Deur Daantjie Badenhorst.

In 1968 het Peugeot ‘n nuwe model bekendgestel wat tot in die 1980’s internasionaal suksesvol sou wees. Die 504 het die volgende jaar die Europese Motor van die Jaar-kompetisie gewen en, soos wat amper die
norm in daardie dae was, moes Suid-Afrikaanse motoriste lank wag voordat hy hier bekendgestel is. Die oorspronklike 504 het ‘n 1,8 liter-enjin gehad maar teen die tyd wat hy in Suid-Afrika bekendgestel is, is
die enjinkapasiteit na twee liter vergroot. Die koepee- en afslaankapmodelle is in 1969 oorsee bekendgestel maar weens streng invoerbeheer is hierdie twee modelle nie vir die Suid-Afrikaanse mark
oorweeg nie.

In hierdie artikel word daar op die 504 se geskiedenis in Suid-Afrika gekonsentreer.

Die eerste kans wat die Suid-Afrikaanse publiek gehad het om die 504 te sien, was by die Autopret-motorskou wat in Februarie 1971 in Pretoria gehou is. Na afloop van dié skou is die 504 hier bekendgestel in net een model, naamlik ‘n vierdeursedan met die tweeliter-enjin wat in Suid-Afrika vervaardig is. In 1972 is ‘n model by die outomatiese ratkas by die reeks gevoeg, terwyl die vlagskip van die reeks, die 504 Ti in 1973 bekendgestel is. Hierdie model het ‘n paar bykomende kenmerke gehad naas die petrolingespuite weergawe van die standaardmodel se enjin. Die Ti was onder meer ook toegerus met ‘n toereteller en ‘n sondak terwyl ‘n aantal metaalkleure eksklusief vir hom beskikbaar was.

Die reeks is in 1974 verder uitgebrei met die toevoeging van die stasiewa. Hoewel dié model oorsee met sewe sitplekke beskikbaar was, was vyf sitplekke vir eers standaardtoerusting vir die Suid-Afrikaanse model. Die groot verskil aan die binnekant was dat ‘n lang rathefboom, soortgelyk aan dié wat die vroeë Mini-modelle gehad het, vir die stasiewa gebruik is. Die stasiewa was meganies dieselfde as die gewone tweeliter-model. Die volgende jaar het die hele reeks nuwe deurhandvatsels en ‘n nuwe stuurwiel gekry en die Ti was met ‘n outomatiese ratkas beskikbaar.

In 1976 het Peugeot besluit om die uiters gewilde 404-stasiewa aan die Suid-Afrikaanse mark te onttrek. Dit kon ‘n groot verlies gewees het, maar ‘n nuwe model teen ‘n laer prys is by die 504-reeks gevoeg. Die
504 L-stasiewa het dieselfde 1,8 liter-enjin as die 404 GL gehad, tesame met ‘n nuwe instrumentepaneel wat ‘n lang spoedmeter eerder as ronde instrumente ingesluit het. Binne vier maande is ‘n sedanweergawe
van die 504 L by die reeks gevoeg, en hy het ook die stasiewa se lang rathefboom gehad. Dit het gemaak dat die 504 se verkope die hoogte ingeskiet het, veral nadat die outomatiese 504 L ook bygevoeg is.
Hierdie model het dieselfde ratkieser as die outomatiese tweelitermodelle gehad.

Suid-Afrikaanse vervaardigers was maar skrikkerig om modelle met dieselenjins by hul reekse te voeg, al was die 404-dieselbakkie uiters suksesvol. Peugeot het gehoop om op hierdie sukses voort te bou deur
twee dieselmodelle by die 504-reeks te voeg. Die 504 D en die 504 GLD het enjins van onderskeidelik twee en 2,3 liter gehad, maar was nie lank deel van die reeks nie.

Die grootste verandering sou egter in 1978 kom toe Peugeot deel van die Sigma-motorkorporasie geword het. Teen die einde van daardie jaar is produksie by Sigma se aanleg in Pretoria begin, maar die enigste
verandering aan die reeks was dat die 504 L ‘n nuwe instrumentepaneel met ronde instrumente en dieselfde rathefboom as die res van die reeks gekry het. Dit was egter die begin van ‘n nuwe tydvak in die
504 se geskiedenis. Teen die einde van 1980 is die 504 GL en Ti deur die 505 vervang. Die 504L het detailveranderinge ondergaan en het voortaan as die 504 GR bekendgestaan, met die 1,8 liter-enjin as
standaardtoerusting. Die stasiewa was egter steeds met die tweeliterenjin beskikbaar en ‘n model met sewe sitplekke, bekend as die Super 7, is bekendgestel.

Dit was egter op daardie stadium al duidelik dat die 504 sy ouderdom begin wys het. Die 505-reeks het meer aandag geniet, hoewel die stasiewa-model nooit in Suid-Afrika bekendgestel is nie. Om sake te
vererger, het die 504 se bou-gehalte agteruitgegaan en verkope het afgeneem. In 1984 is die 504 finaal aan die Suid-Afrikaanse mark onttrek.

Die einde van Peugeot in Suid-Afrika was naby. Met die onttrekking van die 504 aan die mark en die besluit om nie die opgeknapte 305 in Suid-Afrika bekend te stel nie, was dit duidelik dat Peugeot nie veel
langer in Suid-Afrika sou word nie. Die Franse regering se negatiewe houding teenoor Suid-Afrika was die finale spyker in die doodskis en teen die einde van 1985 is Peugeot se onttrekking aan die
Suid=Afrikaanse mark aangekondig. Toe dié maatskappy tien jaar later weer tot die plaaslike mark
toegetree het, het hulle dit as invoerder gedoen.

%d bloggers like this: