Breaking News

Mahindra Scorpio reg vir avontuur

Mahindra het pas ‘n beperkte model by sy Scorpio S 11-reeks gevoeg vir gesinne wat hul voertuie vir avontuurritte wil gebruik.

Die Scorpio S 11 Adventure , wat gebaseer is  op die 4×4-model en reeds by handelaars landwyd beskikbaar is,  word met ‘n aantal bykomende kenmerke toegerus. Die bekende mHawk 2,2 liter-turbo-diesel enjin wat in die Scoirpio S 11 gebruik word, lewer  103 kW teen 3 750 opm en wringkrag van 280 Nm teen tussen 1 800 en 2 800 opm . In die Adventure word hierdie enjin gekoppel aan ‘n handrat met ses gange en laestrek. Die bestuurder kan teen ‘n snelheid van 100 km/h of minder tussen 2H en 4H wissel met behulp van ‘n skakelaar tussen die voorste sitplekke.

Aan die binnekant word die Adventure toegerus met dieselfde kenmerke as die S 11, onder meer elektroniese klimaatbeheer, ‘n veelfunksie-stuurwiel, ‘n klankstelsel met Android Auto, Apple Car Play en stembeheer en ‘n raakskerm van sewe duim met ‘n trukamera.

Dit is egter aan die buitekant wat groot veranderinge aangebring is. Die Adventure spog met ‘n voorste staalstamper  wat vir veldry bedoel is en kan met ‘n wenas of domkrag toegerus word. Aan die agterkant is daar ‘n doelgeboude stamper met ‘n trekstang en sleephakke. Die swart allooiwiele wat spesiaal vir hierdie model ontwikkel is, word toegerus met 245/65R 17-veldrybande. Daar is ook Adventure-kentekens agter die agterdeure en op die agterklap. 

Die prys van die Scorpio S 11 Adenture, wat ‘n waarborg van vier jaar of 120 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km insluit, is R 416 999. 

%d bloggers like this: