Nadat meer as 12 000 eenhede van die sesde geslag Mazda 3’s in Suid-Afrika verkoop is, is die sewende geslag in Julie 2019 vrygestel

Soos voorheen is die 2019 Mazda 3 as ‘n luikrug en ‘n sedan beskikbaar, maar hoewel hulle ‘n naam deel, beskik hulle oor uiteenlopende karaktertrekke.

Die luikrug is meer dinamies en die sedan meer elegant. Die sedan beskik oor ‘n bakwerk wat horisontaal vloei en sy breë en lae voorkoms beklemtoon.

Daarteenoor  beskik die luikrug oor ‘n daklyn wat die indruk van spoed skep en ‘n dinamiese beeld uitstraal en ‘n nuwe kleur, Ploymetal-grys, is net vir die luikrug beskikbaar.

Die herontwerpte binnekant van die Mazda 3-reeks het ‘n nuwe middelkonsole wat ‘n beheerknop vir die inligting-en-vermaakstelsel bevat. Daar is twee kleure vir die binneruim beskikbaar. Die hele reeks het swart bekleedsel as standaardtoerusting, maar wynrooi leerbekleedsel is net vir die luikrug teen ekstra koste beskikbaar. Die MZD Connect-stelsel, met Android Auto en Apple Car Play en ‘n skerm van 8,8 duim, is standaardtoerusting vir die hele reeks, asook ‘n uitleespaneel tussen die instrumentepaneel en die voorruit.  Die TFT-instrumentepaneel van sewe duim wat in sommige modelle beskikbaar is,  kan volgens die bestuurder se voorkeure ingestel word, en die hele reeks word toegerus met sleutellose toegang, ‘n aansitknoppie, Bluteooth-verbinding, outomatiese kopligte en ruitveërs, ‘n elektroniese parkeerrem, knielugsakke en twee USB-kragpunte.

Daar is twee enjin en ratkas-keuses. Die meeste modelle word toegerus met ‘n 1,5 liter-viersilinderenjin met Skyactiv-tegnologie. Hierdie enjin het ‘n kraglewering van 88 kW teen 6 000 opm en ‘n wringkrag van 153 Nm teen 4 000 opm en bied ‘n keuse tussen ‘n hand-of outomatiese ratkas met ses gange elk. Die ander enjinkeuse is ‘n 2 liter viersilinder-enjin wat ‘n kraglewering van 121 kW het teen 6 000 opm en’n  wringkrag van 213 Nm teen 4 000 opm lewer Die 2 liter-modelle is net met ‘n outomatiese sesgangratkas beskikbaar .

Daar is vier spesifikasievlakke beskikbaar en drie van hulle word met die 1,5 liter-enjin toegerus.  Die intreevlak model is die Active-sedan en luikrug wat onder meer met die volgende kenmerke toegerus is: ‘n klankstelsel met agt luidsprekers,  outomatiese ligdiode-kopligte, allooiwiele van 16 duim, lugsakke voor, aan die kante tesame met knie-en gordynlugsakke, die MZD Connect-stelsel, handbeheerde lugversorging, deure wat outomaties sluit wanneer die voertuig wegtrek, ‘n veelfunksiestuurwiel, voertuigstabiliteitsbeheer, ABS-remme met elekrtoniese remverspreiding en noodremhulp, asook wegtrekhulp.

Die volgende spesifikasievlak is die Dynamic, wat die volgende kenmerke byvoeg: ‘n stuurwiel en rathefboomknop wat met leer oorgetrek is, spoedbeheer, ‘n agterste armleuning met bekerhouers, agterste parkeersensors, en ‘n truspieël wat outomaties domp.

Die Individual is die laaste spesifikasievlak wat met die 1,5 liter-enjin toegerus word, en beskik oor verskeie bykomende kenmerke, naamlik gevorderde sleutellose toegang, buitespieëls wat outomaties wegvou, outomatiese lugversorging, ‘n raamlose trusipeël aan die binnekant, ‘n seweduim-TFT-instrumentepaneel wat volgens die bestuurder se behoeftes aangepas kan word, swart leersitplekke, met die keuse van wynrooi bekleedsel vir die luikrug, ‘n elektries verstelbare bestuurdersitplek met tien verstellings, en 18-duim allooiwiele met grys afwerking vir die luikrug.

Die Astina is die vlagskip in die reeks en die enigste spesifikasievlak wat met die tweeliterenjin toegerus word. Benewens die kragtiger enjin beskik hierdie model oor die volgende bykomende kenmerke: dagryligte, kombinasie-agterligte, aanpasbare ligdiode-kopligte, ‘n blindekolmonitor, agterverkeer-waarskuwing, ‘n tru-kamera, satellietnavigasie, luguitlate vir die agterste insittendes, ratspane agter die stuurwiel en ‘n skuif-en-kantelsondak.

Die pryse van die Mazda 3-reeks is as volg:

1,5 Active-sedan: R 357 000

1,5 Active-luikrug: R 359 000

1,5 Dynamic-sedan: R 371 300

1,5 Dynamic-luikrug: R 374 200

1,5 Individual-sedan: R 384 100

1,5 Individual-luikrug: R 387 000

2,0 Astina-sedan: R 431 600

2,0 Astina-luikrug: R 434 700

Bogenoemde pryse sluit  ‘n waarborg, diensplan en padbystand, elk drie jaar lank geldig – ongeag die motor se kilometerafstand – asook ‘n vyfjaarwaarborg teen korrosie in.

%d bloggers like this: