Land Cruiser 200 VX-R beter toegerus vir 2020

0 Comments

 

Toyota het sy Land Cruiser 200 VX-R, die topmodel van die Land Cruiser-reeks, verder verbeter.

Die Land Cruiser 200 VX-R verteenwoordig die veldryer wat in rowwe toestande ry met ‘n kombinasie van weelde, gevorderde tegnologie en uitsonderlike veldryvermoë, en nou is dié luukse veldryer verder vir die 2020-modeljaar verbeter, onder meer met die toevoeging van ‘n JBL Premium-klankstelsel met veertien luidsprekers en ‘n Rear Seat Entertainment-stelsel. Dit bestaan uit twee skerms van 11,6 duim (29 cm) met multimedia-insette wat saam met die kontroles vir die viersone-klimaatbeheerstelsel in die agterste konsole geleë is.  Die goedkoper GX-R-model bly onveranderd.

Die res van die 200 VX-R se spesifikasies bly onveranderd en behels verskeie gemak- en geriefskenmerke asook Toyota Safety Sense. Hierdie stelsel bestaan uit aanpasbare spoedbeheer, baandwaalhulp en ‘n blindekolmonitor met agterkant-dwarsverkeerwaarskuwing.  Die gevorderde meervoudige terreinstelsel bevat kruipbeheer en omliggende kameras en maak ligte werk van einge terrein. Die bekroonde KDSS-veerstelselbeheer en indrukwekkende invals- en vertrekhoeke het gehelp om die Land Cruiser 200 die koning van Afrika te maak.

Die Land Cruiser 200 word aangedryf deur ‘n V8-turbodieselenjin van 4,5 liter wat 195 kW teen 3 400 opm en wringkrag van 650 Nm teen tussen 1 600 en 2 600 opm lewer en aan ‘n outomatiese ratkas met ses gange met vierwielaandrywing gekoppel word.

Ses kleure is beskikbaar; Sparkling Black Pearl het Attitude Black vervang terwyl Midnight Blue en Sunset Dune gestaak is.  Die ander kleure wat beskikbaar is, is Glacier White, Satin Silver Metallic, Graphite Grey Metallic, Ruby Metallic en Golden Beige Metallic, en kopers kan tussen ‘n swart of beige afwerking vir die binnekant kies.

Die pryse van die Land Cruiser-reeks, wat ‘n waarborg van drie jaar of 120 000 km en ‘n diensplan geldig vir nege versienings of 90 000km , is R 1 086 200 en R 1 510 100 vir die GX-R en die VX-R onderskeidelik.

Categories:
%d bloggers like this: