Sedert sy bekendstelling in die laaste kwartaal van 2017 het die Mahindra Pik-Up uiters gewild geword, tot so ‘n mate dat produksie van dié reeks bakkies onlangs net buite Durban begin het.

Tot dusver was daar nog net twee dubbelkajuitmodelle, naamlik die S 10 4×2 en 4×4, maar nou het Mahindra Suid-Afrika die reeks uitgebrei met die toevoeging van ‘n beperkte model, bekend as die Karoo, wat weer eens as ‘n 4×2 en ‘n 4×4 beskikbaaar sal wees. Dit lui ook die bekendstelling van die goedkoper S 6-dubbelkajuit in; volgens mnr. Rajesh Gupta, die uitvoerende hoof van Mahindra Suid-Afrika is dit daarop gemik om die Pik Up-dubbelkajuit vir ‘n groter getal kopers bekostigbaar te maak. Die S6 beskik oor dieselfde kenmerke as die soortgelyke enkelkajuit; onder meer ‘n kleurgekodeerde voorstamper, voorste misligte, ABS-remme, sentrale sluiting met afstandbeheer, eletriese buitespieëls in dieselfde kleur as die bakwerk, ‘n klankstelsel met ‘n USB-kragpunt, twee lugsakke, elektriese vensters en ‘n ewenaarslot.

Die Karoo is ‘n beperkte weergawe van die S6-dubbelkajuit wat kenmerke soos ‘n trekstang, ‘n voorste bosbreker, ‘n rolstaaf, reënskerms op die syvensters, Karoo-kentekens en uitgeboude wielboë. Hierdie ekstras is R 28 000 werd, maar die prys is dieselfde as dié van die S6-dubbelkajuit. Die Karoo kry sy naam van die uiters gewilde televisieadvertensie, waarin ‘n avontuursoeker alles in sy vermoë doen om ‘n boer se verlore skaap op te spoor. Hierdie tong-in-die-kies-advertensie het ‘n Orchid-toekenning vir Mahindra gewen en is baie gewild onder bakkie-eienaars.

Die S6 is met presies dieselfde enjin en ratkas as die S 10 toegerus, naamlik Mahindra se bekende Hawk-turbodieselenjin van 2,2 liter wat ‘n kraglewering van 103 kW teen 3 750 opm lewer en wringkrag van 320 Nm tussen 1 500 en 2 800 opm lewer. Hierdie enjin word aan ‘n sesgang-handratkas gekoppel. Soos die S 10 word die S 6 gerugsteun deur ‘n waarborg van vier jaar of 120 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km. Die prys van die Mahindra Pik Up S6 Karoo-dubbelkajuit is R 299 999 vir die 4×2 en R 329 999 vir die 4×4.

Die Karoo is nou by meer as 60 Mahindra-handelaars landswyd beskikbaar.

%d bloggers like this: