Deur Gerrie Smit

Die nuwe vyfde geslag Land Rover Discovery wat in Julie vanjaar geloods gaan word, het in sy arsenaal van vele vernuftige slim funksies om die lewe vir jou aansienlik makliker te maak, onder andere ‘n afstandbeheerde sitplekuitlegstelsel.

Die bestuurder kan sy of haar slimfoon, die raakskerm van die inligting-en-vermaakstelsel op die konsolebord óf knoppies binne die agterklap gebruik om die sitplekke maklik te skuif en selfs te laat opvou. Dit beteken geen gesukkel om fisies sitplekke op te vou of te skuif nie. Veral dames of bejaardes, wat nie altyd die nodige fisieke krag het om hierdie taak aan te pak nie, sal by hierdie innovasie baat kan vind.

Daar sal vier spesifikasievlakke beskikbaar wees, naamlik ‘n S-, SE-, HSE-, HSE Luxury-model en vir ‘n kort rukkie totdat dit opgekoop is, sal daar net 35 sogenaamde “First Edition”-modelle ook te koop aangebied word.

Twee drie liter-enjins sal beskikbaar wees, naamlik ‘n petrolenjin met ‘n drukaanjaer en ‘n turbo-ondersteunde dieselenjin. Die petrolenjin gaan ‘n kraglewering van 250 kW en ‘n maksimum wringkrag van 450 Nm bied terwyl die dieselenjin op sy beurt 190 kW en’n allemintige 600 Nm wringkrag sal lewer.

Lugvering, satellietnavigasie en LED-kopligte sal standaardtoerusting op al die modelle behalwe in die intreevlak “S”-model wees.

Met ‘n maksimum-sleepkapasiteit van 3 500 kg gaan die nuwe Discovery weereens die ideale sleepvoertuig wees. Al die modelle het ‘n verwyderbare trekstang, sleephulp en stabiliteitsbeheer as standaardtoerusting. Daar is egter ook ‘n “Advanced Tow Assist” wat van die SE-spesifikasievlak af boontoe as ‘n keuse beskikbaar sal wees. Hierdie stelsel stel die bestuurder in staat om die rigting waarin die woonwa of sleepwa beweeg, te volg deur ‘n knoppie van die Terrain Response 2-stelsel op die middelste konsole te gebruik.

Alle modelle sal toegerus wees met Land Rover se In Control Protect, wat padbystand met die druk van ‘n knoppie ontbied, asook ‘n noodbystandsknoppie wat nooddienste in die geval van ‘n botsing outomaties namens jou sal ontbied.

Die Discovery sal ook net so prakties soos sy voorgangers wees. Nie net kan die nuwe Discovery deur water met ‘n diepte van tot 900 mm ry nie, maar dit kan ook steeds sewe mense vervoer en as al die agter-sitplekke platgevou is, bied dit ‘n tamaaie laairuimte van 2 500 liter.

Pryse wissel van R980 000 vir die 3.0 Liter TD6 Diesel Automaties S tot R 1,331,500 vir die HSE Luxury petrolweergawe.

Die beperkte “First Edition”-modelle met die dieselenjin gaan elk R 1,440,000 kos, terwyl die petrolweergawe R 1,457,500 gaan kos.

Hierdie pryse kan egter verander en voornemende kopers word aangeraai om so gou as moontlik hulle bestellings te plaas. Die Land Rover Discovery is ‘n gesogte voertuig en om lang waglyste te voorkom het Land Rover in Suid-Afrika op hulle webtuiste, www.landrover.co.za, solank reeds ‘n platvorm geskep waar nuuskieriges en voornemende kopers na al die moontlike spesifikasies kan kyk en so speel-speel hul eie Discovery denkbeeldig kan“ontwerp” en selfs bestel.