Mahindra knap sy TUV 300 op

0 Comments

Die opgeknapte weergawe van die Mahindra TUV 300 is pas in Suid-Afrika bekendgestel.

Die voorkant van die nuwe model bevat die mees kenmerkende weergaewe tot dusver van Mahindra se sierrooster wat uit vyf stawe bestaan en ‘n breë chroomstrook aan die bokant. Die kopligte is herontwerp en beskik oor ‘n wart koolvesel-agtige voorkoms om by dié van die rooster te pas. Die voorstampeer bevat ‘n groter luguitlaat en misligte aan weerskante. Die omhulsels van die misligte en die onderste skermplaat is in donkergrys afgewerk. Aan die kant is daar donker skermstroke op die deure en aan die onderkant van die bakwerk. Die agterkant beskik voortaan oor ‘n nuwe nood-wiel oortreksel met ‘n X-ontwerp en ‘n agterste drukvlerk. Die TUV se ander buitekenmerke, soos allooi-wiele en kleurgekodeerde elektries verstelbare buitespieëls bly onveranderd.

Die geharde tema word aan die binnekant voortgesit, met nuwe silwer afwerking vir die luguitlate en die belangrike kontroles.  Die TUV 300 beskik oor ‘n veelfunksie-stuurwiel, ‘n inligting-en-vermaakstelsel met stembeheer en Bluetooth-verbinding, lugversorging en agterste parkeer-sensors.

Benewens die luukse kenmerke word die TUV 300 ook met die belangrikste veiligheids-kenmerke toegerus, onder meer ABS-remme met elektroniese remkrag-verspreiding en remhulp om draaie, twee lugsakke en ‘n veiligheidsel met syslagstawe. 

Aangesien die TUV 300 sy meganiese platform met die Scorpio deel, beskik hy oor ‘n leer-raamonderstel en agterwiel-aandrywing, wat taaiheid en duursaamheid verseker.  Daar is plek vir altesaam sewe insittendes.

Soos voorheen word die TUV aangedryf deur die bekende mHawk-turbo-diesel enjin van 1,5 liter, wat 73,5 kW teen 3 750 opm en wringkrag van 240 Nm teen tussen 1 600 en 2 800 opm lewer e naan ‘n vyfgang-handratkas gekoppel word. 

Voornemende kopers kan uit vier kleure kies, naamlik wit, rooi, silwer en oranje.

Die prys van die TUV 300, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km insluit, is R 254 999.

Categories:
%d bloggers like this: