Breaking News

Mazda knap sy CX-5 op

Die Mazda CX-5 is vir die eerste keer in 2011 internasionaal bekendgestel en in 2017 het die tweede geslag op die mark gekom.

Nadat omtrent drie miljoen eenhede tot dusver wêreldwyd verkoop is, het Mazda pas ‘n opgeknapt weergawe van die tweedegeslag CX-5 op die mark gebring. Die belangrikste stileringskenmerke van die nuwe model is herontwerpe stampers voor en agter en nuwe kop-en agterligsamestellings. Albei ligsamestellings bevat ‘n paar horisontaal gespasieerde reghoekige ligdiode-ligte wat vir ‘n opvallende voorkoms sorg en die kopligte beskik oor twintig diodes vir helderder beligting en verhoogde sigbaarheid. Nuut ontwerpte allooiwiele is standaard toerusting vir die hele reeks.

Die binneruim van die nuwe CX-5 beskik oor ‘n nuwe ontwerp vir die sitplekke en die hoogteverskil tussen die bagasiebakvloer en die drumpel van die agterklap is uitgeskakel. Dit vergemaklik die in- en uitlaai van veral groot goerede,

Drie enjin keuses is beskikbaar, naamlik twee petrolenjins van twee en 2,5 liter en ‘n 2,2 liter-turbodiesel enjin. Die tweeliter-petrol enjin word gebruik vir die Active, Dynamic en Carbon Edition modelle, en word gekoppel aan ‘n hand- of outomatiese ratkas met ses gange elk. Hierdie enjin lewer 121 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 213 Nm teen 4 000 opm. Die 2,5 liter-petrol enjin word net vir die Individual gebruik, en anders as die goedkoper modelle, is permanente vierwielaandrywing standaard toerusting. Hierdie enjin is net met ‘n sesgang-outomatiese ratkas beskikbaar en lewer 143 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 258 Nm teen 4 000 opm. Die enigste model met die turbodiesel enjin is die Akera, wat ook vierwielaandrywing as standaard toerusting het. Sy enjin word ook aan ‘n outomatiese sesgangratkas gekoppel en lewer 140 kW teen 4 500 opm en wringkrag van 450 Nm teen 2 000 opm. 

Die Active is die intreemodel van die reeks en die enigste een wat met die handratkas beskikbaar is. Sy standaard-kenmerke sluit die volgende in: outomatiese ligdiode-kopligte, verhitbare buitespieëls, 17-duim allooiwiele, ‘n MZD Connect-klankstelsel met ‘n CD-speler, Android Auto en Apple Car Play, twee USB-kragpunte, ‘n agtduimskerm en ‘n beheerknop tussen die sitplekke, materiaalsitplekke, ‘n veelfunksiestuurwiel, outomatiese dubbelsone-klimaatbeheer, ‘n leerstuurwiel en -ratkieserknop en sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie.

Die Dynamic is die volgende model in die reeks, ook met die tweeliter-petrol enjin maar net die outomatiese ratkas. Sy bykomende kenmerke sluit die volgende in: swart leerbekleedsel, ‘n elektries verstelbare bestuurdersitplek, ratspane agter die stuurwiel, buitespieëls wat met die druk van ‘n knoppie ingevou kan word en dagryligte.

Die Carbon Edition spog met ‘n meer sportiewe voorkoms en beskik oor die volgende kenmerke: swart 19-duim allooiwiele, ‘n Bosé-klankstelsel met tien luidsprekers, elektries verstelbare sitplekke vir die bestuurder en voorste passasier met agt verstellings, aanpasbare ligdiodekopligte, ‘n geïntegreerde navigasiestelsel, ‘n elektries beheerde agterklap, glansswart buitespieëls en ‘n Carbon Edition-pakket vir die binneruim wat uit sitplekke met kunsleer- en-suédebekleedsel, swart panele vir die paneelbord en deure en rooi stikwerk vir die stuurwiel, ratkieserknop, knieskerms, sitplekke en die middelkonsole bestaan. Die Carbon Edition is net beskikbaar in pêrelwit, rooi, silwer, swart en twee skakerings van grys. 

Die enigste model met die 2,5 liter-enjin en vierwiel-aandrywing is die Individual, wat toegerus word met ‘n 360-grade kamera, ‘n sondak wat oopgeskuif en gekantel kan word en swart leerbekleedsel. 

Net een dieselmodel is beskikbaar, naamlik die Akera, wat ook vierwielaandrywing as standaard toerusting het. Die bykomende kenmerke waarmee die Akera toegerus word, is rooi stikwerk op dieselfde plekke aan die binnekant as die Carbon Edition, ‘n onderste stamper wat in glansswart afgewerk word, swart afwerking vir die modderskerms, deurpilare en buitespieëls en rooi aksente in die sierrooster.

Alle modelle word met die volgende veiligheidskenmerke toegerus: voorste-, kant- en gordynlugsakke, ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en noodremhulp, stabiliteitsbeheer, wegtrekhulp, ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke en ‘n trukamera. Die Carbon Edition se bykomende kenmerke is ‘n blindekolmonitor, ‘n agterste dwarsverkeermonitor, baanhouhulp, ‘n stelsel wat moegheid by die bestuurder bespeur, remhulp in swaar verkeer, ‘n voorbots-waarskuwing wat die remme aanslaan as daar ‘n hindernis voor die motor bespeur word, asook parkeersensors voor en agter. Die Individual en Akera word ook met ‘n 360 grade-kamera toegerus.

Die pryse van die verskillende modelle , wat ‘n waarborg en diensplan van drie jaar, ongeag die voertuig se kilometerlesing insluit, lyk só:

2,0 Active-handrat: R 485 800

2,0 Active outomaties: R 500 300

2,0 Dynamic: R 532 400

2,0 Carbon Edition: R 603 500

2,5 Individual AWD:  R 687 300’

2,2  DE Akera AWD : R 721 100

%d bloggers like this: