Land Cruiser Prado kry Hilux-krag

0 Comments

Kort nadat die nuwe Toyota Hilux-reeks in Suid-Afrika bekendgestel is, het ‘n nuwe weergawe van die Land Cruiser Prado, met dieselfde nuwe 2,8 liter turbo-diesel enjin wat in die vlagskip modelle gebruik word, pas op die mark gekom.

Die nuwe enjin vervang die drie-liter enjin wat voorheen gebruik is, en sluit hom by die bestaande vierliter V6-petrol enjin wat al jare lank beskikbaar is. Die nuwe enjin lewer 150 kW teen 3 400 opm en wringkrag van 500 Nm teen tussen 1 600 en 2 800 opm. Hierdie enjin word aan ‘n outomatiese ratkas met ses gange gekoppel, en spog met ‘n aantal nuwe kenmerke, waaronder ‘n koeëllaer-turboaanjaer met ‘n groter turbine en waaier en beter verkoeling. Beter brandstof-verbruik word vermag deur nuwe suiers en suierringe , veranderinge aan die silinderblok en -kop, hoër brandstofinspuit-vloeisnelheid en die gebruik van hoëverrigting-materiaal vir die uitlaatspruitstuk. Die nuwe model se gemiddelde brandstof-verbruik is 7,9 liter per 100 km, en die brandstoftenks hou altesaam 150 liter; ‘n hooftenk van 87 liter en ‘n bykomende tenk van 63 liter. Die maksimum sleepvermoë van die 2,8 liter-modelle is 3 000 kg.

Daar is drie spesifikasievlakke beskikbaar. Die intreemodel is die TX, wat onder meer die volgende standaard kenmerke bied: ‘n middelste vastrapewenaar, dubbelsone-klimaatbeheer, Bluetooth, Android Auto- en Apple Car Play-verbinding, spoedbeheer, Toyota Connect-verbinding, lidgdiode-kopligte, kleurgekodeerde buitespieëls met geïntegreerde rigtingwysers, allooiwiele met 265-65 R 17-bande, sewe volle leersitplekke, agterste parkeersensors, sleepswaaibeheer, afdraandehulp en ‘n trukamera. In die middel van die reeks is die VX met die volgende bykomende kenmerke: allooiwiele met 265/65 R 18-bande, blindekol-monitor, verligte kanttrappies, elektries verstelbare voorsitplekke met geheueverstellings, ‘n oudiovisuele satellietnavigasie, ABS-remme wat spesigfiek vir veldrytoestande ontwikkel is, kruipbeheer, voorste en agterste parkeersensors, dwarsverkeerbeheer, verskillende bestuurs-modusse en ruitveërs wat reën bespeur. Die vlagskip van die reeks is die VX-L, met kenmerke soos ligdiodekopligte met outomatiese hoëstraalfunksie, aanpasbare spoedbeheer en  ‘n hout-en-leerstuurwiel. 

Die hele reeks word ook nou toegerus met ‘n nuwe negeduim-raakskerm met verbeterde stemherkenning, asook Android Auto en Apple Car Play. Daarby kan eienaars van selfoondienste soos Google Maps, Spotify, SoundCloud en Waze gebruik maak. 

Die pryse van die Prado-reeks, wat ‘n waarborg van drie jaar of 120 000 km en ‘n diensplan van nege versienings of 90 000km insluit, lyk só:

Prado 2.8L Diesel TX – R 939 900 

Prado 4.0L Petrol VX – R 1 029 000 

Prado 2.8L Diesel VX – R 1 060 600 

Prado 4.0L Petrol VX-L – R 1 072 600 

Prado 2.8L Diesel VX-L – R 1 105 800

Categories:
%d bloggers like this: