Mazda 2 opgeknap vir 2020

0 Comments

Mazda Suid-Afrika het 2019 afgesluit deur ‘n opgeknapte Mazda2-reeks vir 2020 bekend te stel.

Soos voorheen, sal die reeks bestaan uit die Active, die Dynamic, die Individual en die Hazumi, maar al die modelle sal voortaan toegerus word met dieselfde 1,5 liter petrol-enjin met vier silinders wat 82 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 145 Nm teen 4 000 opm lewer.  Die diesel-enjin wat voorheen vir die Hazumi beskikbaar was, is aan die mark onttrek. Die hele reeks behalwe die Hazumi het ‘n handratkas met ses gange beskikbaar. Die Dynamic en Individual is ook met ‘n outomatiese ratkas met ses gange, wat standaard toerusting vir die Hazumi is, beskikbaar. Die Hazumi word ook met rat-spane agter die stuurwiel toegerus.

Die Individual Plus is ook nie meer in die nuwe Mazda2-reeks beskikbaar nie.

Die hele reeks sal voortaan toegerus word met ‘n hand-vrye inligting-en-vermaakstelsel met Bluetooth en alle modelle behalwe die Active kry Android Auto, Apple Car Play, asook stabiliteits-beheer. Ligdiode-kopligte sal voortaan standaard toerusting vir al die modelle wees; die Dynamic word toegerus met kant-en gordyn-lugsakke, asook ‘n truspieël wat outomaties domp. Die Individual kry ook buitespieëls wat ingevou kan word, ‘n tru-kamera en agterste parkeer-sensors terwyl die Hazumi toegerus word met ‘n sensor wat die bestuurder waarsku as daar verkeer agter die voertuig beweeg. Die voorste sitplekke is herontwerp om tamheid teen te werk en die Individual en Hazumi se sitplekke word met  leer-en-materiaal-bekleedsel afgewerk. Hierdie twee modelle spog ook met chroomstroke op die voor- en agterstampers en ‘n haaivin-lugdraad.

Die Active het onder meer die volgende kenmerke as standaard toerusting: handbeheerde lugversorging, ‘n ritrekenaar met vier funksies, ‘n veelfunksie-stuurwiel met kontroles vir die klankstelsel, twee USB-kragpunte voor in die kajuit, elektriese vensters voor en agter en ABS-remme.

Die Dynamic voeg onder meer die volgende kenmerke by: 15-duim allooi-wiele, ‘n beheerknop in die middel van die konsole waarmee toegang tot die funksies op die sewe-duimskerm verkry kan word,  ‘n klankstelsel met ses luidsprekers, en ‘n rathefboomknop en stuurwiel wat met leer oorgetrek is.

Die Individual kry outomatiese kopligte, allooiwiele van 16 duim, ‘n haaivinlugdraag, leer-en-materiaal-bekleedsel, ‘n trukamera en parkeersensors.

Die Hazumi is die vlagskip van die reeks en word verder ook toegerus met die waarskuwing van verkeer agter die voertuig, baandwaal-waarskuwing, ‘n blindekol-monitor, satelliet-navigasie en ‘n uitleespaneel tussen die voorruit en die instrumentepaneel . 

Soos voorheen word die Active toegerus met  15-duimstaal wiele met wieldoppe. Die Dynamic kry metaalsilwer 15-duim allooi-wiele en die Individual en Hazumi se 16-duim allooiwiele het ‘n hoëglans afwerking. 

Die pryse van die Mazda 2-reeks, wat waarborg, padbystand en diensplan van drie jaar, ongeag die motor se kilometerlesing en ‘n vyfjaar waarborg teen korrosie, insluit, lyk as volg:

1,5 Active:  R 254 300

1,5 Dynamic: R 278 100
1,5 Dynamic Outomaties: R 294 100’

1,5 Individual:  R 302 400

1,5 Individual Outomaties: R 318 400

1.5 Hazumi Outomaties: R 342 200

Categories:
%d bloggers like this: