12,5 liter /100 km. Nie dat ‘n Lamborghini-eienaar bekommerd oor die brandstofprys behoort te wees nie, maar omdat ‘n mens nie te veel van ‘n koolstof-voetspoor wil nalaat nie.

Kortom; die Huracàn is ‘n uitens kragtige, vinnige, padvaste super sportmotor, maar die belangrikste is dat dit ‘n slim en aangename motor is.

Die Imperial Groep van Maatskappye is die verpreiders van Lamborghini-motors in Suid-Afrika .

Lamborghini Huracan. Fotograaf: Elmer van Zyl, Model: Viandi

 

Lamborghini Huracan. Fotograaf: Elmer van Zyl, Model: Viandi