Lexus brei UX-reeks uit

0 Comments

Lexus het pas ‘n nuwe model by sy UX-reeks gevoeg, wat beteken dat daar nou altesaam vier modelle beskikbaar is.

Die nuweling is die intree-vlak model met die hibriede-kragbron, wat as die UX 250h EX bekendstaan. Die reeks bestaan nou uit die UX 200 EX, die UX 250h EX, die UX 250h SE en die topmodel, die UX 200 F-Sport.

Die UX 250h EX word toegerus met dieselfde hibriede-enjin as die SE, wat 107 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 180 Nm teen 4 400 opm lewer. Die totale kraglewering van die gekombineerde petrol- en -elektriese kragbron is 135 kW.  Sy gemiddelde brandstrof-verbuik is 4,5 liter per 100 km en uitlaatgasse word teen 103 g/km uitgeskei.  Soos die SE word die EX met ‘n ECVT-palwissel ratkas toegerus. 

Die EX spog met standaard kenmerke soos parkeer-afstand beheer met ‘n trukmaera wat nie oor ‘n panoramiese aansig beskik nie, sleutellose toegang met ‘n aansit-knoppie, twee USB-kragpunte agter, ‘n elektries beheerde agterklap en satelliet-navigasie. Die SE voeg kenmerke soos aanpasbare spoed beheer, dertien luidsprekers pleks van agt, baanhou-hulp, geventileerde sitplekke, ‘n blindekol monitor, outo-hoëstraalkopligte, elektrochromatiese buitespieëls en voorbots-waarskuwing by. Die Drive Mode Selector stel die bestuurder in staat om een van verskillende bestuurs-modusse te kies, naamlik Normal, Eco en Sport. 

Aan die binnekant is daar vyf kleure vir die Nulux-kunsleer sitplekke beskikbaar, en die afstand beheerde raakskerm werk soos ‘n slimfoon. Die klankstelsel beskik oor agt luidsprekers en daar is ‘n koordlose selfoonlaaier. Die stelsel werk met Android Auto en Apple Car Play en gratis Wi Fi-verbinding vir alle insittendes onder die Lexus Connect-vaandel beskikbaar. 

Die ligdiode-dagryligte  is in ‘n pylkopmotief bo die kopligte gerangskik en weerspieël Lexus se L-vormige beligting kenmerk terwyl die 18-duim allooi wiele in silwer afgewerk is. Daar is nie minder nie as elf bakkleure om van te kies. 

Die hele UX-reeks word gerugsteun deur ‘n toonaangewende volle instandhoudingsplan van sewe jaar of 105 000 km met diens-tussenposes van 15 000 km of een keer per jaar. Die pryse van die UX-reeks lyk soos volg:

UX 200 EX:  R 654 700
UX 250h EX: R 690 300
UX 250h SE: R 756 200
UX 200 F Sport: R 785 400

Categories:
%d bloggers like this: