Toyota se Land Cruiser-reeks is seker die mees omvattende reeks vierwielaangedrewe voertuie op die plaaslike mark en heel bo-aan die reeks is die 200, wat veldryvermoë, weelde en betroubaarheid kombineer.

Die jongste weergawe van Toyota se vlagskip is pas bekendgestel en bou voort op die waardes wat sy voorganger daargestel het. Die reeks bestaan uit die GX en die nuwe luukse model, wat nou as die VX-R bekendstaan. Albei modelle word toegerus met ‘n turboaangejaagde V8-dieselenjin met 32 kleppe en ‘n verplasingsinhoud van 4, 5 liter ; hierdie enjin se kraglewering en wringkrag is egter nou verbeter. Die nuwe enjin lewer 195 Kw teen 3 400 opm en 650 Nm teen tussen 1 600 en 2 600 opm.  ‘n Outomatiese sesgangkatkas met ‘n laestrek oordra-ratkas is standaardtoerusting op albei modelle.

Die groot verskil tussen die twee modelle is die aantal sitplekke. Die GX het net vyf sitplekke, maar daar is plek vir sewe insittendes in die VX-R. Die afwerking van die binneruim van die twee modelle verskil ook heelwat. Die GX het PVC-vloerafwerking, deurafwering in viniel, materiaalbekleedsel vir die sitplekke, ‘n analoogspoedmeter, ‘n CD-speler met vier luidsprekers en  handverstelbare voorsitplekke,  Aan die buitekant het hy deurhandvatsels in chroom, halogeenkopligte, swart buitespieëls en ‘n snorkel vir dié wat deur water wil ry.

Die VX-R is baie beter toegerus. Benewens die twee bykomende sitplekke het hy ook ses bekerhouers, chroomafwering vir die deurhandvatsels aan die binnekant, leerbekleedsel, leerafwerking vir die deurpanele, volvloermatte, ‘n elektrochromatiese truspieël, ‘n oorhoofse konsole, ‘n leerafgewerkte rathefboomknop, ‘n stuurwiel wat met hout en leer afgewerk is, lugversorging vir agterste insittendes, ‘n DVD-speler met nege luidsprekers, elektries verstelbare sitplekke, ‘n TFT-inligtingspaneel tussen die spoedmeter en die toereteller, ‘n trukamera en ‘n koordlose selfoonlaaier.

An die buitekant is die VX-R ook baie luukser as sy goedkoper stalmaat. Onder die kenmerke wat hom onderskei, is LED-dagryligte, kleurgekodeerde deurhandvatsels, donker getinte vensters, outomatiese ruitveërs en kopligte en kleurgekodeerde elektrochromatiese buitespieëls met ‘n blindekolmonitor wat elektries weggevou kan word.

Die GX word toegerus met staalwiele van 17 duim terwyl allooiwiele van 18 duim standaardtoerusting vir die VX-R is. Albei modelle het volgrootte noodwiele wat onder die bakwerk gemonteer is. Daar is ‘n keuse van agt kleure vir die GX en nege vir die VX-R beskikbaar.

Die hele reeks word toegerus met veiligheidskenmerke soos sluitweerremme met noodremhulp en elektroniese remverspreiding, wegtrekbeheer teen steil bulte en stabiliteitsbeheer. Die VX-R het ook nog ‘n blindekolmonitor, ‘n waarskuwing as daar verkeer agter die voertuig is, ‘n banddrukmonitor,   voorste en agterste parkeersensors, en deure wat sluit sodra die voertuig wegtrek.

Die pryse van die twee modelle is R 999 900 vir die GX en R 1 345 00 vir die VX-R. Albei modelle word gerusteun deur ‘n waarborg van drie jaar of 100 000km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000km.

%d bloggers like this: