• Nuwe XUV500-reeks het nou as drie outomatiese modelle
  • Nuwe KUV100 NXT-intreevlakmodel met lugsakke en ABS is beskikbaar teen R134 999
  • Aantreklike finansieringspakkette

 

Mahindra Suid-Afrika het ten spyte van lae, algemene ekonomiese groei en algehele stagnering in die mark vir nuwe voertuie ’n indrukwekkende groeisyfer van 33% vir voertuigverkope in die eerste helfte van sy finansiële jaar aangeteken. Die maatskappy beoog nou om dié momentum met die bekendstelling van die nuwe XUV500 en die nuwe KUV100 NXT te verbeter.

Altwee modelle word met groter waarde en aantreklike finansierings-skemas bekend gestel. Die twee nuwelinge bied, teen R134 999 vir die KUV100 NXT en R299 999 vir die XUV500, ’n uiters bekostigbare toetrede tot die reeks.

“Ons beskou Suid-Afrika as ’n tweede tuiste vir Mahindra buite Indië. Ons is gretig om ons bedrywighede in Suid-Afrika te ontwikkel en sake na die res van die vasteland uit te brei met ons reeks Pik Up-modelle, wat plaaslik monteer word,” sê mnr Arvind Mathew, hoof van Mahindra se internasionale bedrywighede.

“Ons het verlede jaar met die bekendstelling van die nuwe Mahindra Pik Up na ’n hoër rat oorgeskakel. Dié reeks bied van die beste waarde vir geld op die mark en het tot ongekende groei in verkope van die hele modelreeks gelei. Mahindra is nou een van die vyf snelgroeiende handelsmerke in Suid-Afrika,” sê Mathew.

Rajesh Gupta, uitvoerende hoof van Mahindra Suid-Afrika, stel dit as volg: “Die nuwe XUV500 en KUV100 NXT bied aantreklike stilering, toerusting, verrigting, ’n groter verskeidenheid weergawes met bekostigbare finansieringsopsies wat hulle ’n ongekende waardeproposie maak. Die bekendstelling van hierdie modelle val saam met ons nuwe bemarkingsveldtog, wat op ons handelsmerk-etiek van ‘Altyd Gereed vir ’n Uitdaging’ geskoei is en die ware vennootskap met ons verbruikers in elke aspek van hul lewe benadruk.”

Die nuwe KUV100 NXT-reeks begin nou met die K2+, wat bekostigbaar teen R134 999 geposisioneer is terwyl die vlagskip-K8 meer toerusting bied soos ’n 7”-raakskerm vir die inligtingsvermaakstelsel. Al die KUV-modelle bied nuwe stilering en verfynde verrigting. En al die modelle in die Nuwe KUV100 NXT-reeks het twee lugsakke, sluitwerende remme en lugversorging as deel van hul standaard-toerusting.

Wat die nuwe KUV100 NXT betref, het Mahindra ook ’n makliker manier bekend gestel om ’n voertuig te koop en te finansier. Jy kan nou ’n Mahindra KUV100 NXT K2+ vir R2 199 per maand besit, wat voertuigversekering vir die eerste jaar en geen deposito nie insluit.

Boonop bied Mahindra, in samewerking met sy finansieringsvennoot, WesBank, ’n spesiale finansieringspakket vir gegradueerdes wat die KUV100 NXT wil aanskaf.

Die XUV500 W4 bied die meeste van die kenmerke van die XUV-reeks, waaronder die wegvoubare sewesitplekbinneruim, die kragtige mHawk-turbodieselenjin, lugversorging en elektries beheerde vensters teen ’n intreevlakprys van R299 999 wat ’n vyfjaar/150 000 km-waarborg en ’n vyfjaar/110 000 km-diensplan insluit.

Mahindra het ook ’n spesiale finansieringspakket vir hierdie reeks bekend gestel, wat die XUV500 W4 teen R4 999 per maand bied, tesame met ’n gewaarborgde toekomstige waarde ná vier jaar.

“Ons het in dié huidige moeilike ekonomiese klimaat na elke aspek van voertuigeienaarskap gekyk om die verbruiker ’n volledige pakket te bied. Die Nuwe KUV100 NXT bied ook ’n bekostigbare maandelikse paaiement en gratis versekering vir 12 maande terwyl die nuwe XUV500 se gewaarborgde toekomstige waarde algehele gemoedsrus bied,” sê Avinash Bapat, finansiële hoof van Mahindra Suid-Afrika.

Kopers het nou ’n keuse tussen die W6- outomatiese model met ’n intreeprys van R359 999 en die vlagskip-W8 wat nou deur die W10-model vervang word as topmodel, en wat met al die luukshede van die W8 asook bykomende toerusting soos ’n sondak en sleutellose toegang spog.

Die nuwe KUV100 NXT en die nuwe XUV500 is nou landswyd by Mahindra-handelaars beskikbaar.

Agtergrondinligting oor Mahindra-Groep

Die Mahindra-groep is ’n groep maatskappye van 19 miljard Amerikaanse dollar wat mense in staat stel om deur innoverende beweeglikheidsoplossings uit te styg, landelike voorspoed te bestuur, die lewe in stede te verbeter, nuwe ondernemings te koester en gemeenskappe te bevorder. Die korporasie beklee ’n leiersposisie in die nutsvoertuig-, inligtingstegnologie-, finansiëledienste- en vakansie-eienaarskapsektor in Indië en is die grootste trekkervervaardiger ter wêreld. Mahindra het ook ’n sterk teenwoordigheid in die landboubedryf, komponente, handelsvoertuie, konsultasiedienste, energie, nywerheidstoerusting, logistiek, eiendom, staal, lugvaart, verdediging en motorfietse. Mahindra, met sy hoofkantoor in Indië, het meer as 200 000 werknemers in 100 lande.

Agtergrondinligting oor Mahindra Suid-Afrika

Mahindra Suid-Afrika is ’n volfiliaal van Mahindra & Mahindra van Indië, wat in 1945 gestig is. Mahindra SA vier vanjaar sy 14de bestaansjaar in Suid-Afrika.

Die maatskappy het in al nege provinsies van Suid-Afrika handelaarskappe wat verkope, diens en onderdele hanteer. Die maatskappy het onlangs sy motormonteringsaanleg vir bakkies in Durban ingehuldig. Mahindra Suid-Afrika verskaf ook ’n wye reeks kragtige en brandstofdoeltreffende dieselenjins onder die “Powerol”-handelsmerk en het onlangs die Mahindra Earthmasters 4×4 TLBs bekend gestel.

Die maatskappy het ook reeds ander markte in lande suid van die Sahara betree en voer tans voertuie uit na Botswana, Zimbabwe, Zambië, Swaziland en Namibië.

Mahindra Suid-Afrika het sedert sy totstandkoming in Oktober 2004 beduidend in die land gegroei en het in dié tydperk ongeveer 40 000 voertuie verkoop.

 

%d bloggers like this: