Breaking News

Maserati Ghibili kry hibriede-krag

In 2013 het Maserati die klassieke Ghibili-naam laat herleef  met die bekendstelling van die hedendaagse Ghibili-sedan, en nou het dié Italiaanse vervaardiger ‘n nuwe weergawe by die reeks te voeg.

Die uitdaging met die ontwikkeling van die Ghibili Hybrid, die eerste Maserati met ‘n hibriede-kragbron, was om vorendag te kom met ‘n model wat, te midde van ‘n hibriede-kragbron, steeds getrou is aan Maserati se kernwaardes. Die maatskappy beskou die Ghibili Hybrid as die beste moontlike hibriede-motor , en dié nuweling beskik oor dieselfde enjinklank wat ‘n kenmerk van ander Maserati-modelle is.  Dit maak dat die Ghibili meer mededingend is en beter aan die vereistes van die hedendaagse mark kan voldoen,

Die uitstaande kenmerk van die Ghibili is die blou kleur wat vir alle Maserati-modelle met hibriede-enjins gebruik sal word. Dit kom voor op die luguitlate aan die kante van die motor, die remknypers en die Maserati-kenteken in die C-pilare agter die agterdeure.  Die sitplekke bevat ook blou stikwerk. Die Hybrid beskik verder oor nuwe stilerings-kenmerke wat vir die hele Ghilbili-reeks gebruik sal word. Die sierrooster beskik oor nuwe stawe wat die vurk wat gebruik word om sekere musiekinstrumente mee te stem, verteenwoordig.  Die agterlig-samestelling is splinternuut, en die boemerang-ontwerp kom van die Alfieri en die 3200 GT-koepee. 

Die vindingryke kragbron beskik oor ‘n gewone twee-liter binne-brand enjin met vier silinders en ‘n turbo-aanjaer, asook ‘n 48 V -alternator, ‘n bykomende elektriese drukaanjaer (e Booster) wat deur ‘n battery ondersteun word. Hierdie tipe kragbron is uniek in hierdie segment en is die eerste van ‘n reeks enjins wat daarop gemik is om die beste werkverrigting, doeltreffendheid en bestuursgenot moontlik te bied. Die battery is agter gemonteer; dit help om massa-verspreiding te verbeter.  Die Hybrid weeg 80 kg minder as die diesel model. Die enjin lewer 246 kW teen 5 750 opm en wringkrag van 450 Nm teen 4 000 opm.  Dit maak dat die Ghibili Hybrid ‘n top snelheid van 255 km/h kan bereik en binne 5,7 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel.

Die Maserati Connect-stelsel maak sy debuut in die Ghibili Hybrid. Dit maak ‘n konstante verbinding met die motor moontlik en verbeter dienste wat vir die bestuurder beskikbaar is. Nie net word die motor se programmatuur gedurig bygewerk nie, die stelsel bespeur die motor se toestand deurentyd en stel die motor se veiligheids-kenmerke in werking in ‘n noodgeval. Daarby word die Ghibili Hybrid ook toegerus met die Maserati Intelligent Assistant-inligting-en-vermaakstelsel, gebaseer op digitale insette van Android Automotive. Dit maak  ‘n vindingryke gebruikers-ervaring wat ten volle aangepas kan word om by die bestuurder se behoeftes aan te pas, moontlik. Die stelsel se hoëdefinisieskerm wat nou 10,1 duim, pleks van die vorige 8,4 duim, groot is, beskik oor nuwe grafika wat uiters gebruikers-vriendelik is. Daar is ook ‘n nuwe digitale instrumentepaneel.

Die Ghibili Hybrid is Maserati se eerste tree in die elektrifisering van die hele reeks. Die nuwe Gran Turismo en Gran Cabrio sal die maatskappy se eerste ten volle elektriese modelle wees, en hulle sal in 2021 bekendgestel word.

%d bloggers like this: