Breaking News

Mahindra stel goedkooopste outomatiese dubbelkajuit bekend

Mahindra het sy suksesvolle Pik Up-reeks pas vir die naderende feesseisoen uitgebrei met die bekendstelling van die S6-dubbelkajuit met ‘n outomatiese ratkas waarvan altesaam vier modelle beskikbaar sal wees.

Die intreemodel, die 4×2-dubbelkajuit, word die goedkoopste dubbelkajuit-bakkie met ‘n outomatiese ratkas op die Suid-Afrikaanse mark. Daar is ook ‘n 4×4-model en twee S6 Karoo-modelle, naamlik ‘n 4×2 en 4×4 beskikbaar. Volgens die maatskappy was daar ‘n groot vraag na ‘n outomatiese S6, en daarom het hy besluit om hierdie ratkas ook in goedkoper modelle beskikbaar te stel.

Soos met die duurder S 11-modelle, word die S6 aangedryf deur Mahindra se bekende mHawk-turbodiesel van 2,2 liter wat 103 kW teen 3 750 opm ern wringkrag van 320 Nm teen tussen 1 500 en 2 800 opm lewer. Die outomatiese ratkas wat aan die enjin gekoppel word, beskik oor ses gange, en bied ‘n handratfunksie; ratte kan sonder ‘n koppelaar gewissel word deur die ratkieser na regs te skuif en vorentoe en agtertoe te tik, na gelang van die rat wat geskakel moet word.  Die 4×4-modelle beskik oor ‘n knop langs die bestuurdersitplek waarmee die bestuurder van 4×2 na 4×4 hoë- of laestrek kan skakel. 

Die S6 word toegerus met ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding, twee lugsakke, stabiliteitsbeheer en ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke. Binne is daar ‘n klankstelsel met Bluetooth, USB- en AUX-kragpunte, spoedbeheer, elektries beheerde spieëls en vensters, armleunings vir die bestuurder en voorste passasier en ‘n hoogteverstelbare bestuurdersitplek. 

Vir dié wat ‘n meer sportiewe voorkoms verkies, is die S6 ook in ‘n Karoo 4×2 en 4×4 beskikbaar. Die Karoo verruil die gewone S6 se staalwiele vir allooiwiele, en die kajuitbeskermer maak plek vir ‘n sportstaaf. Ander kenmerke wat die Karoo van die gewone S6 onderskei, is kantstrepe en ‘n bosbreker.

Die pryse van die outomatiese S6-modelle , wat ‘n waarborg van vier jaar of 120 000 km insluit, asook ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km, lyk só:

Pik-Up S6 dubbelkajuit 4×2 Outomaties: R 378 999

Pik-Up S6 dubbelkajuit 4×4 Outomaties: R 412 499

Pik-Up S 6 dubbelkajuit Karoo 4×2 Outomaties: R 394 999

Pik-Up S6 dubbelkajuit Karoo 4×4 Outomaties: R 424 999

%d bloggers like this: