Mahindra se intreemodel, die KUV 100, is een van die gewilde motors in die A-marksegment en danksy ‘n nuwe finansieringspakket, ‘n aantal stileringsveranderinge en ‘n splinternuwe toevoeging aan die onderpunt van die reeks, behoort sy gewildheid nog verder toe te neem.

Die nuwe KUV 100 NXT beskik oor ‘n aantal nuwe stileringskenmerke soos ‘n herontwerpte sierrooster, nuwe agterligte, 15-duim allooiwiele met ‘n diamantgesnyde voorkoms vir die K8, ‘n nommerplaathouer wat op ‘n verdonkerde deel van die agterstamper gemonteer is, ‘n silwer skermplaat en dakrelings wat herontwerp is om windvloei te verbeter. Aan die agterkant is die agterligte, die stamper en die agterklap herontwerp en ‘n nuwe drukvlerk is aan die bokant van die agterklap bygevoeg.

Daar is verskeie verbeterings aan die binnekant van die KUV 100 NXT aangebring; onder meer nuwe materiaalbekleedsel, klavierswart afwerking op sekere modelle en nuwe panele vir modelle met klimaatbeheer in.  Die K8 het ‘n nuwe raakskerm van sewe duim; dubbeld so groot soos voorheen, met Bluetooth-verbinding, USB- en klankpoorte, asook funksionaliteit vir foto’s en videos.  Die K6 en K8-modelle word ook toegerus met ‘n armleuning agter, ‘n verkoelde paneelkissie, sleutellose toegang, deure wat outomaties sluit as die voertuig wegtrek en 12 volt-kragsokke voor en agter in.

Die hele KUV 100 NXT-reeks word toegerus met ABS-remme, wat elektroniese remverspreiding vir die K6+ en K8 insluit, twee lugsakke en kinderslotte, terwyl die K6+ en K8 noodflikkers wat in ‘n noodgeval outomaties aktiveer en spoedsensitiewe deurslotte het.

Die reeks is beskikbaar met een van twee mFalcon-enjins, elk met drie silinders en ‘n verplasingsinhoud van 1,2 liter.  Die petrolenjin, wat in al die modelle beskikbaar is, lewer 61 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 115 Nm teen 3 500 opm. Die turbo-dieselenjin is net vir die K6+ en die K8-modelle beskikbaar; hierdie enjin lewer onderskeidelik 57 kW teen 3 750 opm en 190 Nm teen 1 750 opm.  Die dieselmodel word ook toegerus met ‘n mikrohibriedestelsel wat die enjin laat afskakel wanneer die motor stilstaan en dan dadelik aanskakel wanneer die pedal getrap word. Albei enjins word aan ‘n vyfgang-handratkas gekoppel.

Die KUV 100 NXT-reeks bestaan uit die K2+, die K4+, die K6+ en die K8. Die K2+ is die nuwe intreemodel in die reeks en word toegerus met twee lugsakke, ABS-remme, lugversorging en verskeie bêreplekke vir los goedere, asook bekerhouers. Die K4+ voeg onder meer die volgende kenmerke by: volle materiaalbekleedsel, elektriese vensters, buitespieëls in dieselfde kleur as die bakwerk, handbeheerde sentrale sluiting en ‘n hoogteverstelbare bestuudersitplek.

Onder die bykomende standaardkenmerke vir die K6+ is 14-duim allooiwiele, ‘n inligting-en-vermaakstelsel met ‘n monochroom-skerm van 3,5 duim, ‘n veelfunksiestuurwiel, ‘n agterste ruitverwarmer en veer, ‘n veelfunksiestuurwiel, sentrale sluiting met afstandbeheer en ‘n soekfunksie, die keuse van ‘n petrol- of dieselenjin, volg-my-huis-toe-kopligte en elektriese buitespieëls met ingeboude rigtingwysers in dieselfde kleur as die bakwerk.

Die K8 is die vlagskip van die reeks; onder sy standaardkenmerke is ‘n raakskerm van sewe duim met Bluetooth-verbinding, tweekleur-allooiwiele van vyftien duim, agterste parkeersensors, voorste misligte met chroomafwerking, dagryligte en elektriese buitespieëls wat outomaties wegvou.

Die KUV 100 NXT-reeks word gerugsteun deur ‘n waarborg van drie jaar of 100 00km met ‘n bykomende waarborg van twee jaar of 50 000 km vir die dryfstelsel. Daarby is ‘n diensplan van drie jaar of 100 000 km vir die K6+ en K8-modelle ingesluit. Dienstussenposes is 10 000 km vir petrol- en dieselmodelle.

Die pryse van die verskillende modelle lyk soos volg:

KUV 100 NXT K2+: R 134 999
KUV 100 NXT K4+: R 163 999
KUV 100 NXT K6+ petrol: R 187 999
KUV 100 NXT K6+ diesel: R 204 999
KUV  100 NXT K8 petrol: R 199 999
KUV 100 NXT K8 diesel: R 219 999

%d bloggers like this: