Mahindra Suid-Afrika het pas die nuwe weergawe van sy vlagskip, die XUV 500, bekendgestel en ‘n nuwe topmodel by die reeks gevoeg.

Die ander nuwe toevoeging tot die reeks is die W6-outomaties, wat ‘n laer toegangspunt sal bied vir kopers wat op soek is na ‘n sportnutsvoertuig met ‘n outomatiese ratkas.  Die nuwe vlagskip is die W10, wat net met ‘n outomatiese ratkas beskikbaar sal wees.

Die XUV 500 is aanvanklik in 2012 in Suid-Afrika bekendgestel en danksy ‘n opgeknapte model wat in 2015 op die mark gekom het, het sy gewildheid verder toegeneem. Mahindra Suid-Afrika, glo dat die nuwe model, met herontwerpte voor- en agterkantstilering, asook bykomende toerusting, die aandag van bestaande klante en sportnuts-geesdriftiges sal trek.

Die XUV 500 W4, met sewe sitplekke en hul mHawk-turbodieselenjin, tree tot die mark toe teen ‘n prys van slegs R 299 999, en danksy ‘n nuwe finansieringsplan deur Mahindra Finance, kan die voertuig se toekomstige waarde na vier jaar gewaarborg word. Die W6-outomaties se prys is R 359 999, en dit maak hom een van die mees bekostigbare sportnutsvoertuie met sewe sitplekke en ‘n outomatiese ratkas.

Aan die voorkant van die XUV 500 is ‘n nuwe sierrooster met skerp gesnyde chroomhoogtepunte en ‘n groter chroom-omlysting.  Die herontwerpte kopligte bevat dagryligte aan die bopunt en chroomomlysting wat na die die nuwe misligte vloei. Die misligte is deel van die herontwerpte voorstamper wat ‘n onderste luguitlaat en ‘n verchroomde skermplaat bevat. Aan die kant is daar meer chroomdetail onder die deure terwyl die appliek van die D-pilaar herontwerp is.

Die agterkant bevat die grootste veranderinge; daar is splinternuwe horisontale agterligte wat in twee verdeel is en die vertikale agterligte van voorheen vervang. Dit het die ontwerpers in staat gestel om die agterklap te hervorm; dit sluit ‘n groter nommerplaatomhulsel met chroomdetail, ‘n geïntegreerde tru-kamera in sommige modelle in, asook nuwe weerkaaatsers wat die diagonale lyne van die agterligte volg.

Die binnekant van die XUV 500 bevat ‘n inligting-en-vermaakstelsel en lugversorging of klimaatbeheer afhangende van die model. In die W8 en W 10 is daar ook satellietnavigasie met stembeheer as standaardtoerusting.  Daar is ook Bluetooth-verbinding asook USB-, i-Pod- en AUX-sokke en in die W8 en W 10 is daar ook beeld- en videowerking. Die W 10 spog met ‘n sondak en sleutellose toegang met ‘n aansitterknop.

Die hele XUV 500-reeks is toegerus met elektries beheerde buitespieëls en vensters, ‘n kantelverstelbare stuurwiel met elektriese kragstuur, afstandbeheer vir die agterdeur, volg-my- en lei-my-kopligte en voubare sitplekke in die tweede en derde ry.

Al die modelle behalwe die W4 word toegerus met allooiwiele; en die W6-, W8- en W 10-modelle spog ook met spoedbeheer, ‘n gesprekspieël (wat in die W 10 verwyder word omdat hy met ‘n sondak toegerus is), reikafstandverstelling vir die stuurwiel, reënsensor-ruitveërs met outomatiese kopligte en ten volle outomatiese klimaatbeheer. Die W 8 en W 10 het ook ‘n raakskerm van sewe duim met stembeheer, laaipunte in die voorste twee rye, banddruk- en temperatuursensors vir al vier wiele, ‘n tru-kamera en voubare kantspieëls. Die W 10 spog ook met ‘n sondak en ‘n aansitterknop.

Die hele XUV 500-reeks word aangedryf deur Mahindra se mHawk-turbodieselenjin van 2,2 liter wat 103 kW teen 3 750 opm en wringkrag van 330 Nm teen tussen 1 600 en 2 800 opm lewer. Daarbenewens het Mahindra die XUV 500 se veerstelsel in samewerking met Lotus hesien om groter gemak en beter hantering te bied. Die opgradering van die veerstelsel en die verbetering in geraasdemping het gelei tot ‘n afname in geraas, vibrasie en grofheid.

Die hele reeks beskik oor twee lugsakke, maar die W6, W8 en W 10 is ook toegerus met kant- en gordynlugsakke. Al die modelle het ABS-remme met elektroniese remkragverdeling op al vier skyfremme terwyl die modelle van die W6 af boontoe ook met elektroniese stabiliteitsbeheer, asook opdraande-wegtrekhulp en afdraandebeheer toegerus is.

Pryse

Die pryse van die XUV 500-reeks, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000km en ‘n diensplan van vyf jaar of 100 000km asook padbystand vir die volle tydperk insluit, is soos volg:

Mahindra XUV500 W4 6-gang-handrat: R299 999 (BTW ingesluit)

Mahindra XUV500 W6 6-gang-outomaties: R359 999 (BTW ingesluit)

Mahindra XUV500 W8 6-gang-handrat: R374 999 (BTW ingesluit)

Mahindra XUV500 W8 6- gang-outomaties: R403 999 (BTW ingesluit)

Mahindra XUV500 W10 6- gang-outomaties: R419 999 (BTW ingesluit)

%d bloggers like this: