Sedert sy aanvanklike bekendstelling in 2012 het die CX-5 die topverkoper in Mazda se plaaslike modelreeks geword.

Die CX-5, die model waarmee Mazda se SkyActiv-tegnologie bekendgestel is, was in 120 lande wêreldwyd beskikbaar en het  het vir ‘n kwart van Mazda se totale verkoopsyfers gesorg. In Suid-Afrika is daar omtrent 350 eenhede maandeliks verkoop.

Dit het egter nou tyd geword vir ‘n nuwe model, en die jongste weergawe is pas hier bekendgestel.  Die nuwe weergawe is heeltemal herontwerp en stel nuwe standaarde vir brandstofverbruik, bestuursgenot en veligheid.

Daar is drie viersilinderenjins beskikbaar, naamlik ‘n 2,0- en 2,5 liter-petrolenjin en ‘n 2,2 liter turboaangejaagde dieselenjin.

Die tweeliter petrolenjin is met ‘n hand- of outomatiese ratkas beskikbaar terwyl die 2,5 liter petrol en dieselenjins ‘n outomatiese ratkas kry.

Die 2,0 Active het voorwielaandrywing en is beskikbaar met die hand- of outomatiese ratkas. Die viersilinderenjin waarmee hierdie model toegerus is, lewer 121 kw en ‘n wringkrag van 210 Nm. Hierdie modelle is toegerus met ‘n trukamera, ‘n  klimaatbeheerstelsel met luguitlate vir die agterste insittendes, ‘n aansitknoppie met sleutellose toegang, ‘n MZD Connet-inligting-en-vermaakstelsel met ‘n seweduim-vertoonskerm, ‘n elektroniese parkeerrem, deure wat outomaties sluit as die motor wegtrek, outomatiese kopligte en ruitveërs, ISOFIX-hegpunte vir die agterste sitplekke, en ‘n USB-sok vir die agterste armleuning. Hierdie model is ook beskikbaar met die 2, 2 liter dieselenjin wat 129 kw en wringkrag van 420 Nm lewer.

Die volgende spesifikasievlak is die Dymanic, wat net met die 2,0 liter petrolenjin en die outomatiese ratklas beskikbaar is. Hierdie model bied volkome sleutellose toegang, allooiwiele van 19 duim, pleks van 17 duim, leersitplekke, elektriese lendesteun vir die bestuurder se sitplek en spieëls wat outomaties wegvou.

Die Individual  is die enigste model wat toegerus is met die 2,5 liter petrol-enjin, wat 143 kW en wringkrag van 257 Nm lewer. Hierdie model het ‘n Bosé-klankstelsel met tien luidsprekers, parkeersensors voor en agter, ‘n blindekol-monitor, ‘n stelsel wat jou waarsku wanneer jy uit jou baan beweeg, satellietnavigasie, ‘n klein vertoonpaneel voor die bestuurder se oë teen die windskerm, en ‘n elektries beheerde agterklap. Die enigste model met vierwielaandrywing is die Akera, wat met die dieselenjin en die outomatiese ratkas toegerus en verder dieselfde standaardkermnerke as die Individual het.

Die hele CX-5-reeks word gerugsteun deur ‘n diensplan wat vir drie jaar geldig is ongeag die motor se kilometerafstand en ‘n waarborg vir presies dieselfde tydperk. Daarby is daar ook ‘n  waarborg teen korrosie wat vyf jaar lank geldig is, asook padbystand van drie jaar.

Die pryse van die nuwe CX-5-reeks wissel van R 379 900 vir die Active-handrat tot R 557 500 vir die Akera.

2.0L Active 4X2 Handrat – R379,900 (BTW ingesluit)

2.0L Active 4X2 Auto – R391,900 (BTW ingesluit)

2.2L DE Active Auto 4X2 – R459,400 (BTW ingesluit)

2.0L Dynamic 4X2 Handrat – R404,900 (BTW ingesluit)

2.0L Dynamic 4X2 Auto – R416,900 (BTW ingesluit)

2.5L Individual Auto 4X2 – R491,900 (BTW ingesluit)

2.2L DE Akera AWD Auto – R557,500 (BTW ingesluit)

%d bloggers like this: