Deur Daantjie Badenhorst

 

Toe Mahindra in 2004 sy hertoetrede tot die Suid-Afrikaanse mark gemaak het na ‘n afwesigheid van ‘n paar jaar was die Scorpio-sportnutsvoertuig die eerste model wat bekendgestel is.

Drie jaar later is die bakkie-weergawe, bekend as die “Pik Up”, by die reeks gevoeg. Deur die jare is dié model voortdurend verbeter om meer mededingend te wees en nou, ‘n paar maande nadat die nuwe Scorpio bekendgestel is, het die nuwe Pik Up ook nou sy verskyning gemaak. Hoewel die nuwe model steeds op die Scorpio gebaseer is, is die Scorpio-naam nêrens te sien nie en word die Pik Up nou as ‘n reeks in eie reg bemark. Motor Plus het die S 10-dubbelkajuit met vierwielaandrywing getoets.

Die stilering van die nuwe model is ‘n vermenging van die nuwe Scorpio aan die voorkant en die die vorige Pik Up aan die agterkant. Die S 10 is die vlagskip van die reeks en is die enigste een wat met allooiwiele toegerus is. Die wiele is dieselfde grootte as die staalwiele met wieldoppe wat vir die enkelkajuitmodelle gebruik word, en die hele reeks word toegerus met 245/75 R 16-bande. Die nuwe vooraansig maak ‘n groot verskil aan die voertuig se voorkoms. Die stampers en elektries verstrelbare buitespieëls is dieselfde kleur as die bakwerk en die silwer kleur van die toetsvoertuig het uiters deftig vertoon. Die ander kleurkeuses vir die Pik Up-reeks is wit en metaalrooi.

Die turbo-aangejaagde  M Hawk-dieselenjin met ‘n verplasingsinhoud van 2 179cc kom net só uit die XUV 500, en die groot nuus wat die meganiese spesifikasies van die nuwe model betref, is die sesgang-handratkas wat nou standaardtoerusting vir die hele reeks is. Dié enjin lewer 103 kw teen 3 750 opm en wringkrag van 320 Nm teen tussen 1 500 en 2 800 opm.  Volgens die vervaardigers is die gemiddelde brandstofverbruik 7,9 liter per 100 km en dit maak ‘n reikafstand van omtrent 900 km met die 80 liter-brandstoftenk moontlik.  Die 4×4-model het ‘n laestrekratkas  en ‘n ewenaarslot.

Die groot verandering in die nuwe reeks is aan die binnekant, en hier is die nuwe model terselfdetyd ‘n  groot verrassing en ‘n effense teleurstelling. Aan die positiewe kant is die S 10 baie goed toegerus met standaard kenmerke soos Bluetooth-verbinding, ‘n inligting-en-vermaakstelsel met satellietnavigasie, ‘n veelfunksiestuurwiel met kontroles vir die radio, die telefoon en die spoedbeheer, ‘n USB-sok en ‘n 12-volt-kragpunt, ‘n verhitbare agterruit, ISOFIX-hegpunte op die agtersitplekke en ‘n sentrale sluitstelsel met sleutellose toegang. Die afstandbeheer is egter los van die sleutel en werk nie van baie ver af nie. Laasgenoemde is nie ‘n probleem nie omdat dit dalk gevaarlik kan wees as die voertuig oopgesluit word as ‘n mens nie naby is nie.  Die teleurstellings is dat daar min plek vir los goedjies tussen die sitplekke is en dat ‘n ritrekenaar in sy afwesigheid skitter. As ‘n mens eers daaraan gewoond geraak het, voel jy ‘n gemis as jy ‘n voertuig bestuur wat dit nie het nie. Die skakelaar vir die aandryfstelsel is tussen die sitplekke geleë. Daar is oorgenoeg kop- en beenruimte vir vyf insittendes en die treeplanke onder die deure maak toegang tot die voertuig maklik al sit ‘n mens hoog.

Op die oop pad is dit moeilik om te glo dat die Pik Up net ‘n enjin van  2,2 liter het, aangesien daar oorgenoeg krag en wringkrag is en dit nie ‘n probleem is om stadiger voertuie verby te steek nie. Natuurlik is dié bakkie nie gemaak om snelheidsrekords op te stel nie, maar dit is maklik om die snelheidsperk op die oop pad te handhaaf. Die ritgehalte is gemaklik, selfs sonder ‘n vrag, en die sleepkapasiteit van  2,5 ton is voldoende. Daar is egter een punt van kritiek, en dit is dat die draaisirkel groot is en dat dit soms moeilik is om die voertuig om verkeersirkels en soortgelyke plekke te bestuur. Soms moet jy meer as een keer probeer. Dit is ook soms moeilik om trurat te skakel en jy moet die rathefboom diep genoeg indruk om dit reg te kry. Daar is ‘n alarm wat jou waarsku wanneer jy in trurat is, en butendien is daar ‘n ratwyser op die instrumentepaneel.  Die sesde rat is natuurlik ‘n groot voordeel vir wanneer die voertuig op die oop pad bestuur word, en dit dra by tot verbeterde brandstofdoeltreffendheid. Die feit dat die toere ook laag gehou word, maak dat die voertuig ook stil is en nie soos ‘n tipiese dieselbakkie klink nie.

Die Pik Up-reeks begin by die S4, wat niks anders as ‘n werkesel is nie en wat regtig net in beperkte werksomgewings soos op plase of boupersele hoort. Die rede hiervoor is dat geen veiligheidskenmerke standaardtoerusting is nie, ook nie ‘n lugversorger, ‘n radio of ‘n sentrale sluitstelsel is nie. Hierdie model se voordeel is egter sy prys van R 187 995, maar dan moet ‘n mens doodseker wees dat sy veiligheidskenmerke voldoende is. Die S6 is die luukser enkelkajuiutmodel met kenmerke soos sluitweerremme met elektroniese remverspreiding, twee lugsakke, handbeheerde lugversorging, ‘n radio met ‘n CD-speler, materiaal- eerder as vinielbekleedsel, kleurgekodeerde stampers en elektries beheerde buitespieëls, elektriese vensters, ‘n sentrale sluitstelsel en ‘n USB-sok. Daar is twee S6-modelle en hul pryse is R 239 995 en R 284 995 vir die 4×2 en die 4×4 onderskeidelik.

Die S 10, die onderwerp van hierdie verslag, is ook in ‘n 4×2 en ‘n 4×4 beskikbaar. Onder die kenmerke wat standaardtoerusting vir hierdie twee modelle is, is Bluetooth-verbinding, ‘n inligting-en-vermaakstelsel met satellietnavigasie, ‘n veelfunksiestuurwiel, outomatiese ruitveërs en outomatiese klimaatbeheer. Daar is een kenmerk wat groot lof verdien, naamlik die aanwysings vir die verskillende funksies van die inligting-en-vermaakstelsel wat sommer op die skerm gesien kan word. Daarby is dit maklik om Bluetooth te koppel.

Dit is nie maklik om mededingers vir die Pik Up te identifiseer nie. Die  GWM Steed 6 Xspace se prys is R 329 900 en sal ‘n goeie alternatief vir die 4×2 model wees, maar ‘n diensplan is opsioneel en hy is nie met vierwiel-aandrywing beskikbaar nie. Die Foton Tunland se probleem is dat die Comfort 4×4-model, wat nie naastenby so goed soos die Pik Up toegerus is nie, teen R 389 995 verkoop. Die Granite-model se prys is R 329 995, maar hierdie model is nie in ‘n 4×4 beskikbaar nie. Nog ‘n moontlike mededinger is die JMC Vigus 2,4 TDCI  4WD SLX, teen R 375 900, maar die handelaarsnetwerk is nie so groot nie en hoewel dié vervaardiger se vragmotors goed verkoop, het die bakkies nog nie soveel aftrek gekry nie.  Die Nissan NP 300 Hardbody is al jare lank ‘n gunsteling, maar die 2,5 TDI dubbelkajuit, wat teen R351 900 verkoop, is net as ‘n 4×2 beskikbaar. Die vraag is ook of ‘n mens ‘n bakkie nodig het, want die Scorpio S 10, die sportnutsvoertuig waarop die Pik Up gebaseer is, is beskikbaar teen R 291 900 en R 312 000 vir die 4×2 en die 4×4 onderskeidelik. Die groot verskil tussen die Scorpio en die Pik Up, wat ook die Pik Up se prys in perspektief stel, is dat die Scorpio se enjin 88 kw teen 4 000 r/min en 280 Nm teen tussen 1 800 en 2 800 ontwikkel. Daarby het die Scorpio ‘n vyfgangratkas.

Die Mahindra Pik Up S 10 dubbelkajuit 4×4 verkoop teen R 354 995, R 30 000 meer as die 4×2-model en ‘n mens moet doodseker maak dat jy wel vierwielaandrywing nodig het. Dié model word gerugsteun deur ‘n waarborg van vier jaar of 120 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000km. Dienstussenposes is elke 20 000 km maar die voertuig moet die eerste keer gediens word as dit 10 000km afgelê het.  Die Pik Up se diensplan is ook langer as dié van die Scorpio, wat net vir drie jaar of 60 000km geldig is.

Die Mahindra Pik Up is baie goedkoper as die vergelykbare Toyota Hilux, Isuzu KB of Ford Ranger, en die vraag is of ‘n demonstrasiemodel van een van hierdie twee bakkies nie dalk beter is nie? Die antwoord is “Nee”, omdat weergawes van dié drie  bakkies teen hierdie prys nie die gemoedsrus van ‘n diensplan bied nie en dalk ook nie meer onder waarborg is nie.  Die ander kant van die saak is dat ‘n mens sekere tekortkominge moet aanvaar en sonder ‘n paar luukses moet klaarkom.  Die vorige Scorpio Pik Up, asook die Bolero, het hulself egter  al bewys as werkesels sonder fieterjasies. wat doen waarvoor hulle ontwerp is, goeie waarde vir geld bied en in staat is tot jare se betroubare diens. As jy nie een van die drie topverkopers kan bekostig nie, sal jy nie ‘n fout maak as jy die Mahindra Pik Up kies nie.

Lees meer oor die Pik Up…