Die nuwe Mahindra Scorpio Pik-Up bakkies, wat in Indië gebou word, is ‘n voorbeeld van Mahindra se vaardigheid om ‘n stewige, waarde-vir-geld voertuie te vervaardig.

Hierdie bakkies ding mee in die klas van geharde bakkies waar die Toyota Landcruiser en Nissan Patrol-bakkies die toon aangee. Dit is die soort bakkies, wat elke dag rowwe paaie moet kan hanteer. Die Scorpio’s is egter effens meer kompak en prysgewys meer bekostigbaar as hulle mededingers.

Binne is die afwerking redelik modern en spog die Scorpio’s met ‘n spoedkontrole, immobiliseerder, klankstelsel met ‘n CD- en MP3-speler, volume-beheer op stuurwiel, brandvrye sitplekmateriaal, verstelbare stuurwiel, kragstuur en ‘n lugreëling.

Dit is egter die Scorpio se kragtige dieselenjin wat beïndruk. Die Mahindra mHawk 2,179 cc (2.2 l) vier-silinder dieselenjin lewer 88 kW teen 4000 omwentelinge en het ‘n wringkrag van 280 Nm tussen1800-2800 omwentelinge. Dit is ‘n verbasende gesofistikeerde enjin wat maklik die voertuig na 150 km/u kan versnel en die werkverrigting vergelyk uitstekend met van die kompeteerders se enjins. Die amptelike gemiddelde brandstofsyfer is 8,8 liter per 100 km.

Die Scorpio Pik-Up modelle kom net met ‘n 5-spoed handratkas. As standaardtoerusting spog die Scorpio Pik-Up modelle met onder andere met ‘n ewenaarslot, ABS-remme en 16-duim wiele. Daar is egter ook die sogenaamde “Adventure”-weergawe wat met ‘n LA Sport voor- en agterstamper, ‘n snorkel, dak-rak (Slegs vir die dubbelkajuit) asook allooi-wiele toegerus is.

Die Mahindra Scorpio bakkies is gemaklike en goed toegeruste voertuie, wat nou na jare in Suid-Afrika bewys het dat hulle betroubaar is, maar die belangrikste is dat hulle regtig as werksbakkies, waarde vir geld bied. Veral die Scorpio Pik-Up Adventure-modelle is besonders goed toegerus met die nodige tegnologie om as ‘n betroubare bakkie sy werk op rowwe terrein te kan doen.

Die Scorpio Pic-Ups het ‘n driejaar/100 000 km waarborg en ‘n 3 jaar/60 000 km diensplan. Die enkelkajuit 4×2-weergawe kos R 254,995 en met die Adventure-pakket kos dit R 281,995. Die 4×4 weergawe kos R 263,995 en sy Adventure-weergawe R 296,995. Die dubbelkajuit 4×4 kos R 281,995 en sy Adventurer-weergawe R 311,995.