Mahindra se kompakte KUV100 kry jeugdige model by.

0 Comments

Mahindra Suid-Afrika het pas die bekendstelling van ‘n nuwe toevoeging tot die KUV 100 NXT-reeks aangekondig.

Die KUV 100 NXT #DARE is gebaseer op die intreemodel in die reeks, die K2+, en sluit hom as ‘n permanente model tussen die K2+ en die K6+ aan. Volgens Mahindra Suid-Afrika is die #DARE is bekendgestel in reaksie op die gewildheid van die KUV 100 NXT onder jong kopers en diegene wat jonk van gees is.  Hy word toegerus met bykomende stilerings kenmerke en luukshede aan die binnekant maar hy bly ‘n bekostigbare keuse in die marksegment vir klein luikrûe. 

Mahindra het pas ‘n splinternuwe sentrum in Gauteng geopen waar standaard voertuie omgebou word; vier toegewyde  produksielyne sal die K2+ in ‘n #DARE verander. Dit is die volgende stap in Mahindra se belegging in Suid-Afrika wat sal help om dié vervaardiger nog verder in Suid-Afrika te vestig.  Hierdie sentrum sal verantwoordelik wees vir die S 10 Karoo-bakkies asook die #DARE.

Die #DARE bykomende kenmerke volg op die onlangse  veranderinge wat aan die KUV 100 NXT-reeks aangebring is, maar hy  spog met ‘n aantal unieke kenmerke. Die #DARE-kentekens op die agterdeure en die agterklap onderskei hom dadelik van sy stalmaats terwyl swart allooi-wiele standaard toerusting is.

Aan die binnekant word hy toegerus met ‘n Pioneer-klankstelsel wat met die eienaar se slimfoon saamwerk en toegang tot die kenmerke en musiek van die foon bied.  Verdere standaard kenmerke vir die #DARE is ‘n agterste pakkiesrak, spesiale matte en ‘n sentrale sluitstelsel. 

Soos die res van die KUV 100 NXT-reeks spog die #DARE met ABS-remme met elektroniese remverspreiding, twee lugsakke en ‘n immobiliseerder. Dit het gemaak dat die KUV 100 NXT ‘n vierstergradering in Indië se BNCAP-botsings toets-program behaal het.  Die jongste Kinsey-verslag het ook bevind dat die KUV 100 NXT een van die mees bekostigbare motors op die Suid-Afrikaanse mark is om in stand te hou. Hy het ook sy klas in die afgelope WesBank-brandstof besparingsrit gewen. 

Die #DARE is die gevolg van omvattende marknavorsing waarin die vervaardiger sekergemaak het dat dié model nie net aan die behoeftes van die teikenmark voldoen nie, maar ook dat dit relatief bekostigbaar is. Die kenmerke wat die KUV 100 NXT gewild gemaak het, word met die #DARE gekombineer met stilering wat by jonger kopers byval vind. 

Die #DARE is meganies presies dieselfde as die KUV 100 NXT K2+ ; sy drie-slinder enjin van 1,2 liter lewer  61 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 115 Nm teen 3 500 opm en ‘n vyfgang-handratkas is standaard toerusting.

Die prys van die #DARE is R 155 999, en sluit ‘n waarborg van altesaam  vyf jaar of 150 000 km in. Hierdie model is nou by Mahindra-handelaars landwyd beskikbaar.

 

Categories:
%d bloggers like this: