Die nuwe geslag Mazda BT 50-bakkies wat in 2012 in Suid-Afrika bekendgestel is, het die konvensionele werkesel-beeld van ‘n bakkie uitgedaag en is dit as ‘n aktiewe leefstylbakkie bemark. Die gedagte was dat hierdie bakkie nie as ‘n werkesel sou gebruik word nie, maar dat dit ‘n leefstylvoertuig sou wees.

Nou het dié bakkie ‘n vernuwingskuur verkry en die nuwe model is weereens gemik op mense wat die bakkie eerder as ‘n passasiersvoertuig sal gebruik met die laaibak as ‘n waardetoevoeging om visstokke of fietse te vervoer.

Onder die nuwe kenmerke is ‘n herontwerpte voorkant, nuwe kanttrappe en agterligsamestellings en 16- of 17-duim allooiwiele. Daar is ‘n gevoel van hoë gehalte aan die binnekant met die toevoeging van Bluetooth en kontroles op die stuurwiel van die SLX-modelle af boontoe.

Die luukser SLE-modelle kry ook nou ‘n tru-kamera, ‘n trusipeël wat outomaties verdof wanneer dit nodig is en ‘n elektriese verstelling vir die bestuurdersitplek.

Die nuwe BT 50 is nog net in ‘n dubbelkajuit beskikaar en daar is nog geen aankondiging gedoen oor die toevoeging van enkelkajuit of Freestyle Cab (met een en ‘n halwe kajuit) nie. Die reeks bestaan tot dusver uit die 2,2 SLE 4×2 handrat, die 3,2 SLE 4×4 handrat, die 3,2 SLE  4×4 outomaties, asook twee nuwe toevoegings tot die reeks; die 2,2 SLX 4×2 handrat en die 2,2 SLE 4×2 outomaties. Die SLX het onder meer ‘n geïntegreerde klankstelsel met ses  luidsprekers, materiaalsitplekke, lugversorging, elektriese vensters voor, ‘n veelfunksiestuurwiel, elektries verstelbare en voubare truspieëls, voorste misligte en spoedbeheer as standaardtoerusting. Die SLE voeg ‘n aantal standaardkenmerke by, onder meer klimaatbeheer, 17-duim allooiwiele, ‘n tru-kamera,  parkeersensors, outomatiese ruitveërs, leerbekleedsel, elektriese vensters voor en agter en ‘n klankstelsel van ‘n hoër gehalte in. Hierdie modelle het ook stelsels wat wgtrek teen opdraandes vergemaklik, keer dat ‘n sleepwa of woonwa wat gesleep word, swaai en ‘n veerstelsel wat by die vrag aanpas.

Die hele reeks word van Thailand af ingevoer en sewe verskillende bakkleure is beskikbaar.

Soos voorheen is die BT 50 met twee turbo-aangejaadge dieselenjins beskikbaar. Die 2,2 liter lewer 110 kW teen 3 700 omwentelinge en 375 Nm teen tussen  1 500 en 2 500 omwentelinge. Die gemiddelde brandstofverbruik vir modelle met hierdie enjin is 7.6 liter per 100 km. Hierdie enjin is op die SLX- en SLE-modelle beskikbaar.

Die 3,2 liter-enjin is net beskikbaar met vierwielaandrywing en ‘n hand- of outomatiese ratkas met ses gange. Dié enjin lewer 147 kW teen 3 000 omwentelinge en 470 Nm teen tussen 1 750 en 2 500 omwentelinge, en die gemiddelde brandstofverbruik is 9,3 en 9,7 liter per 100 km vir die handrat- en outomatiese model onderskeidelik.

Die Mazda Care-plan vir die BT 50-reeks is presies dieselfde as dié van Mazda se passasiersmotors, naamlik ‘n waarborg, diensplan en padbystand wat drie jaar lank geldig is, ongeag die voertuig se kilometerafstand. Vir bykomende gemoedsrus is ‘n klantedienswaarborg ook beskikbaar op herstelwerk waarop daar vooraf ooreengekom is.

Die pryse van die nuwe reeks wissel van R 441 600 vir die 2,2 SLX 4×2-handrat tot R 555 700 vir die 3,2 SLE 4×4-outomaties.