Mahindra verbeter sy S6-bakkie

0 Comments

Mahindra Suid-Afrika het pas ‘n opgeknapte weergawe van sy Pik Up S6-enkel-kajuit bakkie bekendgestel.

Die S6 is die vlagskip-enkel-kajuit weergawe en, soos die S4-werkesel, is hy in ‘n 4×2- en ‘n 4×4-weergawe beskikbaar. Die S4 bied ‘n keuse tussen ‘n gewone laaibak en ‘n valkantbak. Volgens Rajesh Gupta, die uitvoerende hoof van Mahindra Suid-Afrika, is die opgeknapte S6 een van die eerste modelle wat baat vind by Mahindra se interne werkgroep, wat daarop gemik is om die betroubare , bekwame en bekostigbare voertuie te lewer waarvoor die maatskappy bekend is.

Aan die buitekant is die belangrikste nuwe kenmerk die nuwe korporatiewe sierrooster, wat vir die S 11-dubbel-kajuit bekendgestel is, en nou ook vir die S 10-dubbel-kajuit en S 6-enkel-kajuit aangebring word. Die nuwe rooster, met sewe gate en die Mahindra-kenteken, word ook op die nuwe Scorpio-sportnuts-voertuig angetref. Aan weerskante van die nuwe rooster is nuut ontwerpte kopligte met helder lense en oranje gloei-lampe vir die rigting-wysers. Daar is ook rigting-wysers in die lug-uitlate aan die kant van die voertuig. Die nuwe voorstamper bevat chroom-afwerking en geïntegreerde misligte. Die staaf wat die agterruit beskerm, is herontwerp om dit makliker te maak om ‘n vrag met toiue daaraan vas te maak. Hierdie staaf word aan die laaibak vasgebout en is standaard toerusting vir albei S6-modelle.  Die brandstof-vuldop kan nou van binne af oopgemaak word.

Binne is daar ook heelwat verbeterings, onder meer elektries verstelbare buitespieëls, rigting-wysers wat werk as die beheer-stokkie net een keer gedruk word en spoed beheer, wat nie eens standaard toerusting is vir bakkies wat heelwat duurder is nie. Daarby word die S6 toegerus met outomatiese ruitveërs en ‘n stop-en-rystelsel om brandstof te bespaar. Die klankstelsel werk met Bluetooth, asook USB- , AUX – en 12 volt-kragpunte. ABS-remme met elektroniese remkrag-verspeiding en twee lugsakke is standaard toerusting. Die S6-enkel-kajuit word ook nou toegerus met ‘n nuwe sleutel wat invou en ‘n geïntegreerde afstandbeheer bevat.

Die nuwe S6 behou die mHawk-turbo-diesel enjin van 2,2 liter wat 103 kW teen 3 750 opm en wringkrag van 320 Nm teen tussen 1 500 en 2 800 opm. Hierdie enjiin word aan ‘n sesgang-handratkas gekoppel. Die sleepvermoë van albei modelle is 2,5 ton.

Soos met die res van die Pik-Up-reeks word die S6 gerugsteun deur ‘n waarborg  en padbystand van vier jaar of 120 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km.

Die pryse van die nuwe S6-modelle, wat onmiddellik beskikbaar is, lyk só:
Mahindra Pik-Up S6 enkelkajuit 4×2: R 266 499

Mahindra Pik-Up S6 enkelkajuit 4×4: R 311 499

Categories:
%d bloggers like this: