Land Rover knap Discovery gou op

0 Comments

Meer as dertig jaar lank al is die Land Rover Discovery een van die gewildste sportnutvoertuie ter wêreld, en Land Rover Suid-Afrika het aangekondig dat die jongste weergawe vroeg aanstaande jaar hier beskikbaar sal wees.

Die nuwe model sal ‘n opgeknapte weergawe van die bestaande een wees en ‘n keuse van twee Ingenium-ses-silinder enjins bied. Die P 360 sal met ‘n drieliter-petrol enjin met ses-silinders toegerus word en oor 48 V ligte hibriede-tegnologie beskik. Hierdie enjin lewer 265 kW teen tusen 5 500 en 6 500 opm en wringkrag van 500 Nm teen tussen 1 750 en 5 000 opm. Die drieliter-turbodiesel enjin met ses silinders waarmee die P 300 toegerus word, vervang die vorige SD 4 en SD V6 vervang, lewer 221 kW teen 4 000 opm en wringkrag van 650 Nm teen tussen 1 500 en 2 500 opm. Albei hierdie enjins word aan ‘n outomatiese ratkas met agt gange gekoppel. 

Sommige ontwerpkenmerke wat al die afgelope dertig jaar deel van die Discovery is, word ook op die nuwe model aangetref, onder meer die omkrul-enjinkap, die dak wat agter hoër as voor is en die hoogs sibgare C-pilaar maar daar is tog ‘n paar verskille tussen die nuwe Discovery en sy voorganger.  Aan die voorkant is daar nuwe ligdiode-kopligte met dagryligte wat laer as voorheen gemonteer is, en die herontwerpte voorstamper bevat luguitlate  in dieselfde kleur as die bakwerk aan weerskante. Daar is ook nuwe luguitlate aan die kante.  Die nuwe ligdiode-agterligte word met ‘n glansswart paneel aan mekaar verbind. Hierdie paneel bevat die Discovery-naam en het ‘n skoner voorkoms as voorheen.  Die R-Dynamic-pakket wat standaardtoerusting vir die meeste modelle is, bevat glansswart en Shadow Atlas-afwerking aan die buitekant en binne is daar leerbekleedsel in twee kleure met kontrasterende sitkwerk. 

Aan die binnekant is die nuwe Discovery tegnologies meer gevorderd as sy voorganger, hoofsaaklik danksy die Pivi Pro-inligting-en-vermaakstelsel.  Die herontwerpte middelkonsole bevat ‘n hoëdefinisie-raakskerm van 11,4 duim, 48% groter as voorheen, en volgens die vervaardiger is dit uiters gebruikers-vriendelik.  Die stelsel reageer onmiddellik, ook wanneer die voertuig aangesit word, en die kieslys gee onmiddellike toegang tot die belangrikste funksies regstreeks van die tuisskerm af om die bestuurder se aandag so min as moontlik af te trek.  Die stelsel is só ontwerp dat twee LTE-modums tegelyk gebruik kan word, om die stelsel deur die internet by te werk en terselfdetyd media te stroom sonder dat verrigting ingeboet word.

Land Rover se Software Over The Air (SOTA)-tegnologie stel die bestuurder in staat om die programmatuur op datum te hou sonder om ‘n handelaar te besoek. Die hoëresolusie-digitale instrumentepaneel kan gewone instrumente of die 3D-nagivasiestelsel se besonderhede wys, of die twee kan gekombineer word, soos wat die bestuurder dit  verkies. Twee slimfone kan tegelyk deur middel van Bluetooth, Apple Car Play of Android Auto gekoppel word en ‘n koordlose laaier met tegnologie wat siensterkte verbeter, is opsioneel vir die hele reeks beskikbaar.  Daar is ook ‘n uitleespaneel in volkleur tussen  die voorruit en die instrumentepaneel beskikbaar warop belangrike inligting vertoon word. Die agterkante van die voorsitplekke bevat Click and Go-tablethouers asook USB tipe A-laaipunte. Die 4G Wi Fi maak dat agterste insittendes hulself selfs met lang ritte besig kan hou.  Die nuwe vierspeekstuurwiel bevat skakelaars wat net sigbaar is as dit verlig word, asook ratspane.

Die Discovery was nog altyd bekend vir sy veelsydigheid en ‘n agterklap wat oopmak wanneer ‘n voet onder die stamper bespeur word terwyl die bestuuder die sleutel in sy of haar sak het, is standaard toerusting vir die HSE R-Dynamic en opsioneel vir die res van die reeks.  Daar is ‘n aantal sensors wat bepaal hoeveel wrinkrag na die voor- of agterwiele versprei word na aanleiding van die heersende padtoestande. Die Intelligent All Wheel Drive-stelsel sorg vir maksimum vastrap-vermoë, dinamika onder normale padtoestande, verbeterde brandstof-doeltreffendheid en verbeterde CO2-vlakke. Daarby is lugvering standaard toerusting; dit verbeter rygerief onder alle omstandighede en Adaptive Dynamics-dempertegnologie reageer op insette van die bestuurder en padtoestande. Die Terrain Response 2-stelsel pas by heersende toestande op die pad en in die veld aan en Wade Mode maak dat die bestuurder dieper in die water kan ry. Daar word outomaties gerem wanneer Wade Mode gedeaktiveer word en die remme kan daarna tot hul volle potensiaal benut word. Een belangrike nuwe kenmerk is Clear Sight Ground View, wat bestuurders in staat stel om te sien wat onder die voorkant van die voertuig in die veld gebeur. Dit kan gedoen word met behulp van die raakskerm en kameras wat vorentoe kyk. 

Die nuwe Discovery sal in die eerste helfte van 2021 in S, SE R-Dynamic en HSE R-Dynamic-spesifikasievlakke beskikbaar wees.  Die pryse van die nuwe modelle, wat ‘n waarborg en onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km insluit, lyk só:

D300 S                         R1,452,700

D300 SE R-Dynamic    R1,561,200

D300 HSE R-Dynamic R1,675,900

P360 S                         R1,487,600

P360 SE R-Dynamic     R1,596,100

P360 HSE R-Dynamic R1,710,900

Categories:
%d bloggers like this: