In Desember 2018 het Mahindra Suid-Afrika die PikUp S6-dubbelkajuit bekendgestel met ‘n beperkte uitgawe, bekend as die Karoo.

Hierdie model, geïnspireer deur dié Indiese vervaardiger se huidige reklameveldtog, was so suksesvol dat die hele besending vining uitverkoop is. In reaksie daarop is ‘n nuwe Karoo-model, gebaseer op die S 10-model, pas bekendgestel en volgens Rajesh Gupta, die uitvorende hoof van Mahindra Suid-Afrika behoort hierdie model net so gewild te wees. Benewens die S6 se standaard kenmerke word die Karoo S 10 ook toegerus met satelliet-navigasie, spoedbeheer en ‘n veelfunksiestuurwiel.

Die Karoo spog met swart kosmetiese items, onder meer ‘n swart bosbreker, spesiale swart allooiwiele, swart treeplanke aan die kante en ‘n swart rolstaaf op die laaibak, tesame met strepe aan die onderkant van die bakwerk. Daarby beskik die Karoo oor ‘n bakseil, uitgeboude wielboë voor en agter en windskerms aan die voorste- en agterste kantruite. Die S 10 is beskikbaar met die Karoo- afwerking of ‘n luukse Beekman-kappie teen net R 5 000 meer as die gewone S 10. Die Karoo, of die kappie wat teen hierdie prys beskikbaar is, is net in wit of silwer beskikbaar.

Die eerste besending van die S 10 Karoo het reeds die handelaars bereik en ‘n tweede besending word tans vervaardig. Die pryse van die 4×2- en 4×4-modelle van die S 10 Karoo is onderskeidelik R 337 999 en R 368 999. Dit sluit ‘n waarborg van vier jaar of 120 000km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000km in. Volgens Gupta is die S 10 Karoo een van die mees bekostigbare dubbel-kajuit bakkies van gehalte op die Suid-Afrikaanse mark, selfs met die bykomende spesifikasies. Noudat produksie van die Pik Up in volle gang is, kan die maatskappy sekermaak dat die bakkies aan plaaslike vereistes voldoen.

Mahindra se aanleg naby Durban is in Mei 2018 geopen en die hele PikUp-reeks word tans daar vervaardig. Dit beteken dat die maatskappy daartoe in staat is om unieke en doel-geboude modelle vir Suid-Afrikaanse bakkie lief-hebbers te vervaardig.

%d bloggers like this: