Land Rover Defender is hier

0 Comments

Die veldryer waarna baie mense al sedert die einde van 2019 uitsien, is eindelik in Suid-Afrika bekendgestel.

Die plaaslike reeks bestaan aanvanklik uit vier 110-langas-afstand modelle met ‘n keuse van drie enjins, terwyl die korter model, die 90, later sal volg.

Daar is een diesel- en twee petrolenjins, almal met turbo-aanjaers, vir die Defender beskikbaar. Die twee liter viersilinder-dieselenjinword vir die D 240-modelle gebruik; hierdie enjin lewer 177 kW teen 4 000 opm en het ‘n wringkrag van 430 Nm teen 1 400 opm. Die P 300-modelle word aangedryf deur ‘n viersilinder tweeliter-petrolenjin, wat 221 kW teen 5 500 opm opwek en wringkrag van 400 Nm tussen 1 500 en 4 000 opm lewer. Die sessilinder drieliter enjin, wat in die P 400 MHEV-modelle gebruik word, lewer 294 kW teen 5 500 opm en het ‘n wringkrag van 550 Nm tussen 2 000 en 5 000 opm.  Die P 400 word met 48 V-ligte hibriede-tegnologie toegerus. Hierdie stelsel berg energie, wat verlore gaan wanneer die voertuig spoed verminder en hergebruik dit om die enjin se doeltreffendheid te verbeter. Die hele reeks kry ‘n outomatiese ratkas met agt gange as standaard toerusting.

Altesaam vier spesifikasie-vlakke is vir die Defender beskikbaar, en elkeen kan met enige van die drie enjins toegerus word. Die intreevlak model is die Defender 110, met onder meer 360 grade parkeer-hulp, ‘n 3D-kamera reg rondom die voertuig, ses lugsakke, baanhou-hulp, staal-wiele van 18 duim, voorsitplekke met agt verstellings, elektroniese lugvering, satelliet navigasie, spoedbeheer, baanhou-hulp en noodrem-hulp. Die S bied onder meer die volgende bykomende kenmerke: ligdiode-kopligte met outomatiese hoërstaal-hulp, allooiwiele van 19 duim, ‘n middelkonsole met ‘n armleuning en ‘n Pivi Pro-klankstelsel met ‘n tienduim-raakskerm.  

Onder die bykomende kenmerke waarmee die SE toegerus word, is kleurgekodeerde deurhandvatsels, premium ligdiode-kopligte met dagryligte en voorste misligte, sleutellose toegang, 20-duim allooiwiele, en elektries verstelbare voorsitplekke met twaalf verstellings. Die vlagskip is die HSE, met bykomende kenmerke soos ‘n panoramiese sondak, leerbekleedsel, voorsitplekke wat verhit en verkoel kan word en oor veertien verstellings beskik en donker-grys 20-duim allooiwiele. 

Die oogmerk met die ontwikkeling van die nuwe Defender was om ‘n nuwe weergawe van ‘n legende te skep; uitstaande stilerings-kenmerke soos die vensters in die dak bokant die agterdeure, asook die agterklap wat aan die kant geskarnier is en die volgrootte noodwiel kan dra, het behoue gebly, maar die nuwe model is tegnologies baie meer gevorderd as sy voorganger en word as die beste veldry-voertuig tot nog toe beskou. Die silhoeët van die Defender is egter onmiskenbaar. Die voorste en agterste oorhange sorg vir die beste inval- en vertrekhoeke moontlik. Die Ingenium-enjinreeks word ook in verskeie ander Jaguar- en Land Rover-modelle gebruik.

Die gerief van die bestuurders en passasiers word beklemtoon deur stewige gryphandvatsels by die deure en aan weerskante van die middel-konsole, genoeg bêreplek vir los goedere, ‘n koordlose selfoon-laaier en USB-kragpunte oral in die kajuit waarmee selfone en tablette gelaai kan word. Daar is ook Android Auto- en Apple Car Play-verbinding, en die binneruim kan verander word om tussen twee en sewe mense te vervoer. 

Die pryse van die Defender 110-reeks, wat ‘n onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km insluit,  lyk as volg:

Defender 110 D 240:  R 1 050 100

Defender 110 P 300: R 1 050 100

Defender 110 P 400 MHEV: R 1 187 000

Defender 110 S D 240: R 1 096 100

Defender 110 S P 300: R 1 096 100

Defender 110 S P 400 MHEV: R 1 224 200

Defender 110 SE D 240: R 1 155 600

Defender 110 SE P 300: R 1 155 600

Defender 110 SE P 400 MHEV: R 1 286 700

Defender 110 HSE D 240: R 1 259 800

Defender 110 HSE P 300: R 1 259 800

Defender 110 HSE P 400 MHEV : R 1 387 900