Breaking News

Mahindra gee Scorpio meer skop

Mahindra Suid-Afrika het pas aangekondig dat die Scorpio voortaan met dieselfde enjin en ratkas as die PikUp S10 toegerus gaan word.

Dit beteken dat die Scorpio se enjin  nou ‘n kraglewering van 103 kW teen 4 000 opm en ‘n wringkrag van 280 Nm  tussen 1 800 en 2 800 opm lewer.

Anders as die Pik Up is die Scorpio net met ‘n sesgang-handratkas beskikbaar. Die huidige Scorpio is al in 2016 in Suid-Afrika bekendgestel, en beskik oor ‘n leerraam-onderstel en ‘n laestrek ratkas met ‘n elektroniese knoppie  vir die 4×4-model.

Die binnekant van die Scorpio spog met dieselfde raakskerm met ‘n tru-kamera waarmee die Pik Up toegerus word en die vorige, kleiner skerm vervang. Die inligting-en-vermaakstelsel bevat Bluetooth-verbinding, satelliet-navigasie en ‘n nuwe leeroorgetrekte stuurwiel waarmee die klankstelsel, spoedbeheer en telefoon beheer kan word. 

Soos voorheen spog die Scorpio met allooi-wiele van 17 duim, ‘n luguitlaat op die enjinkap en ligdiode-agterligte. Daarby is die grondvryhoogte van 180 mm nog dieselfde en vering met dubbele wensbene en veelvuldige skakels agter word steeds gebruik. Dit beteken dat die Scorpio steeds ‘n 4×4-voertuig in die ware sin van die woord is en uiters geskik is vir veldrytoestande.

Die pryse van die Mahindra Scoripo S 11, wat ‘n waarborg van vier jaar of 120 000 km en  ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km insluit, is R 329 999 en R 349 999 vir die 4×2 en 4×4-modelle onderskeidelik.

%d bloggers like this: