In 2016 het Land Rover die produksie van die legendariese Defender gestaak, maar het belowe om ‘n nuwe een te ontwikkel.

Na ‘n baie lang tydperk waarin daar baie oor die nuwe model bespiegel is en baie steelfoto’s gewys is, is die nuwe Defender uiteindelik internasionaal bekendgestel. Vir eers sal daar net ‘n 110-stasiewa beskikbaar wees maar die reeks sal in 2020 uitgebrei word wanneer ‘n 90-kortbak model bygevoeg sal word.

Die nuwe Defender is dalk tegnologies meer gevorderd as sy voorganger, maar is steeds gemik op avontuur-lustige veldryers wat op soek is na die eienskappe wat van die vorige Defender ‘n legende gemaak het.  Oor ‘n tydperk van sewentig jaar het verskeie Land Rover-modelle ‘n unieke plek in die harte van veldryers, avontuur-lustige gesinne en humanitêre organisasies ingeneem vanweë hul vermoë om selfs die strafste toestande baas te raak, en die nuwe model is daarop gemik om hierop voort te bou. Die nuwe Defender sluit hom aan by Land Rover se uiters bekwame Discovery en Discovery Sport, asook die Range Rover-reeks wat luuksheid met uitsonderlike veldry-vermoë kombineer.

Die silhoeët van die nuwe Defender bring hulde aan sy herkoms en kenmerke soos die kantvensters in die dak en die agterklap wat aan die kant geskarnier is en die noodwiel bevat, is vir die nuwe model behou.

Die binnekant spog met ‘n minimalistiese afwerking wat praktiese oorwegings voorop stel. Sekere kenmerke wat gewoonlik weggesteek word, is sigbaar en die rathefboom is in die paneelbord gemonteer om die opsie van ‘n derde voorsitplek, wat ‘n kenmerk van die oorspronklike Land Rover-modelle was, moontlik te maak. Gevolglik is die Defender 110 beskikbaar met vyf, ses of sewe sitplekke; laas-genoemde sluit twee sitplekke wat na mekaar toe kyk, in die bagasieruim in. Daar sal plek vir ses mense in die Defender 90 wees.  Die volerbedekking kan maklik gewas word en hoef net skoon geborsel of afgevee word. Die hele binne-ontwerp is prakties en funksioneel met verskeie hoog-en laag-gemonteerde bêreplekke vir los goedere. Die verskillende afwerkings-vlakke se bekleedsel verskil in dié sin dat die S en SE toegerus word met’n kombinasie van leer en tekstiel met bykomende vessel in plekke waar die sitplekke dalk die meeste beskadig kan word. Hierdie taai materiaal herinner aan dié van die seildakke waarmee vroeë Land Rover-modelle toegerus is. Die HSE spog met Windsor-leer terwyl die Defender X ‘n kombinasie van dié tipe leer en premium-tekstiel het. Voornemende kopers het ‘n keuse van drie kleurskemas vir die binneruim, en verskeie kombinasies  maak dit selfs makliker om die binneruim te verpersoonlik.

Die nuwe Defender-reeks sal met ‘n keuse van petrol- of diesel enjins beskikbaar wees. Die sessilinder-petrol enjin met ‘n kapasiteit van drie liter maak van ligte hibriedetegnologie gebruik en lewer 294 kW teen 5 500 opm  en 550 Nm teen tussen 2 000 en 5 000 opm. Die turbo-diesel enjin het vier silinders en ‘n kapasiteit van twee liter; hierdie enjin lewer 177 kW teen 4 000 opm en 430 Nm teen 1 400 opm. Hierdie enjins sal beskikbaar wees wanneer die Defender in 2020 hier bekendgestel word en verdere enjin-keuses sal ook in 2020 bekendgestel word. Albei enjins word gekoppel aan ‘n outomatiese ZF- agtgang-ratkas met laestrek wat ‘n reeks verhoudings bevat om sleepwerk en veldry-vermoë te vergemaklik. Die onderkant van die Defender se bakwerk is plat; dit beskerm die voertuig en maak ‘n sleurkoëffisiënt van 0,38 cd moontlik.

Die nuwe Defender sal nie net duursaam wees nie, maar ook tegnologies baie meer gevorderd wees as voorheen. Jaguar Land Rover se Privi Pro-inligting-en-vermaakstelsel met ‘n raakskerm van tien duim is standaard toerusting; dit is uiters gebruikers vriendelik, en dis nie nodig om te veel insette te lewer wanneer ‘n mens toegang wil hê tot funksies wat gereeld gebruik word nie. Die stelsel is só ontwerp dat dit altyd aan is, wat vinniger reaksietye moontlik maak. Die stelsel is versoenbaar met Android Auto en Apple Car Play. Die Bluetooth-tegnologie kan twee slimfone tegelyk koppel. In die tweede ry sitplekke is daar twee USB- en twee 12 volt-kragpunte en een van elk in die derde ry indien die voertuig daarmee toegerus is. In die bagasieruim is daar nog ‘n 12 volt-kragpunt asook ‘n huishoudelike 230 volt-driepuntprop.  Daar is ook ‘n uitlees-paneel teen die voorruit wat inligting oor toestande op die pad en in die veld vertoon en met video-tegnologie toegerus is. Nog ‘n vindingryke kenmerk is die Software Over The Air (SOTA)-stelsel wat die voertuig se programmatuur voortdurend opknap sonder dat dit nodig is om ‘n handelaar te besoek. Dit bevat veertien individuele modules wat van ‘n afstand af op datum gebring kan word. Deur data af te laai wanneer eienaars by die huis is of slaap, of dalk in afgeleë omgewings is, word die Defender al hoe beter met verloop van tyd deurdat elektroniese opdaterings die voertuig dadelik bereik. Wanneer daar programmatuur is wat bygewerk kan word, sal die eienaar deur middel van ‘n boodskap daarvan in kennis gestel word en dit sal geïnstalleer word wanneer dit vir hom of haar gerieflik is. Die digitale instrumente-paneel kan verander word om verskeie tipes inligting te wys; soos twee wyserplate, volskerm 3D-navigasie of ‘n kombinasie van die twee.  Die kaarte van die navigasie-stelsel sal deur middel van die SOTA-stelsel op datum gehou word.

Die vorige Defender was oral bekend vir sy uitsonderlike veldryvermoë, en die nuwe een beloof om daarop voort te bou. Die nuwe Defender spog met permanente vierwiel-aandrywing, ‘n sentrale ewenaarslot en ‘n opsionele aktiewe agterste ewenaarslot wat hom ewe geskik vir sand in die woestyn as ysige Arktiese toestande, en alles tussenin, maak. Die nuwe model word ook toegerus met ‘n Terrain Response-stelsel wat ervare veldyers in staat stel om hul voertuie volgens heersende toestande in te stel terwyl onervare bestuurders die stelsel kan toelaat om die regte instellings te bespeur deur die Intelligent Auto-funksie te gebruik. Daarby sorg die voertuig se Clear Sight Ground View-tegnologie dat bestuurders volle voordeel kan trek uit sy uitsonderlike veldryvermoë deur die omgewing wat gewoonlik die enjinkap, direk voor die voorwiele versteek word, op die raakskerm te vertoon. Daar sal ‘n verskeidenheid wiel-groottes van 18 duim tot 22 duim beskikbaar wees. Die nuwe Defender word ook toegerus met ‘n waterdigte aktiewer sleutel wat soos ‘n polshorlosie gedra word; dit stel die eienaar in staat om die voertuig van sy of haar pols af oop of toe te sluit. Daarby kan ‘n eienaar deur middel van ‘n slimfoon-toepassing inligting oor die voertuig se brandstofvlak, ligging en reisgeskiedenis kry en die klimaat-beheer stelsel verstel. Daar is kameras reg rondom wat ‘n 3D-beeld van die omgewing op die pad en in die veld vertoon.

Die Defender sal mettertyd beskikbaar wees as ‘n 90 of ‘n 110, met ses sitplekke in die 90 en vyf, ses of sewe sitplekke in die 110. Die reeks bestaan uit die Defender, First Edition en Defender X, en S, SE en HSE-spesifikasie-vlakke sal beskikbaar wees.  Daarby sal eienaars hul motors kan verpersoonlik deur middel van vier bykomstighede-pakkette; die Explorer, Adventure, Country en Urban-pakkette stel eienaars in staat om hul voertuie volgens behoefte toe te rus. Die First Edition sal vir die eerste produksie-jaar beskikbaar wees. Daarby sal ‘n beskermende film beskikbaar wees om die verfwerk te beskerm wanneer moeilike terrein aangepak word. Dit sal in drie kleure beskikbaar wees.

Land Rover beplan om die nuwe Defender in altesaam 128 lande bekend te stel; die nuwe model voldoen aan, of oorskry, die strengste vereistes vir omgewings-vriendelikheid en veiligheid  en eienaars het ‘n groot verskeidenheid keuses om hul voertuie te verpersoonlik.

%d bloggers like this: