Deur Neels Rabe.

Wêreld Uithoukampioenskap ronde 2 – Le Mans 24-uur (16 – 17 Junie 2018). Toyota is die wenners.

Daar was ‘n korporatiewe slaak van verligting regdeur die magtige Toyota-organisasie toe die vervaardiger uiteindelik met sy twintigste besoek aan Le Mans, die spreekwoordelike knoop deurgehaak kon kry. Le Mans 2018 was Toyota s’n om te wen nadat Audi en Porsche aan die reeks onttrek het.

Die hoogs tegnologies-gevorderde motors met hul bykans 1000 perdekrag, is egter ook ‘n bondel van duisende potensiële probleme wat hul blitsvinnig uit die wedren kan boender. Beide Toyotas loop egter perfek en die span se twee motors eindig gemaklik eerste en tweede. Dis gepas dat die man wat in 2016 agter die stuur was toe die eerste Toyota oorwinning op dramatiese wyse op die heel laaste rondte beëindig is, Kazuki Nakajima, hierdie keer die geruite vlag kon ontvang as oorwinnaar.

Vanuit ‘n bemarkings-oogpunt was die toevoeging van dubbele F1 kampioen Fernando Alonso ‘n briljante skuif. Volgens alle aanduidings het Alsonso dan ook sy reputasie gestand gedoen, veral tydens sy drie-dubbele nagskof. Hierdie oorwinning plaas hom dan ook in ‘n goeie posisie om motorsport se sogenaamde drie-dubbele kroon te wen. Hy het reeds die Monaco F1 Grand Prix gewen. Die enigste uitstaande oorwinning is die Indy 500. Slegs die Britse jaer Graham Hill kon tot op hede hierdie prestasie vermag.

Die Rebellion R13 Gibson van Thomas Laurent, Mathias Beche en Gustavo Menezes eindig 12 rondtes agter die voorste Toyota. Die Toyotas was meer as 4 sekondes vinniger as die ander motors tydens die oefenrondtes. Ten spyte van die pogings van die kampioenskap-organiseerders om deur middel van allerhande reëls die privaatspanne ook ‘n kans te gee, wys dit dat daar tans nie veel sprake is van ‘n gelyke speelveld nie.

2018 Le Mans 24-uur uitslag

1  Toyota Gazoo Racing Toyota TS050 Hybrid (Alonso/Buemi/Nakajima) 388 rondtes

2  Toyota Gazoo Racing Toyota TS050 Hybrid (Conway/Kobayashi/Lopez) +2 rondtes

3  Rebellion Racing Rebellion R13 Gibson (Beche/Laurent/Menezes) +12 rondtes

4  Rebellion Racing Rebellion R13 Gibson (Jani/Lotterer/Senna) +13 rondtes

5  G-Drive Racing Oreca 07 Gibson (Rusinov/Vergne/Pizzitola) LMP2 +19 rondtes

2018 Kampioenskap na afloop van 17 Junie 2018

1  Toyota Gazoo Racing Toyota TS050 Hybrid (Alonso/Buemi/Nakajima)  –  65

2  Toyota Gazoo Racing Toyota TS050 Hybrid (Conway/Kobayashi/Lopez)  –  45

3  Rebellion Racing Rebellion R13 Gibson (Beche/Laurent/Menezes)  –  38

4  Signatech Alpine Matmut Alpine A470 Gibson (Lapierre/Negrao/Thiriet) LMP2 –  21

5  Rebellion Racing Rebellion R13 Gibson (Lotterer/Senna/Jani)  – 18

 

%d bloggers like this: