MotorPlus.co.za

In die laat 1950’s was die Borgward Isabella een van die topverkoper-motors in Suid-Afrika, maar in 1962 het dié motor van die mark verdwyn toe Bogward van die internasionale mark onttrek het.

Daar is egter nou goeie nuus, naamlik dat dié Duitse vervaardiger op pad terug is. Tydens die Frankfurtse Motorskou verlede jaar is die eerste nuwe Bogward in meer as vyftig jaar, die BX 7, vir die eerste keer aan die wêreld vertoon. Dit is ‘n sportnutsvoertuig met ‘n turboaangejaagde viersilinderenjin van 1 981 cc en is beskikbaar met vyf of sewe sitplekke. Die BX 7 se enjin lewer 165 kw teen 5 500 en wringkrag van 300 Nm teen tussen 1 500 en 4 500 opm.  Intussen is ‘n kleiner model, bekend as die BX5, ook by die reeks gevoeg. Die BX 5 se viersilinderenjin hewt ‘n verplasingsinhoud van 1 797 cc, en hy lewer 140 kw teen 5 500 opm en wringkrag van 280 Nm teen tussen 1 750 en 4 500 opm. Albei modelle het permanente vierwielaandrywing en outomatiese ratkaste.

Christian Borgward, die kleinseun van die stigter van die maatskappy Carl Borgward, sê dat hy Suid-Afrika as ‘n uiters belangrike mark beskou, juis omdat die oorspronklike motors so gewild in Suid-Afrika was. Volgens Aners Warming, die hoofontwerper van Borgward, sal die nuwe gveslag modelle die nalatenskap van die verlede met die eise van moderne tegnologie kombineer. Die voorsitter en uitvoerende hoof van die maatskappy, Ulrich Walker, glo dat Borgward gou sy plek in die internasionale motorbedryf sal kan volstaan.

Borgward het ook ‘n spesiale weergawe van die BX 7, bekend as die BX7 DKR, vir vanjaar se Dakar-tydren ingeskryf.  Volgens die maatskappy is die belangrikste rede hiervoor die herbekendstrelling van Borgward in Suid-Amerika. Nie net sal deelname aan die Dakar-tydren die vervaardiger se gewildheid in dié gebied laat toeneem nie; dit sal ook die BX 7 se betroubaarheid en duursaamheid in die taaiste motorwedren ter wêreld ten toon stel. Die BX 7 DKR is ‘n volbloed-sportnuts-prototipe wat spesifiek vir die Dakar-tydren geskep is. Sy voorkoms is op die standaardmodel gebaseer en hy ding mee in die T1.1-prototipeklas. Die DKR word bestuur deur Nicholas Fuchs, wa van Peru afkomstig is, maar oorspronklik van Duitse herkoms is. Fuchs is ‘n ervare renjaer wat in 2013 die WRC2-kampioenskap gewen het. Hy het ook al verskeie uithouwedrenne in Noord- en Suid-Amerika gewen en hy beskou dit as ‘n groot eer om vir Borgward deel te neem. Hy glo dat die BX7 die vermoë het om uiters suksesvol te wees.

Die BX 7 is internasionaal in twee modelle beskikbaar, naamlik die standaardmodel en die BX 7 TS . Laasgenoemde se bykomende kenmerke sluit onder meer ‘n luukser binneruim, groter wiele, ‘n dakrak en ‘n unieke sierrooster in. Daar sal later ook ‘n hibriede-weergawe by die reeks gevoeg word.

Die BX 5 en BX 7 word in China deur Foton vervaardig en sal mettertyd ook in Duitsland en ander Europese lande beskikbaar wees. Dit is te vroeg om te sê wanneer Borgward na Suid-Afrika sal terugkeer.

 

%d bloggers like this: