Breaking News

Lexus se groot veldryer kan nou bestel word

Voornemende kopers van die nuwe Lexus LX kan van nou af bestellings by hul plaaslike handelaar plaas.

Die nuwe reeks, wat die vlagskip van Lexus se reeks sal wees, is vir die eerste keer as ‘n F-Sport beskikbaar, terwyl ‘n nuwe VIP-model met ongekende weelde, gemak en veelsydige sitplekverstellings, bo-aan die reeks sal pronk. 

Aan die voorkant is daar ‘n nuwe, groter weergawe van Lexus se kenmerkende sierrooster in chroom met horisontale stawe of in swart met ‘n gaaspartoon afhangende van die model. Daar is nuwe kopligte met drie-projektor lampeenhede wat ‘n aggressiewe voorkoms met uitstekende projeksie van lig kombineer. Die ligdiode-dagryligte word behou, en beklemtoon Lexus se kenmerkende L-vormige ontwerp. Die agterligte kombineer die L-vorm met ‘n reguit lyn, en anders as in die verlede word die Lexus-naam op die agterklap uitgeskryf. 

Die nuwe reeks bied ‘n keuse van twee enjins, met twee turboaanjaers elk. Die LX 600-modelle word aangedryf deur ‘n nuwe 3,5 liter V6-enjin wat 305 kW en 650 Nm lewer. Die LX 500d se 3,3 liter  V6-enjin lewer 225 kW en 700 Nm. Albei enjins word gekoppel aan ‘n nuut ontwikkelde Direct Shift-ratkas met tien gange. Die vierwielaandrywingstelsel is verbeter en bied oop ewenare voor en agter en ‘n sluitbare Torsen-ewenaar in die middel. 

Ander nuwe kenmerke wat vir die hele reeks beskikbaar is, is die mensgesentreerde Tazuna-kajuitkonsep met twee skerms in die middel, ‘n Mark Levinson-klankstelsel met altresaam 25 luidsprekers wat as die mees omvattende een tot nog toe in ‘n Lexus beskryf word, ‘n stelsel wat die bestuurder se vingerafdruk herken as die motor aangesit word, ‘n agterklap wat handvry en met kraghulp werk, ‘n agterste dwarsverkeermonitor en parkeersensors. Die LX 600 is die enigste model met sewe sitplekke; die res van die reeks het almal vyf.

Die nuwe vlagskip van die LX-reeks is die VIP, wat met die petrolenjin, wat gebaseer is op dié van die Lexus LS, toegerus word. Die sitplekuitleg is luuks en eksklusief; dit bevat twee afsonderlike sitplekke in die tweede ry, met beenruimte van 860 mm, rugleunings wat tot 48 grade kan teruglê, en ‘n onafhanklik verstelbare ottoman met ‘n tweeposisie-geheue.  Die afwerking is in swart of bruin beskikbaar. Die maatskappy beskou dit as die eerste sitplekuitleg van sy soort ter wêreld, en die passasiersitplek skuif verder vorentoe om toegang tot die agterste ry te vergemaklik. Die luguitlate in die dak bied ‘n vars “lugstort” in die somer en ‘n warm “lug-gordyn” in die winter. Die agterste deel van die kajuit bied ook ‘n 11,6 duim raakskerm wat toegang tot alle agterste geriefseienskappe gee. Dit sluit massering van onder meer die hele liggaam of die skouers in.  Die VIP het 22 duim-allooiwiele as standaard toerusting.

Vir die eerste keer is die LX met die F-Sport-afwerking beskikbaar, en voornemende kopers kan tussen die petrol- of dieselenjin kies. Hierdie model word ook met die vingerafdrukherkenning,wat tien mense se vingerafdrukke kan registreer, toegerus. Die verstellings van die truspieëls en sitplekke word hierby aangepas. Ander standaard kenmerke is ‘n verhitbare stuurwiel, verhitbare sitplekke vir die voorste en buitenste twee insittendes in die tweede ry, ‘n digitale binnespieël en deure wat sag toemaak. Die F-Sport spog met ‘n swart sierrooster met ‘n gaaspatroon, en 22 duim-allooiwiele is standaard toerusting. Ander kenmerke wat hom onderskei, is eksklusiewe swart of rooi binneafwerking, die F-Sport-embleem oral in die binneruim, F-Sport-sitplekke, luguitlate in die onderste sierrooster, ‘n voorste drukvin, pedale en ‘n voertus watin aluminium afgewerk is en ‘n eksklusiewe White Nova-bakkleur. Die F-Sport se veldryvermoë word verbeter deur ‘n sluitbare Torsen-ewenaar agter en verrigtingsdempers voor en agter. Daar is ook ‘n aanpasbare wisselende veerstelsel en die instelling van die elektriese stuurstelsel verskil van dié van die res van die reeks. 

Lexus se gevorderde Safety System + is standaard toerusting vir alle modelle. Dit sluit ‘n voorbotswaarskuwing wat voetgangers en fietsryers bespeur , in, asook ‘n blindekolmonitor, spoedbeheer wat met radar werk, baandwaalwaarskuwing en ‘n banddrukmontior. Daar is ook ‘n stelsel wat die bestuurder help as daar deur skerp draaie gery word. Die stelsel kan ook geaktiveer word om die voertuig se draaisirkel te verklein. Nog ‘n nuwe kenmerk is die noodstuurhulp, wat die bestuuder help om die voertuig stabiel en in sy baan te hou.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg en volle instandhoudingsplan van sewe jaar of 100 000 km insluit, lyk só:

 

LX 500d: R 2 206 600

LX 500d F-Sport: R 2 215 200

LX 600: R 2 260 400

LX 600 F-Sport: R 2 247 000

LX 600 VIP: R 2 627 500

%d bloggers like this: