Mahindra op pad na rekordverkope

Die Indiese motor-vervaardiger Mahindra is op pad om rekordverkope in Suid-Afrika te behaal.

Volgens die Nasionale Vereniging van Motor-vervaardigers in Suid-Afrika (NAAMSA) se maandelikse voertuigverkope-verslag is Mahindra een van die handelsmerke wat die vinnigste in verkope van passasiers- en handels-voertuie groei.

Volgens NAAMSA het die maatskappy sy verkope van 5 664 eenhede van 2018 reeds in die derde kwartaal van vanjaar verbygesteek, en staan gereed om rekord-verkope vir 2019 te behaal.

Hierdie prestasie is merkwaardig as ‘n mens in ag neem dat die Suid-Afrikaanse mark vir nuwe voertuie gekrimp het. NAAMSA berig dat die algehele verkope vir vanjaar tot en met September 3,5 % laer as dieselfde tyd verlede jaar was en dat die passasiers-voertuigmark 4,9 % gekrimp het.

Daarteenoor het Mahindra se aandeel aansienlik gegroei; die 5 584 eenhede wat tot en met September vanjaar verkoop is, dui op ‘n toename van 33,4 %. Die maatskappy se onderdele-afdeling het in dieselfde tydperk met 36% gegroei.

Die gemiddelde verkope per handelaar het die afgelope jaar met 24% gegroei. 

Die sukses van 2019 volg op ‘n uiters aggressiewe bemarkings- en uitbreidingsveldtog, wat in Mei 2018 begin het toe die monteeraanleg naby Durban geopen is. Hier word die hele Pik-Up-reeks vir Suid-Afrika en buurlande gemonteer.  Sedertdien het die KUV 100 NXT en XUV 500 detailveranderinge ondergaan, en hulle is deur middel van twee bekroonde televisie-advertensies bekendgestel. 

Die KUV 100 NXT se verkope het ‘n verdere hupstoot gekry nadat die intreemodel, die K2, wat twee lugsakke en ABS-remme teen R 142 999 bied, bekendgestel is. Daarby is die KUV 100 NXT in die jaarlikse AA-Kinsey-verslag aangewys as die goedkoopste motor in die kompakte oorkruis-segment om te versien en te onderhou; hy het sy naaste mededinger met R 20 000 uitgestof in die prys van onderdele en komponente wat as deel van hierdie veslag in aanmerking geneem is.  Hierdie verslag is opgevolg deur ‘n ewe gunstige verslag deur die Nasionale Motorhandelaarsvereniging (NADA), wat aan Mahindra sy eerste goue toekenning oorhandig het. Hierdie toekenning het Mahindra se harde werk ter ondersteuning en uitbreiding van sy handelaarsnetwerk erken, asook die hantering van klagtes en die voorsiening van oorgenoeg onderdele en voorraad van alle modelle.

Die reeks is verder uitgebrei met die bekendstelling van die XUV 300, wat met turbopetrol- en dieselenjins beskikbaar is. Dit het gou ‘n topverkoper vir Mahindra geword en word as ‘n waterskeidingsmodel beskou. 

Die Pik-Up het soortgelyke welslae behaal; dít is die bakkie wat die grootste toename in verkope behaal het. Deel van die rede daarvoor is die bekendstelling van die Karoo-modelle wat oor  bykomende luukse- en kosmetiese kenmerke beskik. Die voordeel van die monteeraanleg is dat dit vir die maatskappy makliker is om spesiale modelle bekend te stel, en bestaande modelle aan te pas om aan kopers se behoeftes te voldoen.  Twee ander plaaslike modelle is die S6, wat op boere gemik is, en ‘n weergawe met valkante.

%d bloggers like this: