Breaking News

Land Rover knap sy Discovery op

Die jongste weergawe van die Land Rover Discovery is pas in Suid-Afrika bekendgestel.

Die nuwe weergawe spog nie net met opgeknapte stilering binne en buite nie, maar ook met die jongste tegnologie wat nuwe petrol- en diesel-enjins insluit.

Aan die voorkant is daar nuwe ligdiode-kopligte wat dagryligte aan die onderkant insluit, terwyl die luguitlate aan die kant van die voertuig dieselfde kleur as die bakwerk is. Die voorstamper is herontwerp en aan die agterkant is daar ‘n glansswart paneel met die Discovery-kenteken tussen die agterligte.

Die SE en HSE spog met ‘n nuwe R-Dynamic-pakket wat unieke ontwerpelemente bied, soos glansswart en Shadow Atlas-aksente aan die buitekant asook leerbekleedsel in twee kleure met kontrasterende stikwerk. Die premium-kopligte met ligdiode-tegnologie wat ‘n kleur voortbring wat so naby as moontlik aan daglig is. Dit help om moegheid teen te werk, en stel die bestuurder in staat om voorwerpe makliker te onderskei. Daarby maak outomatiese hoërstraalhulp, wat die kopl,igte outomaties op hoërstraal aanskakel en domp wanneer daar aankomende verkeer is, dit makliker om in die nag te bestuur.

Daar is twee nuwe Ingenium-enjins, elk met ‘n verplasingsinhoud van drie liter. Die petrol enjin wat vir die P 360 gebruik word, beskik oor 48 volt- ligte hibriedetegnologie vir verbeterde werkverrigting en doeltreffendheid. Hierdie enjin lewer 265 kW en 500 Nm. Die nuwe turbodieselenjin wat vir die D 300 gebruik word, vervang die vorige SD 4 en SD V6-diesel enjins en lewer 221 kW en 650 Nm.

%d bloggers like this: