Mahindra Suid-Afrika het pas sy model reeks verder uitgebrei met die bekendstelling van die nuwe XUV 300, wat in Februarie 2019 sy internasionale buiging gemaak het.

Dié nuweling, gebaseer op die Mahindra-groep se X 100-platform, dra die groter XUV 500 se jagluiperd-geïnspireerde ontwerprigting oor na ‘n nuwe geslag voertuie oor. Terselfdetyd word twee nuwe enjins bekend gestel, tesame met ‘n spesifikasie-vlak wat nie maklik in die segment vir kompakte sportnutsvoertuie oortref kan word nie. Suid-Afrika is die eerste mark buite Indië waar die XUV 300 bekend gestel word.

Sedert sy bekend-stelling is 26 000 eenhede reeds in Indië verkoop; dit is omtrent die groottotaal van kompakte sportnuts-voertuie wat jaarliks in Suid-Afrika verkoop word. Volgens Rajesh Gupta, die uitvoerende hoof van Mahindra Suid-Afrika, kan die XUV 300 se sukses toegeskryf word aan ‘n kombinasie van stylvolle ontwerp, ‘n dinamiese bestuurs-ervaring en ‘n hoë spesifikasievlak en te oordeel aan die belangstelling wat reeds deur Suid-Afrikaanse motoriste getoon is, behoort dit een van die gewildste modelle in Mahindra se plaaslike reeks te word. Hy sê ook Suid-Afrikaanse motoriste hou van ‘n hoë sitposisie, opvallende stilering en veelsydigheid.

Die XUV 300 sal nuwe kopers na Mahindra se vertoonlokale lok en verder bydra tot die vestiging van Mahindra as ‘n huis-houdelike naam in Suid-Afrika. Die oprigting van ‘n vervaardigings-aanleg, die groeiende handelaars-netwerk en die veelsydige reeks produkte  het gemaak dat die mark Mahindra as ‘n ernstige mededinger begin beskou het.

Onder die stilerings-kenmerke wat die XUV 300 onderskei, is ‘n aggressief gestileerde sierrooster, dubbele LED-dagryligte op sommige modelle, diamantsnit-allooiwiele wat ook net op sekere modelle beskikbaar is, breë LED-agterligte, breë-skermstroke aan die onderkant van die bakwerk en swart C-pilare.

Twee nuwe enjins maak hul buiging in die XUV 300. Die turbo-petrol enjin van 1,2 liter het drie silinders wat 81 kW teen 5 000 opm en wringkrag van 200 Nm teen tussen 2 000 en 3 500 opm lewer. Die ander enjinkeuse is ‘n turbodiesel van 1,5 liter met vier silinders wat 85 kW teen 3 750 opm en wringkrag van 300 Nm teen tussen 1 500 en 2 500 opm lewer.  Alle modelle is voorwiel-aangedrewe en ‘n sesgang-handratkas is standaard toerusting.

Die binneruim van die XUV 300 is baie toegerus en ‘n uiters gevorderde inligting-en-vermaak-stelsel is standaard toerusting. Mahindra se Bluesense-toepassing hou die bestuurder se bestuurstyl dop en gee punte na aanleiding van ‘n aantal kriteria vir omgewings-vriendelikheid. Die bestuurder kan toegang hiertoe kry deur middel van ‘n selfoon-toepassing. Daar is ook ‘n keuse van verskillende bestuurs-modusse, wat deur ‘n knoppie onder die inligting-en-vermaakstelsel gekies kan word. Die beskikbare modusse is Normal, vir alledaagse gebruik, Comfort vir strandsverkeer en Sport, wat die stuurstelsel effens swaarder maak om ‘n meer genotvolle bestuurservaring te verseker.

Daar is twee spesifikasie-vlakke, naamlik W6 en W8. Die W6 se standaard kenmerke sluit die volgende in: lugversorging, elektriese vensters, swart materiaal-bekleedsel, sentrale sluiting, elektriese buitespieëls, navigasie met streeks land-kaarte, Bluetooth-verbinding en ‘n USB-kragpunt. Onder die bestuurs-hulpmiddels wat standaard toerusting is, is ‘n trukamera en ‘n banddrukmonitor. Die W6 spog ook met twee lugsakke, ABS-remme met elektroniese rem-verspreiding, skyfremme op al vier wiele, ISOFIX-hegpunte op die agtersitplekke, deure wat outomaties oopsluit in die geval van ‘n botsing, en ‘n hoog-gemonteerde derde remlig in die agterste drukvlerk.

Die W8 is selfs beter toegerus, en voeg nie net ‘n aantal luukshede by nie maar ook bykomende veiligheids-kenmerke. Daar is vyf bykomende lugsakke, elektroniese sabiliteits beheer, wegtrekhulp, gonsers wat al die insittendes waarsu op hul sitplekgordels vas te maak, en ‘n alarmstelsel. Onder die bykomende weeldekenmerke is daar diamantsnit-allooiwiele, LED-flikkerligte in die buitespieëls, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, ‘n instrumentepaneel wat volgens voorkeur verander kan word, spoedbeheer,  ‘n glassondak wat oopgeskuif en gekantel kan word, stembeheer en elektriese vensters wat met net een druk van ‘n knoppie heeltemal oop- en toegemaak kan word. Daar is ook dubbelsone klimaat-beheer en outomatiese kopligte. Die W8 se sitplekke is ook met kunsleer eerder as materiaal oorgetrek.

Die XUV 300 word gerugsteun deur ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km; ‘n volle onderhoudsplan van vyf jaar of 90 000km is teen ekstra koste beskikbaar.

Die pryse van die XUV 300-reeks lyk soos volg:

W6 1,2 petrol: R 249 999
W6 1,5 diesel: R 274 999
W8 1,2 petrol: R 304 999
W8 1,5 diesel: R 324 999

%d bloggers like this: