Met die NX-model het Lexus vir die eerste keer toegetree tot die marksegment vir luukse kompakte sportnutsvoertuie.

Dié modelreeks het nou ‘n paar veranderinge vir die 2018 ondergaan. Behalwe die kosmetiese veranderinge is daar nuwe modelbenamings en ‘n nuwe intreemodel. Die hele reeks kry voortaan die 300-benaming; die logika agter die 300-benaming is dat die vier-silinder turbo-aangejaagde tweeliter-enjin waarmee die meeste modelle toegerus is, dieselfde krag en wringkrag as ‘n gewone drie liter enjin wek.

Dit is ‘n turbo-aangejaagde tweeliterenjin met vier silinders wat 175 Kw teen tussen 4 800 en 5600 opm en 350 Nm teen tussen 1 650 en 4 000 opm lewer. Die 300h is toegerus met ‘n hibriede-enjin van 2,5 liter met vier silinders wat 150kw teen  5 700 opm en 210 Nm teen tussen 4 200 en 4 400 opm lewer.

Die nuwe Lexus NX intreemodel is die NX 300E. Hierdie model is tweewiel-aangedrewe en het ‘n outomatiese ratkas met ses gange as standaardtoerusting. Ander standaardkenmerke is outomatiese ruitveërs, halogeenkopligte met LED-dagryligte, ‘n tru-kamera, ‘n koordlose selfoonlaaier, ‘n klankstelsel met agt luidsprekers, buitespieëls wat met kraghulp wegvou, dubbelsone klimaatbeheer, sleutellose toegang, deure wat outomaties sluit, spoedbeheer , 17-duim allooiwiele en sintetiese leersitplekke.

Die EX is die middelste model in die reeks en onder die bykomende kenmerke waarmee hy toegerus is, is ‘n elektro-chromatiese truspieël binne, 18 duim allooiwiele, satellietnavigasie, parkeersensors, dakreëlings en verhitbare voorsitplekke. Daarby is die raakskerm nou tien duim groot, pleks van die vorige model se sewe duim. Die horlosie is ook aan die navigasiestelsel gekoppel.

Die F Sport is nie net die vlagskip nie maar ook die sportiewe model in die reeks. Hierdie model voeg ‘n aantal ekstra kenmerke by. Die F Sport se klankstelsel het tien luidsprekers; verder is hy ook toegerus met ‘n bestuurdersitplek met ‘n geheue, spesiale allooiwiele, ‘n panoramiese dak sonder dakrelings, verhitbare en geventileerde voorsitplekke, LED-kopligte, ‘n blindekolmonitor tesame met ‘n stelsel wat jou waarsku as jy per abuis jou baan op die oop pad verlaat,  ‘n kragbeheerde agterklap, verskillende bestuursmodusse asook ‘n panoramiese moniytor wat die bestuurder in staat stel om te sien wat agter in die motor gebeur.

Die 300 is met al drie spesifikasievlakke beskikbaar maar die hibriedemodel, die 300h,  net met die EX-afwerking.  Die 300 behou die enjin van die vorige 200t-modelle.

Die F Sport gee die bestuurder die geleentheid om een van vyf bestuursomdusse te kies, naamlik Eco, Normal, Sport, Sport + en die nuwe Custom-modus. Met laasgenoemde modus kan die bestuurder die stuurstelsel, lugversorging, die aanpasbare veerstelsel en ander funksies aanpas volgens behoefte.

Die hele reeks is toegerus met veiligheidskenmerke soos ABS-remme met elektroniese remverspreiding, noodremhulp, stabiliteitsbeheer, wegtrekhulp en stabiliteitsbeheer vir woonwaens of sleepwaens.  Die F Sport voeg ook ‘n blindekol-monitor by asook ‘n waarskuwing as daar verkeer of enige ander hindernisse agter die voertuig is.

Die pryse van die verskillende modelle, wat in Januarie 2018 by handelaars beskikbaar sal wees, is soos volg:
NX 300 E: R 599 900
NX 300 EX: R 677 300
NX 300 F Sport: R 789 700
NX 300h EX: R 746 700

Die hele reeks word gerugsteun deur Lexus se waarborg van drie jaar of 100 000 km. Daar is verskillende diens-en onderhoudsplanne vir die verkillende modelle; ‘n Lexus Distance-diensplan vir die 300 E, ‘n Lexus Distance-diensplan, wat ook die remkomponente dek vir die EX en ‘n volle onderhoudsplan vir die F Sport. Daarby kan eienaars hul voertuie se diens- of onderhoudsplanne deur die landwye handelaarsnetwerk opgradeer of verleng.

%d bloggers like this: