Die nuutste Lexus RC F met verbeterde aërodinamika en hantering maak sy debuut in Suid-Afrika.

Die splinternuwe RC F Track maak ook ’n buiging

Die Lexus RC F spog met laer gewig en selfs nog meer dinamiese hantering met verfynde stilering en verbeterde lugdinamika en groter afwaartse druk – veral op die vooras –stewiger en ligter veringkomponente, fermer stuurbeheer, meer intuïtiewe transmissie en bande wat beter klou. In die geval van die splinternuwe RC F Track, met sy doelontwerpte koolstofvesel toebehore, is die veranderings nog meer opvallend. Die resultaat? Makliker hantering met verbeterde terugvoer van die bestuurder, wat dit makliker maak om deur ’n draai te ry terwyl die motor op spoed is, groter onderstelstabiliteit met vinnige rigtingveranderings, plus verbeterde stuur- en versnellerreaksie.

Die Lexus RC F en die RC F Track kan besjryf word as hoogs gesofistikeerde, turbolose V8-aangedrewe koepees. Die nuwe RC F-reeks is nou by Lexus-handelaars beskikbaar. Lexus het met die RC F en RC F Track ’n groot vooruitgang in aërodinamiese afwaartse drukkrag aangedurf en strategieë van die bekroonde renmotors RC F GT500 en RC F GT3 geïnkorporeer.

Die veranderings laat die motor minder lig en herlei ook lugvloei rondom die motor meer doeltreffend ten einde dinamiese stabiliteit te verbeter en sleur te verminder, terwyl dit ook die voorkoms van die koepees verfyn. Die nuwe canard-vorm aan die hoek van die voorste lugskort help om stabiliteit teen verskillende snelhede te vervolmaak. In vergelyking met die vorige RC F, is daar ‘n toename in die draaikolk wat deur die nuwe neusvlerkvorm gegenereer word, wat bydra tot groter afwaartse druk en die motor beter aan die pad anker.

Die neusvlerkvorm is subtiel, maar tog verkry dit ’n soortgelyke funksionaliteit as die vin-tipe neusdrukvlerke wat so kenmerkend van renmotors is. Die onderste oppervlak van die voorste lugskort gelei die lug ook gladder onder die RC F. Die RC F Track het ’n lugskort aan die voorkant bygekry wat met koolstofveselplastiek (CFRP) versterk is om die indraaibeheer aan die voorkant verder te verbeter. Die CFRP-enjinkap en -dak verminder die gewig van die voertuig met 9 kg, terwyl dit die swaartepunt verlaag en die motor ’n aggressiewe voorkoms gee wat by so strydlustige vlagskip pas.

Die nuut-ontwerpte en vergrote luginlate aan die kante van die RC F sowel as die RC F Track beheer en laat lug van die wielnisse beter uit, wat die vering gladder laat werk. Van die kant gesien is ’n vin wat 20 mm na buite uitsteek aan die onderste rand van die lugskorte aangebring. Dit skep verhoogde vertikale lugweerstand, wat oormatige beweging in rolbewegings deur draaie onderdruk. ’n Bykomende onderste vin is vir die RC F Track bygevoeg wat twee keer verder uitsteek om die beheer van die voertuig verder te vergemaklik.

In albei modelle verminder ’n nuwe, konkawe oppervlak voor die agterwiel ook die drukskommeling op die agterbande, wat die reguitlynstabiliteit verder verhoog en die lug meer vloeiend aan die kant van die voertuig laat vloei. Vir die eerste keer is die agterbuffer ook van luginlate voorsien om lug uit die wielnis van die agterwiel uit te laat, wat help om meer voorspelbare vertikale beweging en sywaartse gedrag te lewer. ’n Herontwerpte agterste lugverdeler – in dieselfde kleur as die bakwerk van die RC F en van CFRP vir die RC F Track gemaak – bevat vertikale vinne om die lugvloei verder te bevorder. Agter die buffer van die RC F sowel as die RC F Track word ’n nuwe bufferversterking aangetref wat CFRP en aluminium kombineer – ’n wêreld-eerste ontwikkeling wat die gewig met 0,5 kg verminder.

Die viervoudige uitlaatpype is van titaan gemaak en het ’n kenmerkende blou punt vir die RC F Track, wat ’n meer uitgesproke uitlaatklank, veral teen hoë enjinsnelhede, lewer en gewig met ’n verdere 7 kg verminder. ’n Lugskort wat ingetrek kan word, is deel van die RC F se standaardtoerusting. ’n Vaste CFRP-agtervlerk in die RC F Track verhoog die afwaartse druk met 26 kg, terwyl dit gewig met 3 kg en die sleurkoëffisiënt met 2,0% verminder.

Die vaste agtervlerk van CFRP – ’n eerste vir ’n massa geproduseerde Lexus-voertuig – het sy koolstofmateriaal van die bekende LFA-supermotor gekry, wat dit moontlik maak dat ’n verleidelike “F”-logo op elke eindplaat gedruk kan word. Die aërodinamiese kundigheid wat Lexus met die RC F GT500- en RC F GT3-renmotors verkry het, is op die stilering van die nuwe RC F toegepas. ’n Buitengewone poging is aangewend om te keer dat die motor aan die voorkant lig. Gevolglik voel die voorkant, selfs teen ’n uiters hoë snelheid van ongeveer 250 km/h, vas op die teer en bly die voorwiele stewig op die oppervlak geplant.

Die subtiele visuele veranderings sluit nuwe hoëgraad-ligdiode-kopligte en L-vormige stertligte in wat ook in ander weergawes van die elegante RC-koepee aangetref word, terwyl ’n nuwe kantspieëlontwerp by die stylvolle LC-koepee geleen is. Die vensterhulsel van vlekvrye staal van die vorige RC F is verander na ’n nuwe swart vlekvrye ontwerp. Met behulp van ’n chemiese behandeling om die oksiedfilm te verdik wat die oppervlak van die vlekvrye staal dek, verskaf dit ’n meer moderne en tasbare afwerking aan die kant van die mees aggressiewe Lexus-sportkoepees.

Die kenmerkende uurglas-sierrooster en luginlate in die onderste buffer is verbreed om ’n sterker voorkoms en meer aggressiewe houding, met die klem op die wydte van die voertuig, te gee. In Suid-Afrika is die RC F beskikbaar in ’n keuse van ses kleure, waaronder White Nova, Sonic Titanium, Solar Storm Red, Poseidon Blue, Napels Yellow en Graphite Black. Die RC F Track is slegs in vier kleuropsies, naamlik White Nova, Sonic Titanium, Mercury Grey Metallic en Graphite Black, beskikbaar.

Verbeterde stuur-effektiwiteit en minder stuurtraagheid was kernontwikkelings-doelwitte vir die RC F en RC F Track, met ligter en sterker onderstelkomponente wat nou ’n nog ratser en dinamiese ry-ervaring bied. In vergelyking met die vorige RC F, het die stuurveer se snelheid in albei modelle met 150 persent toegeneem, wat stuurtraagheid verminder en beter terugvoering aan die bestuurder lewer. Hierdie verandering werk die potensiële verbuiging deur die busse tussen die elektriese kragstuur (EPS) en die voorste subraam teë, soos in draaie teen hoë sywaartse swaartekrag, wat veranderings in die toespoorhoek kan veroorsaak, wat ’n verandering in die stuurhoek vereis.

In ander veranderings is die buitenste omhulsel van die voorste vering vir die RC F en die RC F Track van staal na aluminium verander, wat dit 0,7 kg ligter maak. Al twee modelle baat by die sleeparm agter wat van staal na aluminium verander is en groter stewigheid bied terwyl dit 0,5 kg ligter is. Die fermheid van die agterraambusse is in die vertikale en laterale rigtings verhoog. Dit onderdruk die vervorming van die busse, verminder die veranderings in die vlughoek van die agterwiele en verhoog die maksimum laterale swaartekragte.

Die nuut-ontwikkelde Michelin Pilot Sport 4S-bande is spesifiek vir die RC F en RC F Track aangepas om die indraai-klouvermoë, versnelling uit ’n draai en laterale swaartekrag in draaie, veral teen hoë snelhede, verder te verbeter. ’n Hol dryfas (wat die gewig met 1,8 kg verminder) word nou verbind aan ’n meganiese ewenaarverskil vir beide RC F en RC F Track, wat ’n lineêre en beheerde reaksie lewer vir die bestuurder in hierdie innemende agterwielaandrywingsduo. Die RC F bied steeds ’n uitgebreide voertuigdinamiese geïntegreerde bestuurstelsel.

As die voertuig in die SPORT S + -modus is, word ’n minder beperkende voertuigstabiliteitsbeheer (VSC) -instelling geaktiveer. Met hierdie stelling kan bestuurders ’n hoë vlak van bestuursvertroue en -pret geniet wat geskik is vir ’n renbaanomgewing. As die voertuig in SPORT S-modus + is en die VSC Off-skakelaar word ingedruk, word die EXPERT-modus aangeskakel. EXPERT bied ’n pro-aktiewe glybeheer van die voertuig wat geskik is vir ’n renbaanomgewing, waardeur bestuurders hul vaardighede op die baan met ’n klein bietjie elektroniese hulp kan slyp.

Die RC F (AVS) se hoogs gespesialiseerde veranderlike vering is ook verbeter danksy vinniger, gladder en noukeuriger aanpassing van die dempingskrag. Die dempingskrag van die enkelbuisskokbreker kan die oor ’n reeks van 30 vlakke verstel. Die sagtewarebeheer is fyn ingestel om die gehalte van die rit in die NORMAL-modus, wat deur die bestuurder gekies kan word, en verminderde romprol in die SPORT S + -modus, te verbeter.

Van die twee beskikbare modusse werk die NORMAL-modus presies om aan te pas by verskillende padtoestande, en die dempingskrageienskappe is ingestel om groot insette van die padoppervlak af op te slurp. Hierdie modus is omvattend aangepas en is ook die mees geskikte vir ’n moeilike renbaan. Die SPORT S + -modus verhoog die eienskappe van die dempingskrag en is ’n instelling wat beter ooreenstem met die gelyke oppervlak van ’n renbaan.

Die gedetailleerde onderstelveranderings het tot ’n aansienlik verbeterde ry-ervaring gelei. Met die twee Lexus RC F modelle wil Lexus ‘n sportmotor verskaf, wat ryverrigting tot ‘n hoër vlak neem. Lexus het hard daaraan gewerk om die werkverrigting en die gedrag van die voertuie tot die uiterste te verbeter – meer spesifiek, om die stuurtraagheid te verminder en rywerk teen die limiet te verbeter. Verder het Lexus ook die padhouvermoë verbeter om die stabiliteit van die voertuig te verhoog.

Lexus glo 1 kg se gewig onder die veerstelsel is gelykstaande aan 10 kg in die motor. Lexus het met die RC F Track se ongeveerde gewig met ongeveer 25 kg verminder deur ligte allooiwiele en skyfremme van koolstofkeramiek te gebruik. Hierdie aansienlike gewigsbesparing verwyder die druk van die veringskomponente, wat die rygehalte aansienlik verbeter terwyl dit die hantering en beheer op rowwe padoppervlakke en knap renbane aansienlik verbeter.

Vier 19”-smeegevormde allooiwielontwerpe is vir die RC F en RC F Track beskikbaar. ’n Die RC F-weergawe het 11 skerp tweelingspeke terwyl die RC F Track standaard beskikbaar is met ’n ontwerp wat ’n donker, dowwe afwerking met ’n 10-speek-ontwerp inkorporeer. Hierdie ultra-ligte, motorsport-geïnspireerde BBS-wiele is van die RC F GT3 en RC F GT500 oorgedra. Brembo-skyfremme van koolstofkeramiek wat hoë verrigting lewer, bied ’n gewigsvoordeel van 22 kg in vergelyking met die meer gebruiklike gietyster-skyfremme. Koolstofkeramiek, ’n uiters harde materiaal wat die leeftyd van die skywe help verleng, word met silikon vermeng om die doeltreffendheid in koue en nat toestande te verbeter.

Die remme vibreer nie – iets wat uiters noodsaaklik vir ’n vlagskipmodel vir die renbaan is – aangesien die koolstofkeramiekskywe wat baie min uitsit en sodoende pedaalvaagheid uitsny. Die ontwerp behels ’n swewende struktuur met ’n remring en monteringsklok wat aan 10 busse gekoppel is en potensiële hoëtemperatuur-skyfvervorming verder verhoed. Die agterste skyfdiameter is met 35 mm tot 380 mm vergroot teenoor dié van die RC F, terwyl beide Lexus-sportmotors ’n voorste skyfgrootte van 380 mm het. Die remblokke van die RC F Track is ook dikker.

Die RC F se hoëverrigting-rempakket, wat ook deur Brembo ontwikkel is, deel die RC F Track se voorste ses-suier- en agterste vier-suier- aluminium enkelblok-remknypers. Die RC F se remme is swart, terwyl dié van die RC F Track in aggressiewe rooi uitstaan. Die RC F en RC F Track baat verder by die verbetering van die gevoel van die rempedaal deurdat ’n pedaalskakelaar verwyder en die skakelposisie verskuif is. Lexus het vir die RC F en RC F Track ’n hersiene V8-enjin van vyf liter, wat makliker asemhaal, gelewer en die voordele van turbolose asemhaling in ’n vlagskip-verrigtingskoepee verder geneem.

Die enjin se maksimum krag van 351 kW word teen 7100 r/min gelewer terwyl sy wringkragpiek van 530Nm tussen 4 800 r/min en 5 600 r/min ontwikkel word. ’n Toonaangewende vermenging van bestuurderverbinding, gehoorbevrediging en uitstekende verrigting is verkry, wat onmiddellike versnellerreaksie, hoë enjinsnelheidsvermoë en ’n 0-100 km/h-versneltyd in net 4,5 sekondes vir die RC F en 4,3 sekondes vir die RC F Track lewer.

Die gesofistikeerde 2UR-GSE-petrolenjin, wat noukeurig vervaardig word met gesmede verbindingstawe en titaankleppe, is nou ligter en voldoen vir die eerste keer aan Euro-6-uitlaatvereistes. Die Lexus D-4S-beheer, wat poort- en direkte brandstofinspuiting met ’n hoë drukverhouding van 12.3:1 vir maksimum werkverrigting en lae uitlate kombineer, is ook verder vervolmaak. Meer as tien enjinkomponente is aangepas om gewig te verminder en dus die swaartepunt te verlaag. ’n Nuwe, fyner bewerkte inlaatspruitstuk het tot ’n gewigsvermindering van 7,0 persent vir hierdie komponent gelei.

Ten einde die verlies aan induksiedruk te verminder en die reaksie van die versnellerreaksie te verbeter, is die vorm van die luginlaatkanale verander en die gewig daarvan verminder. In ’n eerste vir Lexus, is aërodinamies verbeterde vinne by ’n nuut ontwerpte uitlaatpyp gevoeg. Die enjinsnelheidspunt vir die sekondêre inlaatopening is van 3 600 r/min tot 2 800 r/min verminder om rybaarheid en enjinklank te verbeter. Die versnellereienskappe onder klein openingshoeke is hersien om gladde werking te verseker. Die reaksie is presies eweredig aan die mate waartoe die pedaal ingetrap word, vir lineêre beheer, hetsy op die pad of op die renbaan.

Die nuut ontwerpte en meer rigiede agterste enjinmonterings wat ’n aansienlik hoër veertempo het om die massa-beweging beter te beheer, die tasbaarheid van die ry-ervaring te verbeter en die hanteringstabiliteit te verbeter, ondersteun hierdie veranderings. Die outomatiese ratkas met ’n agtgang-wringkragomskakelaar is toegerus met die nuut-ontwikkelde ratwisseling met kunsmatige intelligensie met die dryfmodus omskakeling wat beter by die bestuurder se voornemens aanpas.

In die SPORT S en SPORT S + -modusse lewer die transmissie die mees gesofistikeerde en aggressiefste instelling tot nog toe, met vinniger afwaartse ratwisseling as selfs die LC-sportmotor. Op kronkelpaaie of op ’n renbaan, handhaaf die kontrole ’n lae rat en ’n hoë enjinsnelheid, wat reaksie bied wat kan meeding met uiters gevorderde bestuurders wat handratbeheer gebruik. Teen ’n rustige tempo, gebruik die kontrole fyningestelde instinktiewe tegnologie om ’n hoë rat te kies en die enjinsnelheid laag te hou. Bestuurders kan die handratwisselingskeuse gebruik deur interaksie met ’n ratkierie op die middelkonsole of pedaalwisselhefbome aan die agterkant van die stuurwiel gemonteer is.

Die hersiene transmissie maak verder voorsiening vir die integrasie van ’n wegtrekbeheerstelsel wat die eerste keer sedert die geheiligde LFA-supermotor, in ’n Lexus gebruik word. Wegtrekbeheersagteware wat deur die druk van ’n knoppie op die middelkonsole geaktiveer word, verstel outomaties die klouvermoë- en versnellerbeheer om wieltol te onderdruk en die maksimum versnelling van die wegtrek af te lewer. Om gebruik te vergemaklik, is die wegtrekbeheerskakelaar op die middelkonsole onder die Drive Mode Select-skakelaar, wat die ECO-, NORMAL-, SPORT S-, SPORT S +- en Custom-modus bied.

Wanneer die ECO-modus gebruik word, word die enjinverrigting, versnelleropening en die lugversorging outomaties beheer om brandstofdoeltreffende motorry moontlik te maak. Dit deel ’n standaardvlak van elektriese kragstuurbystand met die NORMAL-modus, wat ’n gebalanseerde gevoel van versnelling en gladheid lewer. Wanneer die SPORT S-modus gekies word, word die enjinuitset, versnelleropening en stuurhulp aangepas vir uitstekende versnelling en ’n sportiewe stuurgevoel. SPORT S + handhaaf hierdie keuses, maar skakel die aanpasbare veranderlike vering (Adaptive Variable Suspension oftewel AVS) na sy sterkste instelling en die voertuigdinamikabeheer (Vehicle Dynamic Integrated Management of VDIM) na ’n hoër drempel voordat elektroniese ingryping plaasvind.

Bestuurders kan ook die CUSTOM-modus kies, wat elke keuse afsonderlik aansluit, en ECO, NORMAL en POWER vir die aandrywing, NORMAL en SPORT vir AVS en EPS, en ECO en NORMAL vir lugversorging, insluit. Die aërodinamika, hantering en werkverrigting is aansienlik verbeter in die RC F en RC F Track Edition, sonder om enige luuksheid, verfyning of veiligheid in te boet. Lexus het ligte-gewig, hoë-sterkte onderdele aangewend om die swaartepunt te verlaag en die reaksie van die drywende krag te verskerp, terwyl die kajuit meer prakties en met ’n nog meer premium gevoel ontwerp is.

Die middelkonsole-flanke het sagte, afgewerkte kniebeskerming bygekry, terwyl haarfyn afwerking vir beter gehalte op die middelkonsole-groepering gebruik is. Die ontwerp van die sentrale en kantluguitlate het ’n slanke “drywende” voorkoms, en nuut-ontwerpte tandem-bekerhouers vergroot die spasie. Glasvesel-versiering is standaard op die RC F, terwyl verleidelike en eksotiese versiering van rooi koolstofvesel spesiaal vir die RC F Track Edition ontwikkel is.

Die sirkelvormige dunfilm-transistor (TFT)-meter wat voor die bestuurder geplaas is, verander volgens die bestuurder se keuse met die moduskeuse-draaiknop. Die skerm wissel tussen ’n blou ekonomie-aanwyser in ECO, ’n standaard toereteller en digitale snelheidsmeter in NORMAL, ’n wit en rooi groepering in SPORT S en oranje in SPORT S + met driegang- opwaartse rigtuingwysers. Bestuurders kan ook wissel tussen eksklusiewe funksies soos ’n rondteteller en G-krag vertoning. ’n Geperforeerde metaalstruktuur word in nie-TFT-vertoonareas gebruik om ’n gesofistikeerde en sportiewe voorkoms te gee.

Al die RC F-variante het ‘n uitgebreide 10,3-duim-wyebeeld-skerm met satellietnavigasie, digitale radio en Bluetooth®-telefoon- en audiostroom, wat stemherkenning insluit. Die Mark Levinson klankstelsel met 17-luidsprekers verseker verder dat die klankgehalte pas by ’n premium sportkoepee. Die bestuurder se posisie is laag gestel vir ’n sportiewe gevoel, terwyl die toegang tot die agterste sitplekke vergemaklik word deur elektries verstelbare voorste sitplekke met ’n funksie wat dit met die druk van ’n knoppie, outomaties vorentoe laat gly en dan na die oorspronklike posisie laat terugkeer.

Die RC F is beskikbaar met vier binne-afwerkings – wit, swart en suiwer rooi semi-anilienleer-aksent-keuses plus “kompetisie-rooi” Alcantara® eksklusief tot die RC F Track Edition. Verwarmde en geventileerde sitplekke, sowel as ’n elektries verstelbare stuurkolom, is standaard vir voorste en passasiersitplekke op alle variante, behalwe die liggewig, renbaangerigte RC F Track Edition, wat slegs die funksies vir die voorste sitplekke het. Al die variante is toegerus met die hoogste vlak van veiligheidstegnologie, insluitend die Lexus Safety System+-veiligheidstelsel wat ’n reeks hulpmiddels insluit soos ’n voor-botsing (rem-gesinchroniseerde) veiligheidstelsel met voetganger-opsporing, standaard-aanpasbare spoedbeheer, baandwaal-waarskuwing met stuurhulp en ligdiode- outomatiese hoëligstraal.

Blindekolmonitor, truratkamera, voorste ryhoogte en agterste parkeersensors en agterste dwarsverkeerswaarskuwing is ook standaard. Die herverpakking van die RC F se bagasieruim het ’n ekstra vier liter volume op 366 liter vrygestel (VDA-meting). In die RC F Track is die ski-hawe, waar langer artikels geberg kan word, vervang met ’n koolstofvesel-versterkte plastiekverdeler om die bakwerk verder te versterk.

Die Lexus RC F kos R1 318 300. Die RC F Track kos R2 098 200. Albei voertuie is standaard beskikbaar met Lexus se klasbeste waarborg van 7 jaar/105 000 km en volledige instandhoudingsplan. Die voertuig se diensintervalle is elke 15 000 km, alternatiewelik elke 12 maande.

Sien ook: http://motorplus.co.za/lexus-se-nuwe-rc-f/

%d bloggers like this: