Breaking News

Lexus wys sy groot veldryer

Lexus het pas die tweede model van sy nuwe geslag sportnutsvoertuie aan die internasionale media gewys.

Die nuwe Lexus LX is gebaseer op die Toyota Land Cruiser 300, en deel dieselfde meganiese spesifikasies.  Die nuwe model is die opvolger van die oorspronklike LX, wat reeds in 1996 bekendgestel is en goed ontvang is as gevolg van sy werkverrigting, bougehalte en veldryvermoë. Teen die einde Augustus 2021 is daar reeds meer as 500 000 eenhede van die LX in vyftig lande verkoop, onder meer in Suid-Afrika.

Aan die voorkant is daar ‘n groter weergawe van Lexus se kenmerkende sierrooster, en vir die eerste keer is ‘n F Sport-model, met ‘n rooster wat in swart eerder as chroom afgewerk word, beskikbaar. Aan die agterkant word die Lexus-kenteken vervang met die Lexus-naam wat oor die breeder van die agterklap uitgeskryf word; dit sal ‘n uitstaande kenmerk van Lexus se nuwe geslag , wat ook die nuwe NX insluit, wees. Die agterligte bevat ook ‘n dun strook wat oor die breedte van die agteraansig loop. Die nuwe allooiwiele van 22 duim is die grootste wat tot nog toe vir ‘n Lexus gebruik is. 

Die binnekant bevat Lexus se eerste dubbele skerm, met ‘n boonste skerm van 12,3 duim en ‘n onderste een van sewe duim. Dit sluit ‘n kamera wat die bestuurder in staat stel om die agterste deel van die voertuig te sien; dit is die eerste kamera van sy soort ter wêreld. Die F Sport, wat vir sportiewe verrigting op kronkelpaaie sorg, is een van twee nuwe modelle wat internasionaal beskikbaar is. Die ander een is die VIP, wat spesiaal ontwerp is met vier afsonderlike sitplekke vir elegante en veilige motorry op alle soorte paaie. Een belangrike veiligheidskenmerk wat standaardtoerusting sal wees, is vingeradfruk-herkenning vir die aansitknoppie, om diefstal of motorkaping teen te werk. 

Die nuwe LX word vroeg in 2022 in Suid-Afrika verwag, en verdere besonderhede, soos die samestelling van die reeks, spesifikasies en pryse, sal dan bekendgemaak word.

%d bloggers like this: